Behoort ‘n Christen Kersfees te vier?
Daar is geen Bybelse bevelskrif, voorbeeld of voorskrif vir die herdenking van Christus se geboorte as ‘n dag van godsdienstige viering nie. Dit wil nie sê dat ons nie Christus se geboorte en die betekenis daarvan moet onthou nie, maar vir godsdienstige herdenkinge of vieringe behoef ons Bybelse gebod of voorbeeld! Die waarheid is dit – die vroeë kerk het nie Christus se geboorte gevier nie, maar sodanige viering het net die kerk binnegekom met die kerstening van heidense godsdiensgebruike toe Katolisisme in die vierde eeu n.C. deur Konstantyn staatsgodsdiens gemaak is. Aangesien die Woord van God nie die tradisie van Kersfees staaf nie, moet en behoort ‘n Christen se gewete nie daarmee gebonde te wees nie.
Die volgende hoofpunte beskryf die oorsprong van Kersfees (met die verwante heidense gebruike, simbole en terminologie); deel uitvoerig mee die Skriftuurlike ondersteuning teen die viering van Kersfees; poog om te wys dat om Kersfees te vier die gees van elkeen van die tien gebooie skend; poog om aan te toon dat om Kersfees te vier nie ressorteer onder die gebied van Christelike vryheid nie; en poog om agt van die vernaamste rasionalisasies [verstandelike uitleggings] te ontmasker wat Christene verkondig om Kersfees te vier.
I. DIE OORSPRONG VAN KERSFEES
A. ‘n Lang Ontwikkelingsgang – Kersfeesgebruike is ‘n ontwikkeling vanaf tye lank voor die Christelike tydperk – dit is afkomstig uit seisoens-, heidense-, godsdienstige- en volksgebruike – wat verskans was in legendes en tradisies. Hulle jaargety verbintenis met die heidense feeste van die winter se sonstilstandspunt, verbind hulle met antieke tye, toe baie van die aarde se bewoners sonaanbidders was. Soos wat die bygelowige heidene waargeneem het dat die son geleidelik suidwaarts beweeg in die uitspansel en die dae korter word, het hulle geglo dat die son besig was om te vertrek om nie weer terug te keer nie. Om die son aan te moedig om noordwaarts terug te keer (d.w.s., om die winter songod sterkte te gee en om hom weer tot die lewe terug te bring), was die songode met fyn uitgewerkte seremonies aanbid, wat ingesluit het die aansteek van groot vreugdevure, versiering met immergroen plante soos huls, klimop [‘ivy’] en mistel, en die maak van afbeeldinge van somervoëls as versiersels in die wonings. Die wintersonstilstand dan was die kortste dag van die jaar, wanneer die son oënskynlik in die suidelike hemelruim stilgestaan het. Met die aanskouing van die verlangsaming van die son se suidwaartse beweging en dat dit dan tot stilstand kom, het die heidene geglo dat die petisie geslaagd was wat hulle daaraan gerig het. ‘n Tyd van onbeteuelde vreugde het gevolglik losgebars, met joligheid, drinkery en vraatsugtige feeste. Wanneer die heidene daarna waargeneem het dat die son weer noordwaarts beweeg, en hulle ‘n week later in staat was om te kon vasstel dat die dae langer word, is ‘n nuwe jaar aangekondig.
B. Nie Een van die Vroegste Christelike Feesdae nie – Kersfees was nie een van die vroegste feesdae van die Kerk nie. Dit was nie gevier, herdenk of nagekom nie, nòg deur die apostels, nòg in die apostoliese kerk – ten minste nie vir die eerste 300 jaar van die kerkgeskiedenis nie. Die geskiedenis bring aan die lig dat ongeveer 440 n.C. die Kerk in Jerusalem begin het om Kersfees te vier, in navolging van die leiding wat Rooms Katolisisme hierin geneem het (sien volgende paragraaf). [Vir die vroeë Christene was dit voldoende dat Jesus, hul Heer en Saligmaker, gebore was. Hulle het God geloof dat Jesus Christus inderdaad in die vlees gekom het. Die dag en datum van Sy geboorte was vir hulle nie ter sake nie, want Jesus was toe nie meer liggaamlik op aarde nie. Hy het immers na die hemel teruggekeer. En dit was die opgestane, verheerlikte Christus na wie hulle gelowig opgesien het – nie ‘n kindjie in ‘n krip nie. Christus is nie nou meer ‘n kindjie nie; nie meer die “Christus Kind” nie, maar die verheerlikte Here van almal. En Hy keer NIE op een of ander wyse elke jaar tydens Kersfees na die aarde terug as ‘n babatjie nie – al is dit die indruk wat geskep word selfs in sommige lofsange wat in Protestantse dienste gesing word.]
C. Die Rol van Godsdiens in Antieke Rome – Skynbaar vergete is die belangrike rol wat godsdiens in die wêreld van antieke Rome vervul het. Maar Keiser Konstantyn het verstaan. Deur amptelike status aan die Christendom te verleen, het hy interne vrede aan die keiserryk besorg. As briljante militêre bevelvoerder het hy boonop die genialiteit besit om in te sien dat nadat hy die Christelike godsdiens tot “staats”-godsdiens verhef het (Konstantyn het al die heidene van sy keiserryk gedwing om in die Roomse Kerk gedoop te word), daar ‘n behoefte aan was vir ‘n ware samesmelting tussen heidendom en Christendom. Die verdorwe Roomse Kerk was gevul met heidene wat toe hulle voorgedoen het as Christene – wat almal gepaai moes word.
Watter beter manier kon daar wees om hulle heidense afgodsdienste te “verchristelik”. Sodoende is die Babiloniese misteriegodsdienste deur Konstantyn in 313 n.C. ingevoer (en dit het ‘n gevestigde vastrapplek verkry met die hou van die Konsilie van Nicea in 325 n.C.). Die Konstantyn-geleide Roomse Kerk was maar te gewillig om die heidense gebruike aan te pas en aan te neem ten einde Christendom vir die heiden aangenaam te maak. Konstantyn het godsdiens as ‘n politieke werktuig gebruik, geheel en al ontbloot van enige ware geestelikheid:
Die 25ste Desember was besonder belangrik vir die aanbidders van Mitras, ‘n gewilde godheid in die Oud-Romeinse Ryk. Robert Myer (‘n voorstander van Kersmisviering) skryf in sy boek Celebrations, “Voor die viering van Kersfees was die 25ste Desember in die Romeinse wêreld die Natalis Solis Invicti, die Verjaardag van die Onoorwinbare Son. Die fees, wat plaasgevind het net ná die wintersonstilstand volgens die Juliaanse tydrekening, was ter ere van die Songod Mitras, ‘n Persiese godheid wie se aanbidders die Romeinse wêreld in die eerste eeu v.C. binnegedring het. Benewens die Mitraïstiese invloed, was ook ander heidense kragte aan die werk. Vanaf die sewentiende Desember tot die drie en twintigste het die Romeine die antieke Saturnusfees gevier... Dit was ter herdenking van die Goue Eeu van Saturnus, die god van saaiery en landbou.”
Ten einde Christendom aangenaam te maak vir die heiden, het die Roomse Kerk eenvoudig die Saturnaliafees gevat, dit opgeneem in Christendom en mettertyd was baie van die verwante heidense simbole, formaliteite, gebruike en tradisies hervertolk (d.w.s., “verchristelik”) op wyses “aanvaarbaar” vir die Christelike geloof en praktyk. (Trouens, in 375 n.C. het die Kerk van Rome onder Pous Julius I eenvoudig aangekondig dat dit “ontdek” is dat die geboortedag van Christus die 25ste Desember was en toe was dit as sulks aanvaar deur die “gelowiges”. Die Saturnaliafees en die geboortedag van Mitras kon nou gevier word as die geboortedag van Christus!) Die heidene het tot die Katolieke plekke van aanbidding toegestroom, omdat hulle steeds in staat was om hul ou gode te aanbid, alhoewel net onder ander name. Dit het hulle min geskeel of hulle die Egiptiese godinmoeder en haar kind onder die ou name (Isis en Horus) aanbid, of onder die name van “Maagd Maria” en die “Christuskind”. In albei gevalle was dit dieselfde ou afgodiese godsdiens – Paulus sê daar moet van afgode afstand gedoen word, nie dat hulle hernoem en verchristelik moet word nie (vgl. 1Thes. 1:3-10; 5:22). Rooms-Katolisisme se Kersdag is niks anders as “herdoopte” paganisme nie, wat heeltemal te laat aangekom het om deel te wees van “... die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3).
D. “Verchristeliking” van Heidense Gebruike, Simbole en Terminologie – Christendom moes ‘n transformasie ondergaan sodat heidense Rome kon “bekeer word” sonder om van hulle ou gelowe en rituele afstand te doen. Die werklike effek was om Amptelike Christendom te verheiden. “’n Saamgestelde godsdiens was vervaardig waarvan Christendom die nomenklatuur [vaktaal, terminologie] voorsien het en Paganisme die dogmas en kerkgebruike. Die afgodediens van die Romeinse wêreld, alhoewel ontsetel van hul antieke voortreflikheid, was volstrek nie afgebreek nie, maar dit was eerder die geval dat die heidense naaktheid daarvan bedek geword het met die kleed van misvormde Christelikheid” (W. E. Vine). Heidense gebruike, onder andere priestergewade, kerse, wierook, beelde en prosessies, was almal ingelyf in die kerk se eredienste en duur vandag nog voort. (Die benaming “Kersfees” is te verkies bo die Engelse “Christmas”, aangesien dit ten minste die Naam van ons Verlosser uitlaat van daardie heidense viering.) Die volgende gebruike en tradisies wat met Kersfees verbind word, het almal ‘n heidense oorsprong. Dit spreek natuurlik vanself dat Christene nie hierdie gebruike vir dieselfde sondige en verdorwe redes sal onderhou nie, maar die feit van waarvandaan die gebruike kom, bly staan en behoort sorgvuldig oorweeg te word deur almal wat die Here ken en liefhet. Ons lees in Jer. 10:3, “... die insettinge van die volke is nietigheid...”
1. Die godslasterlike “Kersmis” [die Engelse “Christ’s Mass” verkort na “Christ-mas”] – Die Rooms-Katolieke “Christ’s Mass” is ‘n spesiale mis wat deur hulle aangedien word as die viering van Christus se geboorte. In hierdie Mis word Jesus oordink as beide die priester en die slagoffer, voorgestel deur die Katolieke priester wat Hom offer as ‘n offerande elke keer as die Mis ingestel word. Met die instel van hierdie “offerande” glo die priester dat hy die mag het om die brood en die wyn van die Nagmaal te verander in die letterlike vlees en bloed van Jesus, en word van die mense vereis om hierdie elemente te aanbid net soos vir God Self. Hierdie is klaarblyklik ‘n weerspreking van die evangelie en daardeur ‘n valse evangelie. (Aangaande hierdie herhaling van die offerande vir sonde, lees Heb. 9:12, 24-26; 10:10,12,14). Nogtans, baie wat jare lank hulle stem verhef teen hierdie godslasterlike Rooms-Katolieke stelsel, sal elke einde van die jaar Rome se lasterlikste gruwel van almal omhels – Kersmis!
2. Geboorte van Christus Tonele (besoedel met paganisme) – Byna elke vorm van heidense aanbidding is afkomstig van die Babiloniese misteriegodsdienste, waar die aandag gevestig word op die “moedergodin” en die geboorte van haar kind. Dít was aangepas tot “Maria-Jesus”- aanbidding, wat dan heel gemaklik die menigte heidene, wat tot Christendom “bekeer” is, tuisgemaak het binne Konstantyn se Rooms-Katolieke Kerk. [Sou enigiemand standbeelde (d.w.s., beelde) van Maria en Josef op hul eie oprig, sal menigeen binne die Protestantse kringe uitroep “Afgodediens!” Maar in die Kerstyd word ‘n afbeelding van ‘n babatjie met die afbeeldinge van Maria en Josef geplaas en word dit ‘n “geboorte van Christus toneel” genoem. Op een of ander duistere manier “heilig” die baba-afgodjie die toneel en word dit nie meer as afgodery beskou nie!] Vergelyk wat sê Exo. 20:4-5a; 32:1-5; 9-10a.
3. Kersboom – Immergroen bome, vanweë hulle vermoë om dwarsdeur die winterseisoen groen te bly, het vir lank reeds onsterflikheid, vrugbaarheid, seksuele vermoë en voortplanting gesimboliseer en was dikwels ingebring in huise en staangemaak as afgode. Die volle mistieke betekenisinhoud van die immergroen kan slegs verstaan word as mens die diepsinnige eerbied bedink wat die heidene van ouds vir alle natuurlike verskynsels gehad het. “Vir hulle was die Natuur oral lewendig. Elke fontein het sy gees gehad, elke berg sy godheid, en elke waterruim, boomgroep en grasland hulle bonatuurlike assosiasie. Die fluistering van die bome ... was die subtiele gesprek van die gode wat in hulle gewoon het” (W.M. Auld, Christmas Traditions). Wat niks anders as natuuraanbidding of Animisme is nie.
Die gebruik om ‘n boom in die huis in te bring en dit te versier soos dit vandag gedoen word is volgens oorlewering toegeskryf aan Martin Luther. Die waarheid is egter dat die moderne gebruik se oorsprong verlore geraak het in newelagtigheid, maar bykans elke kultuur het ‘n soortgelyke tradisie. Immergroen bome is vir eeue al in huise geplaas tydens die winter as magiese simbole van geluk en hoop vir ‘n vrugbare komende jaar. Dit kan ook wees dat die ster wat bo aan die kersbome van vandag geplaas word nie sy oorsprong het as ‘n voorstelling van die ster wat die wyse manne in die Bybel gevolg het nie, maar eerder ‘n voorstelling is van die sterre waarna die Chaldeër astroloë in antieke tye gekyk het vir leiding.
Die eerste versiering van ‘n immergroen was deur heidene gedoen ter ere van hul god Adonis wat, nadat hy doodgemaak was, weer lewend gemaak is deur die slang Aesculapius. Die voorstelling van die doodgemaakte Adonis was ‘n dooie boomstomp. Rondom hierdie stomp was ‘n slang gekrul – Aesculapius, simbool van terugroeping in die lewe. Vanuit die wortels van die dooie boom spruit dan ‘n ander en verskillende boom – ‘n immergroen boom, vir die heidene die simboliek van ‘n god wat nie kan sterf nie! In Babilon het die immergroen boom mettertyd die herlewing/reïnkarnasie voorgestel van Nimrod as sy nuwe seun (Son), Tammus. In Egipte was hierdie god in die vorm van ‘n palmboom aanbid as Baäl-Tamar. (Die heidene in die land Kanaän het ook boomaanbidding aangeneem en dit Asherah genoem – ‘n boom waarvan die takke afgekap was, en gekerf is tot ‘n falliese simbool [fallies = geslagsorgaan in primitiewe godsdiens]). Die denneboom was in Rome aanbid as dieselfde god wat wedergebore was, genaamd Baäl-Berith, wat weer teruggebring is na die lewe deur die slang. ‘n Fees om hom te eer was op 25 Desember gevier as die dag waarop die god op aarde verskyn het – hy was doodgemaak en is “weer gebore” op daardie dag, seëvierend oor die dood! Dit was genoem die “Geboortedag van die Onoorwonne Son.” So dan was die gebruik om jaarliks immergroen bome op te rig en te versier na ons toe oorgebring deur die eeue heen deur die heidense Rooms-Katolieke Kerk – die paganisme van Tammus en Baäl, oftewel die aanbidding van die son, vermeng met die aanbidding van Aesculapius die slang. Of dit nou opgerig word in private huise of in kerke, versier of onversier, die immergroen boom is ‘n skreiende simbool van hierdie vals god.
Die Ou Testament waarsku ten minste tien keer teen die gebruik om immergroen bome te versier vir die doel van afgodery en vals aanbidding. “Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie.” (Jer. 10:3,4).
4. Kersfeeskranse – In heidense mitologie [fabelleer] beteken immergroen ewige lewe en ‘n onsterflike bestaan. Kersfeeskranse gemaak van immergroen plante, wat in meeste gevalle rond is, het die son gesimboliseer (net soos stralekranse in meeste godsdienstige kunswerke). Gevolglik beteken die ronde Kersfeeskranse ‘n ewige son, ‘n onsterflike oftewel selfaanvullende son. Daarbenewens kan die ronde vorm ook betrekking hê op die teken van die vrou, wat staan vir regenerasie van lewe [herskepping]. Vanweë hierdie heidense verwantskap, was die Christelike kerk aanvanklik vyandig teenoor die gebruik van kranse en ander immergroen versiersels. Maar op dieselfde wyse as wat dit ander heiden tradisies verchristelik het, het die kerk spoedig ‘n manier gevind om sy eie simboliese betekenisse daaraan te heg. Byvoorbeeld, die skerp gepunte blare van die “manlike” hulsboom het met tyd Christus se doringkroon voorgestel en die rooi bessies Sy bloed, terwyl die “vroulike” klimop [‘ivy’] onsterflikheid gesimboliseer het (Sulgrave Manor, “A Tudor Christmas,” p.6). Nie alleen versier sulke kranse kerke tydens die Kerstyd nie, maar ook maak hulle hul verskyning tydens die Paasseisoen.
5. Mistel – Die gebruik van die misteltak (wat giftig vir mens en dier is) kan nagespeur word tot by die Druïde. (Die Druïde was Keltiese heidenpriesters wat as towenaars en waarsêers beskou was.) Dit het die valse “messias” voorgestel, want die Druïde het dit beskou as ‘n goddelike tak wat van die hemel geval het en as ‘n boom op aarde begin groei het. Dit is klaarblyklik ‘n verknoeiing van God se profetiese woord aangaande Christus, “Kyk, daar kom ’n Man wie se Naam is Spruit” (Sag. 6:12), wat van die hemel kom. En aangesien die soen ‘n welbekende sinnebeeld van versoening is, is dít waar “soen onder die mistel” ‘n gebruik geword het – albei was kentekens van versoening. Die mistel, synde ‘n gewyde plant en ‘n simbool van vrugbaarheid het ook, so is geglo, magiese kragte besit omdat dit kwansuis na die aarde gebring was vanuit die hemel deur ‘n mistel lyster [sangvoël] wat dit tussen sy tone gedra het – vandaar die Engelse benaming van “mistletoe”. Dit was tevore bekend as die “plant van vrede” en in antieke Skandinawië het vyande onder die boom versoen geraak (nóg ‘n rede waarom daartoe gekom is om te “soen onder die mistel”). Dit was veronderstel om “geluk” en vrugbaarheid te bring en selfs om die huis waarin dit gehang het teen towery te beskerm.
‘n Soen is ook iets wat by tye met wellus verbind kan word. So het die gebruik om “onder die misteltak te soen” ook sy oorsprong in die orgiastiese vieringe in verband met die Keltiese Midsomernag seremonie [St. Jansdag]. Teen die tyd dat die misteltakke bymekaargemaak was, het die mans mekaar gesoen as ‘n vertoning van hulle homoseksualiteit. (Die gebruik was later uitgebrei om beide mans en vrouens in te sluit.) Soenery onder die misteltak herinner ook aan die tempelprostitusie en seksuele losbandigheid wat gewoeker het tydens die Romeinse Saturnusfees.
6. Sinterklaas – Sinterklaas of “Vader Krismis” is ‘n vervorming van die Nederlandse “Sant Nikolaas”. (“Sint Nikolaas” was ‘n 14de-eeuse Katolieke biskop of Myra in Klein-Asië wat etes aan kinders uitgedeel het. Hy was heilig verklaar deur die Rooms-Katolieke Kerk, “beskou as ‘n spesiale vriend en beskermheer van kinders.” Die rooi pakke kom van die feit dat Katolieke biskoppe en kardinale in Italië rooi gewade dra.) Sinterklaas was ook bekend as “Kriss Kringle”, ‘n vervorming van die Duitse “Christ Kind” – Christus Kind. En dít moet sekerlik die mees geslepe godslasteringe van Satan wees en tog is meeste Christene daarvan heeltemal onbewus.
Die Sinterklaas-begrip is oorspronklik van die heidense Egiptiese god Bes afkomstig, ‘n plomp kabouteragtige figuur wat die beskermheer van kinders was. Dit is van Bes gesê dat hy by die Noordpool woon, besig om deur die jaar speelgoed te maak vir kinders wat goed is en gehoorsaam aan hul ouers was. In Nederland was hy “Sinter Klaas” genoem. Nederlandse nedersetters het die gebruik na Amerika geneem. In Nederland en ander Europese lande was die oorspronklike Sinterklaas eintlik ‘n nors persoonlikheid wat die platteland deurreis het, vasberade om uit te vind wie nou regtig “stout of soet” was. Diegene wat hulle sleg gedra het was op staande voet afgeransel. Die vereenselwiging van Sinter Klaas met sneeu, takbokke en die Noordpool dui op die Skandinawiese of Noorse Kerstyd. (Ook in Babilonië was die takbok ‘n simbool van die geweldenaar, Nimrod. Die simboliek van horings wat op die kop van ‘n adellike leier gedra word sou sy vaardigheid as jagter aantoon en daarbenewens mense beïnvloed om hom te volg.)
Sinterklaas is die lasterlike plaasbekleder vir God! Aan hom word gereeld bonatuurlike magte en goddelike hoedanighede toegedig wat slegs God het. Hy word voorgehou as alwetend – hy weet wanneer elke kind slaap, wakker word, soet of stout was, weet presies wat elke kind wil hê (vgl. Ps. 139:1-4). Hy word voorgehou as alomteenwoordig – in een enkele nag van die jaar besoek hy al die “soet” kinders in die wêreld en laat vir hulle geskenke agter, oënskynlik is hy orals gelyktydig. Hy word voorgehou as almagtig – hy het die mag om aan elke kind te gee wat elkeen wil hê. Hy word voorgehou as ‘n oppermagtige beoordelaar – hy kom met ‘n sak vol belonings vir diegene wie se gedrag in sy oë aanvaarbaar was.
Sinterklaas het een van die gewildste, mees algemeen aanvaarde en onbetwiste mites geword wat al ooit met volkome sukses in die struktuur en samestel van Christendom deurweef is. Dit is ‘n feit dat Christus gebore is – en daardie waarheid behoort elke Christen se hart ontsettend bly te maak. Maar die Sinterklaas mite verwring die waarheid van Christus se geboorte deur op subtiele wyse die waarheid met die mite van Sinterklaas te vermeng. Wanneer Christen ouers vir hulle kinders oor Sinterklaas lieg, lei hulle die aandag van hulle kinders weg van God en veroorsaak dat hulle fokus op ‘n vet man in ‘n rooi gewaad wat Godgelyke eienskappe besit. Dit alles leer die kind om te glo dat, net soos Sinterklaas, God behaag kan word met “goeie werke” wat gedoen word om Sy guns te verdien. Origens leer hulle dat afgesien van hoe stout hy as kind gewees het, hy nog steeds deur God beloon sal word – net soos wat Sinterklaas nooit sal versuim om presente te bring nie. Selfs in die gesinne van belydende Christene, het Sinterklaas onteenseglik Jesus verdring in die bewustheid en liefde van kinders, en het hy die onbetwiste gees, simbool en die sentrale punt van Kersfees geword.
7. Kersaand – “Yule” is die Chaldeeuse woord wat “kleuter” beteken. Lank voor die koms van die Christendom het die heidense Angel-Saksers die 25ste Desember “Yule day” [Kersdag] genoem – met ander woorde “kleuterdag” of “kinderdag” – die dag waarop hulle die geboorte van die valse “messias” gevier het! Die nag voor “Yule day” [Kersdag] was “Mother night” [Moederaand] genoem. Vandag word dit “Kersaand” genoem. En “Moederaand” was nie vernoem na Maria, die moeder van die Here nie – “Moederaand” was waargeneem eeue voor Jesus se geboorte. Semiramis (Nimrod se vrou) was die inspirasie vir “Moederaand” – en “Kinderdag” was die geboortedag van haar seun (Tammus), die songod!
8. Kersblok, of Joelblok – Die Joelblok [“Yule Log” in Engels] was deur die antieke Kelte as ‘n heilige blok hout [boomstomp] beskou vir gebruik in hulle godsdienstige feesvieringe tydens die winter sonnestilstand; die vuur het beloftes ingehou van baie geluk en ‘n lang lewe. Elke jaar se Joelblok moes in die woud uitgesoek word op Kersaand deur die familie wat dit sou gebruik. Dit kon nie gekoop word nie, want dan sou die bygelowe wat daarmee verbind was nie meer van toepassing wees nie. In Babiloniese heidendom het die blok hout wat in die kaggel geplaas is die dooie Nimrod voorgestel; en die boom wat die volgende oggend verskyn het (wat vandag die “Kersboom” heet), was Nimrod wat weer vlees geword het (gereïnkarneer), in sy nuwe seun (Son), Tammus. (Die Joelblok word vandag nog in sekere streke op Kersaand in die kaggel geplaas – en die volgende dag is daar ‘n Kersboom!)
Die teenswoordige Joelblok-tradisie kom na ons vanaf Skandinawië, waar die heidense seks-en-vrugbaarheidsgod genaamd Joel, vereer was tydens ‘n feesviering van twaalf dae in Desember. ‘n Groot, enkele stomp hout is met ‘n vuur daarteen aan die brand gehou vir twaalf dae lank en op elkeen van die twaalf dae was ‘n ander offerande geoffer. Die tydperk wat tans gereken word as die twaalf dae tussen Kersfees en Epifanie, was oorspronklik die twaalf dae van daaglikse offerande wat aan die Joelblok geoffer is. (Die vraag ontstaan, wat doen ons in werklikheid wanneer ons Kerskaartjies stuur [in Engels word verwys na ‘Yuletide greetings’]? Vereer ons werklik vir Christus deur goeie wense in die naam van ‘n Skandinawiese vrugbaarheidsgod uit te stuur? Hier het ons dieselfde gebruike wat vandag nog beoefen word as in antieke heidendom! Net die name het verander.)
Kerse – Kerse was aangesteek deur die antieke Babiloniërs ter ere van hulle god en op sy altare het baie kerse gebrand. Dit is natuurlik ‘n welbekende feit dat kerse ‘n baie belangrike rol speel in die ritualisme van Rooms-Katolisisme, wat die gebruik oorgeneem het van die heidendom. Die belangrikheid van kerse kom baie naby aan dié van die Joelblok ritueel. Net soos die Joelblok, moes hulle ‘n geskenk wees, nooit ‘n aankoop nie. Ook was hulle slegs aangesteek en uitgedoof deur die hoof van die gesin. Sodanige kerse het voortdurend in die middel van die tafel gebrand en dit mag nie verskuif of uitgedoof geword het nie, uit vrees dat die dood sou volg. Die Joelkers, omkrans met groenigheid, moes deur die Kersnag brand totdat die son opgekom het of die Kersfeesdiens begin het (Sulgrave Manor, “A Tudor Christmas,” p. 9). Kerse behoort klaarblyklik geen deel uit te maak in Christelike aanbidding nie, want nêrens in die Nuwe Testament word so ‘n gebruik goedgekeur nie.
10. Gee van Geskenke – Die tradisie van mekaar geskenke te gee het niks te make met ‘n herverordening van die sterrekykers wat vir die kind Jesus geskenke gebring het nie, maar het eerder heelwat bygelowige, heidense oorspronge. Een prominente tradisie was die Romeinse gebruik om aan mekaar kos, versierseltjies, kerse of beelde van gode te gee tydens die midwinter calendae (die eerste dag van die maand in die antieke Romeinse kalender). Hierdie gebruik is deur die Roomse Kerk oorgeplaas na die 25ste Desember in ooreenstemming met die Saturnaliafees en ter verheerliking van die liefdadige Sint Nikolaas. [Is dit nie die toppunt van belaglikheid om te wil voorgee dat om vir mekaar presente te gee eintlik Jesus se “verjaardag” herdenk nie? – nie dat daar noodwendig iets daarmee verkeerd is om vir mekaar presente te gee nie. Die vraag is net, wat gee ons aan Hom, indien ons spesifiek Sy vleeswording herdenk?]
11. Kersgans – Die “Kersgans” en “Kerskoek” was albei gebruik in die aanbidding van die Babiloniese “messias.” Die gans was in baie antieke lande soos Rome, Klein-Asië, Indië en Chaldea as heilig beskou. In Egipte was die gans ‘n simbool van ‘n kind wat gereed was om te sterf! Met ander woorde, ‘n simbool van die heidense “messias” wat bereid was om sy lewe (kwansuis) vir die wêreld af te lê. Hierdie was klaarblyklik ‘n sataniese bespotting van die waarheid.
12. Kersham – Varke was geslag en die eet van die karkasse was een van die vernaamste vieringe van die Saturnusfees. Elke man moes ‘n vark offer as ‘n offerande want, volgens bygeloof, het ‘n wildevark die songodheid Adonis doodgemaak. Vandaar die tradisie van die Kersham op Kers- en Nuwejaarsdae.
13. Kerskous – Volgens oorlewering het ‘n arm wewenaar van Myra, Turkye, drie dogters gehad vir wie hy nie ‘n bruidskat kon voorsien nie. Op Kersaand het “Sint Nikolaas” drie sakke goud by die skoorsteen afgegooi en daardeur is die dogters daarvan gered om hulle in prostitusie te begewe. Een sak het binne in ‘n skoen gerol en die ander in sommige kouse geval wat by die vuurherd gehang het om droog te word. Vandaar die begin van die tradisie van “Kerskous” of “laars.”
14. Kerskaartjies – Die vroegste Britse Kerskaartjie dateer uit 1843. Die eerste kaartjies het dooie voëls uitgebeeld! Blykbaar het die gewildheid om janfrederik en winterkoninkie op Kersdag te jag gemaak dat die afbeelding van ‘n dooie voëltjie ‘n geskikte een was vir “vakansiedag”-kaartjies. Die bygaande bewoording op die kaartjie was ook dikwels van ‘n morbiede aard. Mettertyd het die kaartjies dansende insekte, uitgelate kinders, jong vroue met blosende wange en feestelik versierde Kersbome vertoon. Die eerste werklike Kerskaartjies was eintlik Valentynsdag kaartjies (met ander boodskappe) wat in Desember uitgestuur was. Massaproduksie van Kerskaartjies in die Verenigde State dateer uit 1875. Aanvanklik het die vervaardigers Kerskaartjies beskou as ‘n neweartikel, bykomstig tot hulle reeds suksesvolle vervaardiging van speelkaarte. Maar die “tradisie” om kaartjies uit te stuur het spoedig sterk byval gevind en so aanleiding gegee tot ‘n baie lonende besigheid op sy eie.
15. Kersliedere – Wat dink u sal die reaksie van ‘n kerk se leiers wees as die kerk se predikant sou voorstel dat die volgende himnes in die kerk ingevoer word om die geboorte van Christus te gedenk? Hulle het almal heeltemal mooi melodieë.
Miskien sou u verwag dat die kerkleiers baie ontsteld moes gewees het. Dit sal u miskien verbaas om te verneem dat hulle ontsteld was toe hulle vermoed het dat die predikant hulle straks op een of ander wyse sou verhoed om die liedere te sing. U sien, daardie drie himnes was al reeds in die kerk se liedboek! Dit was nie vir die predikant nodig om hulle in te voer nie. Die drie teologies onjuiste “Kersliedere” waarna hierbo verwys word, is “It Came Upon the Midnight Clear”, “O Little Town of Bethlehem” en Stille Nag.
E. Europese Kersfeestradisies – In die vroeë dae van Christendom, soos dit algaande noord en wes in Europa uitbeweeg het, is baie heidense feesvieringe teëgekom. Byvoorbeeld, tydens die laaste deel van die sesde eeu in Engeland, was gevind dat die Angel-Saksers die Joel gevier het. Die Christen evangeliste was van mening dat geen poging van hulle sou slaag om mee te ding met, dit te onderdruk, of om ‘n einde te maak aan gebruike wat al só gevestig geword het nie. Derhalwe het hulle maar eenvoudig gewilde datums vir hul eie “spesiale rituele en gewyde dienste” aangeneem. Met ander woorde, dit was makliker om ‘n feesdag tot stand te bring wat die geboorte van Christus gevier het as dit heel gerieflik saamgeval het met ‘n bestaande gewilde feesdag. Op hierdie wyse kon die heidense mense (hoewel potensiële bekeerlinge tot die Christendom) voortgaan met hul gewone feesvieringe op hierdie tyd van die jaar, terwyl die rede vir die vrolikheid heromskryf en toegeskryf kon word aan Christus se geboorte eerder as aan heidense rituele. Soos wat die heidendom mettertyd uitgesterf en Christendom wyd verspreid geraak het, het Kersfees algaande meer verbind geraak met sy godsdienstige fondamente as enige ander (Sulgrave Manor, “A Tudor Christmas,” p. 2).
Dit was aan die Puriteine oorgelaat om alles aan die kaak te stel. Vir hulle was Kersfees tereg deels pouslik, deels heidens en was dit verbode om as vakansiedag waargeneem of as feesdag gevier te word. Die aanval het in 1644 begin toe die Puriteine in beheer van die Parlement was. 25 Desember was verander na ‘n Vasdag. Teen 1647 was selfs ook die Vasdag mee weggedoen as ‘n oorblyfsel van bygeloof, sinoniem met die Kerk van Rome. Geen onderhouding van 25 Desember was meer toegelaat nie, maar die dag moes waargeneem word as ‘n normale handelsdag. Kersfees was noukeurig uitgekryt met sulke benaminge soos die ‘Goddelose Mens se Dag van Tekere gaan’, ‘die bygelowige Mens se Afgod-dag’, ‘die Papis se Saamtrekdag’, ‘die Ou Heiden se Feesdag’, ‘die Skare se Ledige dag’, en ‘Satan – daardie Teenstander – se Werksdag’. In daardie dae sou enige Kersmisviering deur troepe uiteen geja word wat die versiersels sou afgeruk het en enigeen wat ‘n diens gehou het in hegtenis sou neem. Sommige wat dit in Europa gevier het was ook in die tronk gestop. Vanweë die onluste wat uitgebreek het as gevolg van die verbanning van Kersfees, is die feesvieringe en joligheid in 1660 weer teruggebring deur koning Karel II, ‘n Katoliek (Sulgrave Manor, “A Tudor Christmas,” p. 3).
F. Amerikaanse Kersfeestradisies – Amerika se nedersetters (die “stigtingsvaders” van die sogenaamde “Protestantse Amerika”) het heeltemal tereg Kersfees as ‘n “pouslike” vakansiedag beskou. Om die waarheid te sê, dit was slegs in die vroeë 1800’s dat etlike stigterlede van die New York Historiese Vereniging Kersfees “versin” het. Voor daardie tyd was dit onwettig in koloniale Massachusetts om selfs op 25 Desember ‘n dag af te neem by die werk. Kersfees was verbied as “onbetaamlik vir die geestelike welstand van u sielsgemeenskap.” (Dit was in 1659 in Massachusetts verban en hierdie wet het op die wetboeke vir 22 jaar bly staan. In Boston het openbare skole oop gebly op 25 Desember tot so laat as 1870!) Dit was nie voor 1836 dat enige staat (Alabama) Kersfees as ‘n vakansiedag verklaar het nie. Daarna was geen verdere aankondigings in dié verband nie tot die uitbreek van die Amerikaanse Burger Oorlog nie. Dit was nie voor 1885 dat alle federale werkers Kersdag afgegee is nie. Die sogenaamde Kersfeesgewoonte en -tradisies was later versin meer ter wille van kommersiële voordeel as dié van godsdiens.
‘n Aanhaling uit ‘n 23/12/1983 USA TODAY artikel oor Kersfees lui: “’n Ruim gedeelte van die Engelse Christengemeenskap beskou steeds Kersmisviering as ‘n heidense godslastering. Die Puriteine, Baptiste, Kwakers, Presbiteriane, Calviniste en ander kerkgenootskappe het hierdie verset na vroeë Nieu-Engeland gebring en sterk teenkanting ten opsigte van die vakansiedag het in Amerika voortgeduur tot die middel van die 18de eeu.” Henry Ward Beecher, ‘n Kongregasionalis, het in 1874 aangaande sy kinderdae in Nieu-Engeland geskryf:
“Vir my is Kersdag ‘n uitheemse dag – en daarmee sal ek sterf. Toe ek ‘n seun was het ek gewonder wat is Kersfees. Ek het geweet dat daar so ‘n tyd was, want ons het ‘n Episkopaalse kerk in ons dorp gehad en ek het gesien hoe hulle dit met immergroen versier en gewonder waarom hulle die bome in die kerk neem; maar ek kon geen bevredigende verduideliking vind nie. ‘n Tydjie daarna het ek verneem dat dit ‘n Roomse instelling is, wat deur die Roomse Kerk onderhou word.”
II. SKRIFTUURLIKE ONDERSTEUNING TEEN DIE VIERING VAN KERSFEES – ONAANVAARBARE AANBIDDING
A. 2Kron. 33:15 – 17 – Die Israeliete het nie van die ou heidense orde (die hoogtes van Baäl) afgesien nie, maar het bloot die aanbidding van God in daardie orde ingelyf – ‘n weiering om af te sien van heidense aanbiddingsvorme (God was veronderstel om in die Tempel aanbid te word, nie op die hoogtes nie). Dit was onaanvaarbare aanbidding, want die regte vorm van aanbidding was vermeng met die heidense vorm. As Kersfees die viering is wat ingestel is deur heidene vir heidene, kan die vermenging van die aanbidding van Christus in hierdie heidense vorm van aanbidding aanvaarbaar wees?
B. Deut. 12:29-32 – God het Sy volk Israel gewaarsku om alle oorblyfsels van heidense aanbidding te vernietig wat hulle in die “Beloofde Land” sou vind ná hulle oorname daarvan. Nie alleen wou God verhoed dat Sy volk verlei sou word om valse gode te aanbid nie, maar Hy het spesifiek aangedui dat Hy nie wou hê dat sy volk Hom moes aanbid op dieselfde wyse as wat die heidene hulle gode aanbid het nie. Ons is dus daarvan verseker dat onse Here mishaag word deur gebruike wat voorgee om Hom te eer, maar in werklikheid nabootsings is van valse godsdienstige tradisies. Die gebod in hierdie Skrifgedeelte was om God slegs op Sy manier te aanbid, d.i., doen slegs wat God beveel – (vers 32) “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.” [As “Christus in Krismis teruggeplaas word”, is dit dan nie om “die Here ons God te aanbid deur die heidense manier daar by te voeg nie”? Is daar enige bevel in die Bybel om spesiale verering te verleen aan die Skrif se verhaal aangaande Christus se geboorte, of selfs enige ander skrifgedeelte wat daarop dui dat Sy geboorte op hoegenaamd enige wyse gevier of herdenk moet word? Dit was nooit God se bedoeling dat Sy volk na-apers van heidense gebruike van die wêreld moes wees nie, maar Hy het ons geroep om ons af te sonder en heilig te wees.]
C. Lev. 10:1,2 – Nadab en Abíhu het vreemde vuur voor die aangesig van die Here gebring as offer. [Is die viering van Kersfees, met al sy heidense simbole en formaliteite, nie ook “vreemde vuur” voor die aangesig van die Here nie, en is hierdie vorm van viering nie teenstrydig met God se bevele nie?]
D. 1Sam. 15:1-3; 7-9; 21-23 – Saul was ongehoorsaam aan God se profeet ten einde God op sy eie manier te aanbid. [Is die viering van Kersfees nie een van die mens se eie maniere om Christus te vereer nie? Daar is geen Bybelse opdrag om op hierdie wyse aanbidding aan te bied nie.]
E. 2Sam. 6:2-7 – Dawid probeer om die ark “op ‘n nuwe wa” te vervoer in plaas daarvan om gebruik te maak van die goue ringe en draaghoute van akasiahout, soos die wet bepaal het (Exo. 25:12-15). Daarbenewens het die “vervoerders” van die ark geen reg gehad om dit te dra nie (1Kron. 15:2; 13-15) – d.w.s., die ark was nie net op die verkeerde manier vervoer nie, maar ook deur die verkeerde mense! [Is die viering van Kersfees nie ook die verkeerde manier (heidense formaliteite en tradisies) nie, met die verkeerde mense (die heidense wêreldlinge neem saam deel daaraan met belydende Christene)?]
F. 1 Kon. 12:26-33 – Met die doel om die noordelike stamme van Israel te verenig, het die goddelose Koning Jeróbeam heidense afgode opgerig, nie in die plek van God nie, maar as nuwe eindpunte waar aanbidding aan God gerig kon word. Hy het selfs ‘n nuwe feesdag ingestel op ‘n nuwe dag, d.w.s., ‘n nuwe godsdienstige vakansiedag van sy eie keuse. Nieteenstaande die feit dat die ware God van Israel steeds die voorwerp van aanbidding op die nuwe godsdienstige vakansiedag was, was beide die vakansiedag en die aanbidding nie deur God goedgekeur of deur Hom aanvaar nie (1 Kon. 13:1-3; 15:29-30). Waarom nie? Omdat die saamgeflanste vermenging van onjuistheid met waarheid as valse godsdiens geld! [Is die viering van Kersfees as godsdienstige vakansiedag nie iets wat die mens self gekies het nie, en is dit nie oorlaai met heidense simbole en formaliteite, almal onder die skyn van (ten minste deur opregte Christene) aanbidding van die een ware God en Verlosser nie? Maar is dit nie ook so dat hierdie stelsel en vorm van aanbidding steeds geld as ‘n valse godsdiens wat dit sodoende vir God onaanneemlik maak nie? Bowendien, waar in die Bybel kry Christene die reg om ‘n nuwe gewyde dag tot die sogenaamde Christenkalender by te voeg, ewemin as wat Koning Jeróbeam die reg gehad het om ‘n nuwe gewyde dag tot God se teokratiese kalender by te voeg?]
G. 1 Kor. 8:4-13; Rom. 14:1-13; 1 Kor. 10:14, 18-21 – Hierdie gedeeltes aangaande Christelike vryheid word in meer besonderheid onder Romeinse getalteken IV bespreek. [Christelike vryheid kan die beste Skriftuurlik omskrywe word as “die vryheid om betrokke te wees in gebruike wat nie deur die Skrif verbied word nie, of om myself nie te misgun wat wel toegelaat word nie (d.i., ‘n morele keuse van selftug) ten einde vir God ‘n doeltreffender getuie te wees.” Derhalwe moet die vraag beantwoord word, “Kan Kersfees toegelaat word?”] In kort, sommige wil beweer dat Paulus leer dat die deelname aan heidense formaliteite niemand tot veroordeling strek nie, en derhalwe is deelname aan Kersfees en sy gebruike onbelangrik, nieteenstaande dat dit voortspruit uit heidense afgodery. Nêrens keur Paulus deelname aan dade van afgodery goed nie – en heidense vorms van Kersmisviering kom gevaarlik naby daaraan om dit te doen. Inteendeel, Paulus praat van die vryheid om voort te gaan met Joodse dae van aanbidding/feesviering wat voorheen verordineer is onder die Joodse wet. Daar is beslis geen vryheid om heidense gebruike van buite af by die kerk se aanbiddingsdienste in te bring nie. Net so is daar geen vryheid om heidense Babiloniese/Roomse gewyde dae as spesiale dae te verchristelik nie. Christene in die kerk van die eerste eeu het die vryheid gehad om die Ou Testamentiese gewyde dae en feeste te onderhou (dae wat voorheen deur God openbaar is) as hulle so onvolwasse was om dit nog te wou doen. Die swakker broeder, het Paulus geskryf, moes in daardie tyd nie berispe geword het omdat hy voortgegaan het om ‘n mate van waarde te heg aan die Ou Testamentiese gewyde dae nie, omdat die swakker broeder nog nie die helder insig verkry het van die opheffing daarvan in Christus nie. Maar om ‘n heidense gewyde dag te onderhou, is iets wat hierdie Skrifgedeelte beslis nie goedkeur nie.
Hulle was beslis nie die vryheid veroorloof om die Babiloniese/Roomse heidense gewyde dae (dae wat deur die duiwel versin was) as spesiale dae te onderhou nie. Daarenteen, dit sou afgodery, wêreldlikheid en miskien selfs ‘n vorm van Satansaanbidding gewees het wat hulle betref. Derhalwe, hoe kan die onderhouding van Kersdag, of enige ander Babiloniese/Rooms-Katolieke gewyde dag, ‘n kwessie van Christelike vryheid wees? Vreemd maar tog waar dat wanneer party van ons weier om heidense gewyde dae as spesiale dae te onderhou, word na ons verwys as die “swakker broeder” in hierdie saak! Is ons miskien gekant teen sulke dae omdat ons “verswak in die geloof” is? Geloof kan omskryf word as om te glo wat die Woord van God oor ‘n aangeleentheid sê en dan daarvolgens te handel. Dit was deur die geloof dat ons opgehou het om heidense gewyde dae as spesiale dae te beskou. Sou dit van ons meer volwasse Christene maak as ons weer begin om sulke dae te onderhou? Ons en ons gesinne sou dit dan gewis makliker gehad het.
III. KERSFEES EN VERBREKING VAN DIE TIEN GEBOOIE (omgekeerde orde)
A. Moenie Begeer nie – Kinders leer om die geskenke van ander te begeer, om te brand van begeerte wanneer hulle na die Kersfees katalogus kyk, om hulle ouers eindeloos deur speelgoedwinkels te sleep, alles in die naam van “in die gees van Kersfees.”
B. Moenie Vals Getuig Nie – “Laat ons Jesus kry in die jaargety!” [“Jesus is the reason for the season!”]. Dit is die strydkreet met die motivering van “Sit Christus terug in Krismis,” terwyl daar in werklikheid nie net geen Bybelse bevelskrif vir Kersfees is nie, maar dit het boonop voortgespruit uit heidense aanbiddingstelsels. Nietemin lieg belydende Christene vir hulle kinders aangaande Sinterklaas, die bonatuurlike, toweragtige valse “god” van Kersfees, wie se “evangelie” een is van redding deur werke gepaard met onvoorwaardelike aanvaarding en belonings. Ouers lieg vir jare lank vir hulle kinders oor die goddelike karakter van Sinterklaas, wat daarop neerkom dat kinders gevra word om hulle vertroue te stel in ‘n valse god en ‘n leuen, en dan verstaan ouers nie waarom hulle kinders later in die lewe nie in die ware God, Jesus Christus, wil glo en vertrou nie.
C. Moenie Steel Nie – Kersfees-spandeerpatrone kan nooit die proef deurstaan van Bybelse rentmeesterskap nie. Christene “steel” die Here se hulpmiddele deur kwistig geld uit te gee op waardelose en nuttelose snuisterye (in baie gevalle); en dan weerhou hulle hulpmiddele van diegene wat in nood verkeer. Terselfdertyd wil hulle voorgee dat hulle nooit genoeg geld het om goeie Christelike boeke te koop nie (‘n benadeling van tuisonderrig), of vir Bybel-hulpmiddels vir kinders nie. (Christene kan ook help deur aan die geestelik behoeftiges traktaatjies, boeke, ens., uit te deel.) Ook “steel” ons van ons families wat hulle benodig en wat ons aan hulle verskuldig is deurdat ons geskenke koop vir diegene wat dit nie nodig het nie.
D. Moenie Egbreuk Pleeg Nie – Tydens hierdie “spesiale” tyd van die jaar word wellustige gedagtes eintlik aangemoedig. Byvoorbeeld, tieners word toegelaat om na partytjies te gaan en later uit te bly waardeur hulle aan versoekinge blootgestel word wat andersins nie sou plaasvind nie. Kerspartytjies vir volwassenes moedig ook sondige gedagtes aan deur die gebruik om onder die misteltak te soen, ens. (Volgens Mt. 5:28 geld sulke gedagtes as egbreuk pleeg. Op sy minste word geestelike egbreuk aangespoor deur die “seisoen.”)
E. Moenie Moord Pleeg Nie – Om my broeder te haat of op hom afgunstig te wees (wat gelyk is aan moord volgens Mt. 5), omdat hy meer het as ek of omdat hy ‘n groter Kersbonus as ek ontvang, word in die Kerstyd tot stand gebring. Ons neig ook om ons kinders geestelik op te offer aan die “god van Kersfees” langs die weg van hebsug, selfsug, ens.
F. Eer Jou Vader en Moeder – Om Kersgeskenke te gee is nie om jou ouers te eer nie. Die term geskenke “uitruil” (d.w.s., gee met die verwagting om te ontvang), laat die aap uit die mou oor die bespotting verbonde aan hierdie tradisie.
G. Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit Heilig – Ofskoon ons geredelik erken dat die Dag van die Here nie die “Christelike Sabbatdag” is nie, is dit tog duidelik dat die Dag van die Here ‘n dag van aanbidding is en as sodanig onderhou behoort te word. En tog, wanneer Kersaand, Kersdag of die dag na Kersfees op ‘n Sondag val, pas meeste van die kerke die Dag van die Here aan om Kersfees te akkommodeer, gewoonlik deur die gereëlde Sondagaand diens te kanselleer. Meeste van die lidmate is in elk geval te besig of te moeg om die diens by te woon.
H. Moenie die Naam van die Here jou God Ydellik Gebruik Nie – Die Engelse “Christ” en “mass” [van ‘Christmas’] is twee heeltemal teengestelde woorde en om die twee te koppel, is om die Naam van Christus te laster. Deur die heidense viering te neem, dit te “verchristelik” en dit dan ‘n viering van die geboorte van Christus te noem, is sonder enige twyfel om die Naam van die Here ydellik te gebruik. (‘n Goeie voorbeeld van die gewilligheid van die belydende kerk om die Naam van die Here ydellik te gebruik is die titel van die gewilde opvoering van ‘n kinder-Kerskonsert wat in Engels heet – “The Divine Ornament” [Godsdienstige Ornament]. Begryp jou aan, om ons Here te vereenselwig met ‘n heidense ornament om aan ‘n heidense boom te hang! Wat ‘n belediging! Wat ‘n lastering!) Daar benewens, is daar sommige belydende Christene wat godsdiens (“Christus se geboortedag”) as ‘n dekmantel gebruik om die euwels van hebsug, afgodery, gulsigheid, ontug, ens., te verberg – almal verskonings om vrye teuels te gee aan onheilige wellustighede.
I. Moenie vir Jou Enige Gesnede Beeld maak nie – Tonele van die geboorte van Christus, “portrette” van Christus, Kerskaartjies met “afbeeldinge” van Jesus, ens., verbreek almal hierdie gebod. God het aan ons Sy Woord gegee, nie beeltenisse nie, om ons aangaande Christus te leer (1Pet. 1:23; Deut. 4:12; 15-19).
J. Jy Mag Geen Ander gode voor My Aangesig hê Nie – Die “god van Kersfees” is ‘n afgod! Om na die Kersseisoen uit te sien vir blydskap, vreugde en vervulling, eerder as deur ‘n rein, persoonlike en Bybelse verhouding met Jesus Christus, is afgodery.
IV. ‘N CHRISTEN SE KEUSE OM KERSFEES TE VIER – IS DIT CHRISTELIKE VRYHEID?
A. Romeine 14:1-13 – Hierdie gedeelte uit die Skrif spreek oor die Jode wat die Ou Testamentiese Joodse gewyde dae/feesvieringe en wette oor voedselreëlings nagekom het nieteenstaande dat hulle nou medegelowiges in Christus was; en dat daardie Jode ook hul nie-Joodse broeders in die Here veroordeel het omdat hulle nie die Joodse gebruike nagekom het nie. Insgelyks het die nie-Joodse Christene hulle Joodse broeders veroordeel wat oënskynlik vasgevang was in seremoniële wette. Wat Paulus dus gesê het was, “Aan julle nie-Joodse Christene sê ek, laat staan die Joodse Christene, want hulle verbreek nie enige Skriftuurlike gebooie deur hulle optrede wat voortspruit uit hulle “gevoelens” nie [oftewel hulle opvattings – wat nie ‘n morele kwessie is nie].” En hy sê aan die Joodse Christene, “Dit is in orde vir julle om die Joodse feesvieringe en wette oor voedselreëlings na te kom, want hulle was deur God in die Ou Testament verorden, en is daardeur gereken as voorheen goedgekeurde vorms van aanbidding; maar moenie julle nie-Joodse broeders veroordeel nie want daar is geen Bybelse bevel òf vir julle, òf vir hulle, om voort te gaan om hierdie dinge te onderhou nie.” [In werklikheid was dit nie “in orde” nie (sien IV. C. hierna), maar Paulus het dit toegelaat as ‘n handeling van ‘n onvolwasse/swakker broeder – sien II. G. hierbo. As dit egter ‘n morele kwessie behels (dit is, ‘n aangeleentheid wat deur die Skrif aangespreek word), sal hierdie skrif gedeelte en die toepassing daarvan op Christelike vryheid (d.w.s., die vryheid om betrokke te wees in aangeleenthede wat nie in die Skrif verbied word nie) klaarblyklik nie van toepassing wees nie. Die viering van Kersfees blyk so ‘n morele kwessie te wees, want nie alleen is dit nie van God afkomstig nie, maar wel van antieke heidendom self!
B. 1Korinthiërs 8:4-13 – Die nie-Joodse Christene, wat opgegroei het met ‘n afgodiese stelsel, het probleme ervaar met hulle Joodse broeders wat vleis geëet het wat aan afgode geoffer was. (Blykbaar was dit die enigste beskikbare “gesonde” vleis.) Net soos in die Romeine 14 gedeelte van die Skrif hierbo, sê Paulus dat die eet van offervleis aan afgode nie ‘n morele kwessie is nie en derhalwe is dit nie verbode nie. Nietemin, Paulus sê nie dat dit in orde is om in ‘n heidense afgodstempel in te gaan nie. Trouens, in ander gedeeltes van die Skrif (1 Kor. 10:14, 18-21) verbied Paulus spesifiek betrokkenheid by die heidense feesvieringe. Met ander woorde, dit is nie ‘n morele kwessie om neweprodukte van ‘n heidens-godsdienstige stelsel te nuttig nie (ewenwel, nie dat daar geen aanduiding hier is dat die Joodse Christene “afgodsoffervleis” as deel van hulle aanbidding gebruik het nie), maar dit is nie in orde om in die godsdienstige sisteem sigself deel te neem nie – want die verdorwe geaardheid van die deelnemers sou skadelik vir die gelowiges wees. Ons moet eerder onsself afskei van die wêreldlike stelsel (2 Kor. 6:14-7:1). Derhalwe, wanneer items (neweprodukte) verbonde aan ‘n heidens-godsdienstige sisteem nie slegs godsdienstige deelgenootskappe van hul eie ontwikkel nie, maar ook ingelyf geword het in wat andersins ware Christelike aanbidding sou gewees het (soos wat die viering van Kersfees beslis geword het in ons kultuur), dan behoort ons ons daarvan te distansieer sodat daar geen misverstand kan wees oor ons getrouheid nie.
C. Galasiërs 4:9-10; Kolossense 2:16-17 – Beide hierdie gedeeltes uit die Skrif verwys na Joodse gewyde dae afkomstig uit die wette van die Ou Testament. As Christene nie eens die Ou Testamentiese gewyde dae hoef te onderhou nie – dae wat tog wel Goddelike bekragtiging vir ‘n tyd lank gehad het – het hulle beslis nie die vryheid om heidense gewyde dae te onderhou nie!
D. Jakobus 4:11 – Jakobus vertel aan ons dat Christene ‘n broeder slegs mag oordeel oor aangeleenthede wat in God se Woord neergelê is (d.w.s., morele kwessies). As ‘n aangeleentheid nie deur die Woord gedek word nie, dan is dit ‘n saak van Christelike vryheid (Rom. 14:1-13, 1 Kor. 8:4-13). Hy wat op hierdie terrein van Christelike vryheid ‘n oordeel vel, is besig om die Woord van God te oordeel en te veroordeel as synde ‘n onvolmaakte standaard te wees waaraan die beoordelaar weier om hom te onderwerp. Aangesien ons duidelike Skriftuurlike voorskrifte het wat die dinge veroordeel wat in die Naam van Christus aangaan rondom die 25ste Desember, blyk dit dat die viering van Kersfees nie ‘n saak van Christelike vryheid is nie, maar een is van morele gedrag.
V. DIE REGTE REAKSIE
A. Blus die Gees Nie Uit Nie (1Thes. 5:19-22) – Toets alle dinge teenoor die Skrif en bring alle menings en handelinge in lyn met wat waar is (d.i., moenie die Woord van God met minagting behandel nie). As ‘n mens oortuig is dat dit sonde is om Kersfees te vier, dan moet hy en sy gesin nie ‘n kompromie aangaan met die wêreld of die kerk deur deel te neem in enige Kersmisviering nie (Rom. 14:23).
B. Vermy Strikke van die Duiwel.
1. Gebrek aan Ywer – Een wat nooit oorweeg waarom hy sekere dinge doen nie, maar hy doen dit omdat hy dit nog altyd gedoen het; of omdat sy ouers dit altyd gedoen het; iemand wat handel volgens sy emosies eerder as om feite in ag te neem.
2. Gebrek aan Waarheid – Een wat met goeie rede en die regte motiewe dinge doen (d.i., met baie ywer), maar nie in waarheid nie.
C. Besef dat vir Christene om Kersfees as Christus se geboortedag te vier, net so min sin sal maak as om enige van die volgende dae by te voeg as spesiale dae vir Christelike feesviering:- (Onthou, die Bybel fokus op die geboorte van Christus met die enkele doel om Sy maagdelike geboorte, Sy vleeswording en die vervulling van Sy profetiese Messiasskap te dokumenteer. Soos die skertsende voorstelle wat volg, moet ‘n mens in gedagte hou dat daar geen Bybelse volmag, presedent òf voorskrif is vir die herdenking van die dag van Christus se geboorte as ‘n dag van spesiale godsdienstige feesviering nie.)
1. Doopfeesviering – Waarom nie drie dae van swempartytjies in die somer hou ten einde Christus se drie dae in die graf te vier of te simboliseer nie? Ons kan selfs ‘n tyd kies gegrond op ons bespieëling van wanneer Johannes die Doper Jesus gedoop het!
2. Hemelvaartfeesviering – Waarom nie ‘n dag elke jaar opsy sit vir warmlugballon ritte om Christus se hemelvaart te gedenk nie?
3. Wonderwerkfeesviering – Daar is aansienlike Bybelse fokus op Jesus se wonderwerke (selfs meer as op Sy geboorte), waarom dan nie een dag elke jaar opsy sit om Christus se eerste wonderwerk te vier nie? En aangesien dit die verandering van water in wyn was (Jn. 2), waarom nie “Christelike” wynproe-partytjies hou nie?!
D. Vermy die Rasionalisering dat:
1. “Kersfees Voorsien ‘n Feestelike Geleentheid om Die Evangelie Mee te Deel” – Mens kan nie iets wat in God se Woord veroordeel word neem en “dit gebruik” om die Evangelie te verkondig nie; net so min sal dit deur God geheilig word om daarmee Sy Woord te verkondig. Onaanvaarbare aanbidding en die “vermenging” daarmee met onheilige/heidense formaliteite is beslis nie die normale middele waarmee God die gelowiges seën nie. Satan is werksaam om sy sisteem met dié van God se sisteem te laat saamsmelt, omdat wanneer onaanvaarbare aanbidding (paganisme) vermeng word met ware aanbidding (God se waarheid), word ware aanbidding vernietig.
Om die waarheid te sê, wanneer ‘n mens heidense idees en gebruike vermeng met die suiwer godsdiens van Christus, word dit altyd in die Skrif as die afskuwelike sonde van afgodediens veroordeel! God het nog altyd dit verafsku as dinge wat aan afgode gewy is gebruik word om Hom te aanbid. [Dit is ‘n feit dat hierdie “spesiale tyd van die jaar” waarskynlik meer van ‘n hindernis is as ‘n hulpmiddel vir die ontvanklikheid van die Evangelie boodskap. Baie van die feesvieringe deur die hedendaagse samelewing waargeneem, mislei mense om te veronderstel dat dit God behaag, terwyl Hy in werklikheid beledig word deur valse godsdiens, skyn-aanbidding en vreemde filosofieë. Die ekumeniese gees en nagemaakte “liefde” onder die dekmantel van “vrede en welwillendheid onder die mense,” verstomp ‘n mens se gevoeligheid vir sy verskriklike behoefte aan bekering van sonde en om met die heilige God versoen te raak.]
2. “Kersfees is Maar Net die Verering van Christus se Geboorte” – Iemand sal sê, “Ek weet Kersfees is van heidense oorsprong, maar ek dink tog dit is nie vir ‘n kerk verkeerd om ‘n spesiale tyd af te staan om Christus se geboorte te vereer nie.” Maar van wanneer af het Protestante geglo dat Christene die reg het om tot die Bybel by te voeg? Is die kerk ‘n wetgewende liggaam? Moet ons in navolging van die Bybel optree in ons geloof en in die praktyk, of in navolging van feilbare mense? As ons die reg gehad het om ‘n spesiale gewyde dag tot Christelike doelmatigheid by te voeg, sou ons 10,000 ander dinge kon toevoeg. Dan sal ons niks beter gewees het nie as die valse kultusse en die Rooms-Katolieke wat heidense tradisies navolg nie! [Die viering van Christus se geboorte is ‘n vorm van aanbidding. Maar aangesien Kersfees ‘n leuen is, is diegene wat dit vier nie besig om “in gees en waarheid” te aanbid nie (Jn. 4:24)].
3. “Al Wat ek doen is Om Christus Terug te Sit in Kersfees” – Die nuwerwetse konserwatiewe uitroep om Christus terug te sit in Kersfees is onsinnig. Soos vroeër omstandig uiteengesit in hierdie verslag, was Jesus Christus nog nooit in Kersfees gewees nie. Dit is onwaar om te sê dat Hy was; en Hy het geen aandeel in ‘n leuen nie. Wanneer ‘n mens die waarheid neem en dit meng met ‘n leuen, het ons nie meer die waarheid nie. Dan het ‘n mens die waarheid verander in ‘n versinsel. Nog minder is dit moontlik om ‘n leuen te neem en dit met genoeg waarheid te vermeng sodat die leuen verander word in die waarheid. Jy sit nog steeds met ‘n leuen. Iemand sal miskien sê, “Goed, ek weet dit is nie die waarheid nie, maar ek sal Christus terug plaas in Kersfees en God dan daarin verheerlik.” Nee, jy sal nie. Christus was nog nooit in Kersfees nie. Jy kan ‘n leuen nie in die waarheid verander nie. [In plaas van Krismis] sal dit in werklikheid Baälmis, Nimrodmis, Tammusmis of Mariamis wees. Krismis [Engelse ‘Christ-mass’] is ‘n leuen. Waarom ‘n leuen gebruik as ‘n geskikte tyd vir ‘n kernwaarheid (Christus se vleeswording) van die Christelike geloof?
4. “Ek Gebruik Kersfees om te Getuig vir Christus, Net soos die Apostel Paulus Gedoen het” – Sommige sê dat al wat hulle doen is om die “waarheid” van Kersfees (d.i., die vleeswording van Christus) te neem en dit te “verbou” soos die Apostel Paulus gedoen het (Han. 17/Areópagus), toe hy van die regte tyd gebruik gemaak het om te getuig aan ‘n verlore wêreld. Dit sou pragtig wees as hierdie Christene slegs gedoen het soos Paulus gedoen het. Toe Paulus die Griekse wysgere toegespreek het op die Areópagus, het hy aan hulle verkondig dat hulle “onbekende God”, vir wie hulle ‘n altaar opgerig het, niemand anders was as “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is.” [vers 24]. Paulus was nie afgeskrik of bedreig deur die heidense omgewing en simbolisme nie. Ook het hy nie die Grieke vir hulle dwaling bestraf nie, maar hulle slegs op die waarheid van die evangelie van Christus attent gemaak. Maar kan dit waarlik van Christene gesê word dat hulle van die “geleentheid wat die regte tyd aanbied” gebruik maak op dieselfde wyse as wat Paulus van die geleentheid gebruik gemaak het wat die heidense altaar hom gebied het? Sien ons miskien dat Christene persoonlik staan voor hulle tuisstad of -dorp se openbare vertonings van Kersfees (geboorte van Christus-tonele, ens.) en die Evangelie verkondig?
Om Paulus te parafraseer, sê hulle miskien: “Mense van ............. [Johannesburg, Kaapstad, vul maar in], ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is; Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.”? Kom hulle uit die openbare skole waar hulle so pas hulle kinders se Kersprogramme bygewoon het en preek vir dié wat dit bygewoon het aangaande die ware God wat op ‘n dwase wyse verkeerd voorgestel was in die program wat hulle nou net aanskou het? Beswaarlik. Selfs vir meeste van diegene wat bewus is van die ware oorsprong van Kersfees, beteken hierdie “unieke tyd van die jaar” om ongelowiges na hulle huise te nooi om by ‘n Kersboom saam te kom waar heidense gebruike en heidense feesvieringe alles behalwe as ‘n geleentheid gebruik gaan word om van Christus te getuig. As dít Paulus se werkwyse in Handelinge 17 was, sou hy die mense in die Atheners se tempel of in hulle huise ontmoet het; vergader het rondom hulle afgode wat hy verchristelik het; en wat hy dan sou gebruik het as ‘n deel van sy aanbidding.
Meeste van die mense wat hulle huise en kerke versier met Kersbome, hulskranse, tonele van Christus se geboorte, ens., (wat almal veronderstel is om gebruik te word as “geleenthede” langs die weg van “Kerspartytjies,” Kersfeeskonserte, die gee van geskenke oor en weer, ens.,) is daarvan oortuig dat hulle God ‘n guns bewys. En aangesien hulle nie betrokke is in die onbesonne wêreldlike “kommersialisering” waarin die wêreld se mense hulle so verlustig nie, maar eerder “vir Christus in die Krismis teruggesit het”, redeneer hulle dat alles Bybels en vir God welbehaaglik is.
5. “Dit Beteken Nie Iets vir My nie” – Menige Christen wat gereeld daarvan ‘n gewoonte maak om sorgvuldig uit te soek watter Bybelse opdragte hulle sal gehoorsaam of nie gehoorsaam nie, het op soortgelyke wyse hierdie gebruik oorgedra na die viering van Kersfees. Hulle beweer, “maar die Kersboom, misteltak, Sinterklaas, ens., het vir my geen heidense betekenis nie, daarom sal ek my Christelike vryheid uitoefen en aan dit alles deelneem.” Vanselfsprekend, as ‘n mens so ‘n onverskillige benadering tot die fisiese wêreld het (d.i., “ek kan rotgif drink omdat ek verkies om dit nie as gif te beskou nie”), gaan dit waarskynlik tot ‘n spoedige fisiese dood lei. Hoe is dit dan dat Christene meen hulle kan geestelike skade vryspring deur God se geestelike waarskuwings te ignoreer?
6. “Die ‘Verbondenheid’ is al Verbreek” – Daar is diegene wat die heidense aard van die onderskeie Kersfees aanbiddingsformaliteite en -gebruike besef. Nietemin, baie van hierdie Christene beweer dat vanweë die lang verloop van tyd vanaf die heidense ontstaan tot nou toe (6000 jaar?), het die “verbondenheid” aan paganisme al in so ‘n mate verklein dat die aanneming van hierdie formaliteite en gebruike in die Christelike aanbidding en viering maar toegelaat kan word. Dit mag miskien waar wees dat meeste van die simbole hul oorspronklike demoniese betekenis en sinrykheid in die moderne samelewing verloor het, maar dan is dit vreemd en absurd dat Christene daarna streef om Christus se geboorte te herdenk met verwelkte simbole van Satan. En alhoewel sommige van God se volk miskien naïef en onkundig mag wees oor die oorsprong van hierdie dinge, is God ongetwyfeld nie. Kan sulke dinge Hom behaag? En dink hieroor na – as dit moontlik was om huidige gebruike van hulle heidens/okkulte bronne te “ontkoppel,” waarom voorsien die Skrif ons nie met riglyne nie aangaande:
hoeveel tyd moet verloop vir die proses van “neutralisering”/ontbinding om te geskied; en
watter van die honderde antieke heidense ritusse sal dan aanvaarbaar wees vir aanwending in die Christelike aanbidding (in die lig daarvan dat sommige klaarblyklik baie meer heidens/okkulties is as ander)?
7. “Daar is Honderde ander Items In die Daaglikse Lewe Wat ‘n Heidense Oorsprong het” – Daar word gesê, “Sulke dinge soos die troupand; sekere kledingsgebruike; die moderne indeling van tyd in ure en minute; die benamings gegee aan die dae van die week, ens., het almal heidense verbintenisse in hul ontstaan, derhalwe is dit dan nie ‘n teenstrydigheid aan jou kant om te beweer dat hulle betekeniswaarde voldoende gedaal het terwyl Kersfees se betekeniswaarde dit nie gedoen het nie?”
Dit is nie wat ons besig is om te sê nie. Ons sou die wedervraag wil vra, “Op watter van hierdie heidense items fokus ons om die geboorte van Christus te vier? Of watter van hulle is ‘verchristelik’ en ingebring in ons weeklikse aanbidding van, of ons daaglikse toewyding aan, Christus – soos wat julle doen met die heidense formaliteite en tradisies van Kersfees?” Die ontstaan en betekenis van ‘n gebruik, tradisie of formaliteit verwerf geen betekeniswaarde nie, tensy dit op een of ander manier spesifiek ingelyf word in, of in lyn gebring word met, ons aanbidding. Soos wat ons reeds uitvoerig uiteengesit het in die gedeelte oor Christelike vryheid (Afdeling IV.B.), is hierdie troupante, kledingsgebruike, ens., bloot die neweprodukte van heidendom, nie paganisme sigself nie. Boonop het hulle geen godsdienstige konnotasies of assosiasies van hul eie ontwikkel nie, soos wat die gebruike en tradisies van Kersfees wel gedoen het.
8. “Die Doop (en Besnydenis) Het Hul Oorsprong in die Heidendom en God Het die Gebruik daarvan in Die Skrif aangedui. Wat is Dan Daarmee verkeerd om Heidense formaliteite van Kersfees te Gebruik?” – Hierdie redenasie word dikwels deur leraars gebruik wat sê dat om konsekwent te wees, behoort diegene wat wil hê ons moet die formaliteite, simbole en tradisies van Kersfees verbied, ook op ons ‘n beroep doen om gelowiges se doop te laat vaar. Met ander woorde, behoort dié wat Kersfees in die ban wil doen nie soos volg te sê nie: “Aangesien die antieke misteriegodsdienste vorms van doop beoefen het, is die doop derhalwe ‘n heidense gebruik en behoort dit vir die gelowige in Christus onwettig verklaar te word”? Hierdie is ‘n eienaardige redenasie vir enigiemand om te gebruik (en na ons mening openbaar dit ‘n swak insig in Skriftuurlike vermanings). Indien die doop afwesig was in die Bybel, soos wat wel die geval is met die gebruik van heidense formaliteite en tradisies om Christus se geboortedag te vier of te herdenk, sou daar vir die doop geen Bybelse regverdiging gewees het nie – God het ons egter nie beveel om Christus se geboorte te vier of te herdenk nie – Hy het ons wel beveel om te doop (Mat. 28:19).
E. Onttrek Aan die Onderhouding van Kersfees – Wat dan behoort die Christen se reaksie te wees teenoor hierdie en ander heidense en Roomse versinsels? Dit kan eenvoudig net nie ontken word dat hulle heidens is en niks anders nie, van begin tot end. God gee aan ons spesifieke instruksies in Sy Heilige Woord: “So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie...” (Jer. 10:2). Hierdie woorde is volkome duidelik. Watter redelike keuses kan ‘n Christen hê wat die Bybel glo?
VI GEVOLGTREKKING
Die blote gewildheid van Kersfees behoort te veroorsaak dat die Christen dit in twyfel trek. ‘n Elk en ‘n ieder kan sonder om te aarsel Kersfees vier – openlike heidene, skynchristene en selfs Boeddhiste en Hindoes. Indien 25ste Desember in werklikheid die datum was wat God bepaal het om die geboorte van Jesus te gedenk, kan jy daarvan seker wees dat die wêreld niks daarmee te doen sou wou gehad het nie. Op stuk van sake, God het een dag uit sewe – die Dag van die Here – bepaal om Hom te aanbid. Onderhou die wêreld dit? Natuurlik nie. Soos verwag kan word is die wêreld lief vir Kersfees, maar vir die Here Jesus Christus haat hulle (Jn. 15:18, 23-25). Die wêreld vermy enigiets wat betrekking het op ware godsdiens. Behoort ‘n Christen nie minstens ‘n bietjie agterdogtig te wees jeens ‘n viering waarin die hele sondige wêreld kan meedoen sonder enige gewetensbesware nie?
Een manier om die Skriftuur-egtheid van ons gebruike te toets is om na te dink wat ons sal verwag dat sendelinge aan nuwe bekeerlinge in ‘n uitheemse kultuur moet leer. Met die Bybel as hul handboek kan hulle nuwe plaaslike kerke stig sonder die invoering van enige land se kulture wat belaai is met Rooms Katolisisme, liberale Protestantisme en ‘n ongevoelige handelsgees. Sendelinge wat by nuwe bekeerlinge daarop aangedring het om alle heidense bygelowige relikwie te versaak, was al later in verhoor geneem oor die klaarblyklike teenstrydigheid van hulle eie land se Kersfees-gebruike. Boorlinge het dit gesien as afgodies, alhoewel die sendelinge onbewus was van so ‘n moontlikheid!
Wanneer Kersfees ontmasker word vir wat dit werklik is, vertoorn dit mense. Dit vertoorn Protestantse mense! En daar is ‘n rede waarom dit so is. Wanneer die heidense viering van Kersfees ontwortel en verwerp word, kom dit daarop neer dat dít wat ‘n Protestantse tradisie geword het, in werklikheid afgekeur word! En dit is waarom mense kwaad word. Dit het begin as ‘n Rooms-Katolieke gewyde dag en toe word dit ‘n Protestantse gewyde dag. En sou enigeen waag om dit aan die kaak te stel vir wat dit werklik is, sal hulle hul die gramskap van die Protestantse godsdienstige organisasie op die hals haal. Kersfees is deur en deur ‘n heidense gewyde vakansiedag – in sy ontstaan, in sy tooisel en in al sy tradisies. Miskien moet ons oor wyle Charles Haddon Spurgeon se woorde nadink wat hy op die Dag van die Here gepreek het op 24 Desember 1871:
“Ons het geen bygelowige eerbied vir jaargetye en seisoene nie. Ons glo beslis nie in die huidige kerklike reëling wat Krismis heet nie: eerstens, omdat ons hoegenaamd nie in die Mis glo nie, maar dit verafsku, of dit nou in Latyns of Engels gesing of opgesê word; en tweedens, omdat ons hoegenaamd geen Skriftuurlike magtiging vind om enige dag te gedenk as die geboortedag van ons Verlosser nie; en gevolglik is die onderhouding daarvan ‘n bygeloof, want dit dra geen Goddelike gesag nie. Bygeloof is baie beslis ingespan by die vasstelling van ons Verlosser se geboortedag, nieteenstaande die feit dat daar geen moontlikheid bestaan om vas te stel wanneer dit plaasgevind het nie...
“Dit was nie voor die middel van die derde eeu dat enige deel van die kerk die geboorte van ons Here gevier het nie; en daar het baie tyd verloop nadat die Westerse kerk die voorbeeld gestel het, voordat die Oosterse kerk dit aangeneem het. Omdat die presiese dag onbekend was, het bygeloof dit derhalwe vasgestel.... Waar is die metode in die malligheid van die bygelowige? Waarskynlik is dit ‘n feit dat die gewyde dae so aangepas is dat dit saamgeval het met die heidense feesvieringe... Ons waag dit om te konstateer dat as daar nou een dag in die jaar is waarvan ons baie seker kan wees dat dit nie die dag was waarop ons Verlosser gebore was nie, dan is dit die vyf en twintigste dag van Desember... Al slaan ons nie ag op die dag nie, laat ons nogtans God dank vir die geskenk van Sy geliefde Seun...”
En van Dr. H.A. Ironside se Lectures on the Book of Revelation (1920; p. 301):
Dit is ‘n beklaenswaardige feit dat Babiloniese beginsels en gebruike vinnig en verseker versprei in die kerke wat van Rome ontkom het tydens die Reformasie. Ons kan die aanduidings daarvan sien in die algemene gebruik van verhewe klinkende kerklike titels, wat voorheen onbekend was in die gereformeerde kerke; in die herlewing van gewyde dae en kerklike feestye soos Vastyd, Goeie Vrydag en Christus se Mis, of, soos dit gewoonlik geskryf word, Krismis... Wanneer sommige van hierdie feesvieringe verander word in kerklike feesvieringe, kom hulle beslis onder die oordeel van Galasiërs 4:9-11, waar die Heilige Gees waarsku teen die viering van dae en maande en tye en jare. Almal van hulle, en vele ander wat bygevoeg kan word, is van Babiloniese oorsprong en was op ‘n sekere tydstip verbonde aan misterie-aanbidding van Astarte en Tammus. Hulle het na ons toe gekom vanuit Rome; en dit sal vir ons goed wees om te onthou dat Babilon ‘n moeder is, met dogters [Openbaring 17:5] wat bes moontlik sal deel hê aan hul moeder se karaktertrekke...”
En, laastens, van Alexander Hislop se The Two Babylons: Or the Papal Worship:
“Regskape mense het getrag om die gety teë te hou, maar ten spyte van al hulle pogings, het die afvalligheid voortgeduur totdat die Kerk, met die uitsondering van ‘n klein oorblyfseltjie, verswelg was in heidense bygeloof. Dat Kersfees ‘n heidense viering is, ly geen twyfel nie. Die tyd van die jaar en die seremonies waarmee dit gevier word, is genoeg bewys van die oorsprong.”
Ons kan opsom deur te sê dat nêrens in die Skrif word ons beveel om die geboorte van ons Here te herdenk nie en God die Vader het dit klaarblyklik as onwysheid geag om die datum bekend te maak. Derhalwe sal dit vir altyd onbekend bly en behoort dit nie plegtig herdenk en gevier te word nie. Trouens, God het ons daarteen gewaarsku om verstrik te raak in die waarneem van spesiale dae [Gal. 4:10]. Let egter daarop dat ons wel beveel word om Sy dood te gedenk (maar ook hiervoor is geen spesiale dag aangewys nie):
“...Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.” (Lukas 22:18-19; 1 Kor. 11:23-26).
Om Sy dood te herdenk is Skriftuurlik. Enige dag van die jaar is aanvaarbaar. Om Sy geboorte te herdenk is onskriftuurlik en selfs ‘n Skrif-byvoeging (Deu. 4:2; 12:32; Spr. 30:6; Ope. 22:18-19), of ons nou 25 Desember kies of enige ander dag. As dit God se begeerte was dat ons Christus se geboortedag moet herdenk, sou Hy ons van ‘n presiese datum voorsien het. Maar as Hy dit gedoen het, sou Hy elke sterrewiggelaar in die afgelope 2000 jaar korrek bewys het. In die okkultisme is die gedenkdag van ‘n persoon se geboorte die heel belangrikste bowenatuurlike dag van die jaar. Die Bybel erken gladnie so ‘n betekenisinhoud nie. Dit is betekenisvol dat daar slegs twee verjaarsdagvieringe in die hele Bybel opgeteken staan en hulle was albei ten opsigte van goddelose konings – en beide het uitgeloop op teregstellings! (Gen. 40:16-22 en Matt. 14:6-10/Mk. 6:21-27).
Die Apostel Paulus sê: “... mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis [nie die wieg nie] van onse Here Jesus Christus...” (Gal. 6:14). In die geboorte van die Here Jesus ervaar ons op sigself geen redding nie, want redding is slegs deur Sy dood (d.i., deur Sy vergote bloed) en sy opstanding moontlik gemaak. Ons aandag behoort toegespits te wees op die kruis en ons opgevaarde Verlosser, en nie op ‘n wieg nie.
Almal wat vir Jesus liefhet moet hulle
sekerlik daarin verbly dat Hy gebore was en as mens onder ons kom woon het.
Maar as ons Hom waarlik wil verheerlik en wil getuig van wie Hy is, moet ons
ophou om daardie geseënde geskenk te skend met die losbandigheid van die
heidendom. As ons aan Sy geboorte eer wil bewys, laat dit gedoen word soos Hy
dit sal doen: om die heel jaar deur ons medemens onselfsugtig te dien as ‘n
nimmer eindigende daad van liefde teenoor ons Here. Laat ons wegdoen met die
hele mengelmoes van heidense gebruike, Sy mantel en Sy suiwer aanbidding opneem
en aan die verwarde wêreld wys dat daar ‘n verskil is.
BIOGRAFIE / BRONNE
Assemblies of Yahweh. The Case Against Christmas. Sacred Name Broadcaster, Bethel, PA,23pp.
Becker, R.F. The Truth About Christmas. Chapel Library, Venice, FL, 36 pp.
Blanton, Raymond. The Christmas Lie. Highways & Hedges Tracts. Liberty. SC, 13 pp.
Huday, George. The History of the Christmas Card. Putman Pub., New York, 1954, 304pp.
Dager. Albert James. "The Origins of Christmas Traditions," Media Spotlight Special Report Redmond, WA, 1985.
Dickey, D.J. & Sheller, Earl "Should A Christian celebrate Christmas?” Grace Reformed Baptist Church, Vernonia, OR, 10/89: three-part sermon series -- each on a 90-minute audio cassette tape.
Dossey, Donald, Holiday Folklore, Phobias and Fun: Mythical Origins, Scientific Treatments & Superstitious "Cures," Outcomes Unltd. Press, Asheville, NC, 1995 (paper cd.), 232pp.
Elwell. W. A. (Ed.). Evangelical Dictionary of Theology. Baker Book House, Grand Rapids, MI. 1984, pp. 218-221.
Halff, Charles. The Truth About Christmas. The Christian-Jew Foundation, San Antonio, TX, 13pp.
Halff, Charles. “Is Christmas a Jewish Holiday?” Message Of The Christian Jew. November-Desember 19993, pp. cover, 1,2 & 7.
Helgerson, John C. Considering the Christmas Issue. The Church of the Open Bible, Burlington, MA, 12/31/90.
Hislop, Alexander. The Two Babylons: Or The Papal Worship. Loizeaux Bros., Neptune, NJ, 1959:Second Edition, 330pp.
Kohler, John, Our Baptist Heritage, Heritage Baptist Church, Salem, IN, Vol. 2, No: 3. 11/92.8pp.
McCurry, Robert. The God Man Has Made. Heritage Press, Sharpsburg, GA, 8pp.
Pink. A.W. Xmas. Chapel Library, Venice, PL. 6pp.
Schneider, Michael. Is Christmas Christian? Chapel Library, Venice, PL, 15pp.
Spurlin, Ed. Where Is The Christ in Christmas. Voice in the Wilderness, Milford, NH, 11/92, 8pp
Spurgeon, C.H. "Joy Born At Bethlehem," A Sermon: Delivered on Lord's Day Morning, December 24th, 1871. Metropolitan Tabernacle Pulpit, pp. 697-698.
Unknown. My Lord Has Not Told Me To Do It: The Christian and "Christmas. " Chapel Library, Venice, FL, 4 pp.
Unknown, 10 Reasons Why Christmas Is Unscriptural. Chapel Library, Venice, FL, 8 pp,
Vine, W.E.), Gospel Tract Publications. The Collected Writings of W.E, Vine, Volume 5. Glasgow, Scotland, 1986, pp, 436-439.
Willcock, Shaun. The Pagan Festivals of Christmas and Easter. Bible Based Ministries, Pietermaritzburg, South Africa, 1992, 76pp.
Wilson, Greg. Lets Keep Christ Out of Xmas. Landmark Independent Baptist Church, Homestead, FL, 4pp.
Deur Hannah Whitall Smith
‘n Stryd Teen Versoeking!
Daar word baie vrae met betrekking tot die onderwerp van versoeking gevra. Baie mense vra – is dit sonde? Kan ek dit regtig oorwin? Sal ek ooit ophou om versoek te word? Ons glo dat dié artikel in ‘n noodsaaklike behoefte sal voorsien deur op hierdie belangrike onderwerp lig te werp.
Hannah Whitall Smith was ‘n vrou met ‘n onwrikbare geloof wie se woorde en dade ooreengestem het. Sy was ‘n Kwaker predikant, die skrywer van etlike boeke en ‘n openbare spreker. Hannah was ook ‘n stigterlid van die Keswickbeweging – ‘n heiligheidsbeweging waarmee in 1874 in Keswick, Engeland begin is. Hannah het sewe kinders gehad maar slegs drie van hulle het tot volwassenheid geleef. Sy is in 1832 in Philadelphia gebore en het 56 jaar later na Engeland saam met haar eggenoot verhuis. Daar is sy op die ouderdom van 79 in 1911 oorlede. Hierdie artikel is geredigeer en omskryf uit Hoofstuk 10 van haar klassieke boek, “The Christian’s Secret of a Happy Life”, waarvan daar meer as ‘n miljoen kopieë gedruk is. – Melody Green, “Last Days Ministries.”
Talle groot foute aangaande die probleem van versoeking word begaan. In die eerste plaas blyk dit dat sommige mense meen dat versoekings sal ophou nadat hulle Christene geword het. Hulle dink dat God bevryding belowe nie net van toegee aan versoeking nie, maar ook van versoek te word.
Naas dit maak sommige die fout om versoekings as sonde te beskou. Hulle blameer hulself vir ingewings oor kwade gedagtes, alhoewel hulle dit verafsku. Dit bring hulle onder veroordeling en ontmoedig hulle. En omdat ‘n ontmoedigde siel maklik sonde ten prooi val, gebeur dit dikwels dat hulle val juis vanweë die vrees vir ‘n val.
Word toegewyde Christene steeds versoek?
Om die eerste misvatting op te los is dit slegs nodig om na die talle plekke in die Skrif te verwys wat aandui dat die Christen se lewe vol oorlogvoering sal wees. In werklikheid, eerder as dat dit sal verminder, neem versoekings oor die algemeen tienvoudig toe nadat ons ‘n dieper geestelike lewe begin binnegaan het. Dit is daar waar ‘n beroep op ons gedoen word om ‘n stryd te voer teen geestelike vyande wat se mag en vaardigheid om ons te versoek veel voortrefliker is as dié van enige vyande wat ons al ooit tevore teëgekom het. Maar geen hoeveelheid of tipe van versoekings behoort daartoe te lei dat ons dink ons het nog nie ‘n ware verhouding met Christus gevind nie.
Sterk versoekings is dikwels eerder ‘n teken van groot genade as van min genade. Toe die kinders van Israel aanvanklik Egipte verlaat het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; “...want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte.” (Exo. 13:17). Maar later, toe hulle geleer het om God beter te vertrou, het Hy toegelaat dat hul vyande hulle aanval. Selfs in hulle woestynreis het hulle min vyande teëgekom en min gevegte gevoer in vergelyking met dít wat hulle in die Beloofde Land teëgekom het. Dit was in die Beloofde Land waar hulle sewe groot nasies en 31 konings gevind het wat verslaan moes word – benewens ommuurde stede en reuse wat oorwin moes word!
Die Israeliete kon nie hulle vyande beveg het sonder om die land binne te gaan waar daardie vyande gewoon het nie. Derhalwe kan dit wees dat die einste krag van jou versoekings, liewe Christen, een van die sterkste bewyse is dat jy werklik in die land van belofte is waarna jy gesoek het om in te gaan!
Is Dit ‘n Sonde Om Versoek Te Word?
Die tweede misvatting is nie so maklik om mee te handel nie. Oënskynlik is dit beswaarlik die moeite werd om te sê dat versoeking nie sonde is nie, nogtans word baie angs ervaar deurdat hierdie feit nie besef word nie. Die geringste aanduiding van kwaad kom voor asof dit sóveel besoedeling daarmee aanbring dat die arme Christen aaklig voel – en ver van God af – omdat sulke gedagtes gekoester word. Dit is baie soos ‘n inbreker wat by ‘n huis inbreek en wanneer die eienaar hom begin teësit en verdryf, die inbreker omdraai en die eienaar daarvan beskuldig dat hý die dief is. So is die vyand se metode om ons te verstrik. Hy kom en fluister gedagtes van boosheid aan ons – twyfel, laster, jaloersheid, afguns en hoogmoed – dan draai hy om en sê, “O, hoe goddeloos is dit van jou om sulke dinge te dink! Dis baie duidelik dat jy nie op God vertrou nie – want anders sou dit onmoontlik gewees het vir hierdie dinge om in jou hart te kon opkom.” Die vyand se redenering klink so geloofbaar dat ons dit dikwels vir die waarheid aansien. Dit bring ons dan onder veroordeling en vervul ons met ontmoediging – en die vyand weet dat wanneer ons ontmoedig is, dit makliker vir versoeking is om by ons oor te gaan in werklike sonde. Een van die noodlottigste dinge in die geloofslewe is ontmoediging. Een van die hulpvaardigste dinge is vertroue. ‘n Wyse man het by geleentheid gesê dat om versoekings te oorwin is vertroue die eerste vereiste, en vertroue die tweede en vertroue die derde. Ons moet ‘n verwagting van oorwinning hê! Dit is waarom die Here dikwels vir Josua gesê het, “Wees net baie sterk en vol moed ... wyk daarvan nie regs of links af nie ... Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie.” (Jos. 1:7, 9). Dit is ook die rede waarom Hy vir ons sê, “Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (Joh. 14:27). Die mag van versoeking setel in die bangheid van ons harte. Die vyand is hiervan deeglik bewus en begin altyd sy aanval deur ons op enigerlei wyse te ontmoedig.
Ware Nederigheid
Ontmoediging spruit soms voort uit wat ons dink is ‘n regverdige droefheid en afkeer van onsself. Dit skok ons dat sulke dinge vir ons aanloklik kon wees. Maar hierdie beskaming is in werklikheid afkomstig van die feit dat ons stilletjies onsself gelukgewens het, deur te glo dat ons smake net té suiwer was, of dat ons afskeiding van die wêreld té volkome was, vir sulke dinge om ons te kon versoek. Ons is ontmoedig omdat ons iets van onsself verwag het en daardie “iets” nie daar is nie. Hierdie beskaming en ontmoediging kan miskien na ware nederigheid lyk, maar dit is in werklikheid ‘n veel erger toestand as die versoeking sigself. Dit is maar net die gevolg van gekrenkte eieliefde. Ware nederigheid kan dit verdra om sy eie volslae swakheid en dwaasheid onthul te sien, omdat dit nooit iets van sigself verwag het nie. Ware nederigheid weet dat sy enigste hoop en verwagting in God moet wees. Derhalwe, in plaas daarvan om die ootmoedige siel te ontmoedig om te vertrou, sal sulke openbarings dit aanspoor tot ‘n diepsinniger en meer volkome vertroue. Maar die huigelagtige nederigheid wat eieliefde (of hoogmoed) voortbring, stort die siel in dieptes van ontmoediging sonder geloof en kan dit na die einste sonde toe dryf waaroor dit so beangs is.
Hier is ‘n sinnebeeldige voorstelling wat dit wonderlik toelig: Satan het sy diensknegte byeengeroep vir ‘n vergadering om te bespreek hoe hulle ‘n goeie man tot sonde kon verlei. Een bose gees het gesê: “Ek sal hom laat sondig deur aan hom die genietinge van sonde voor te hou. Ek sal hom vertel van sonde se verlustiginge en die ryke belonings wat dit meebring.” “Dit sal nie werk nie,” het Satan gesê. “Hy het sonde op die proef gestel en weet al van beter.” Toe sê ‘n ander demoon, “Ek sal hom laat sondig deur aan hom te vertel van al die moeite en verdriet van deugsaamheid. Ek sal aan hom toon dat deugsaamheid geen genot inhou en geen belonings meebring nie.” “Dit sal ook nie deug nie,” het Satan gesê. “want hy weet dat Wysheid se “weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede.” (Spr. 3:17). “Nou goed,” het ‘n ander bose gees gesê, “Ek sal hom laat sondig deur hom in sy siel ontmoedig te maak.” “A!, dit sal werk!” het Satan uitgeroep. “Nou sal ons hom oorwin!”
“As die duiwel elke versoeking voorafgegaan het met ‘Ek is die duiwel, jou meedoënlose vyand; ek het gekom om jou te laat sondig,’ veronderstel ek dat ons beswaarlik enige begeerte sal voel om aan sy influisteringe toe te gee.”
‘n Ou skrywer het gesê, “Alle ontmoediging kom van die duiwel.” Ek wens dat elke Christen dit sy leuse wil maak en sal besef dat hy van ontmoediging moet wegvlug net soos hy van sonde sal wegvlug. Maar as ons nie daarin slaag om die waarheid aangaande versoeking te besef nie, sal dít onmoontlik wees. Die Bybel sê, “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val” (Jak. 1:2). Let op die aansporing: “Ag dit louter vreugde...” Derhalwe kan versoekinge nie sonde wees nie.
Ons Verantwoordelikheid
Dit is net so min sonde om die fluisteringe van die kwade in ons siele te hoor dan wat dit is om die goddelose gepraat van slegte mense te hoor terwyl ons verby hulle op straat loop. Die sonde kom, in beide gevalle, net as ons stop en by hulle aansluit! As ons aanhou om hierdie sondige fluisteringe oor en oor in ons gedagtes te laat maal, hulle rond te rol onder die tong, by hulle stil te staan half-instemmend met ons wil as synde die waarheid, dan sondig ons! Maar wanneer die sondige influisteringe kom, en ons dadelik van hulle af wegdraai, soos ons van die goddelose praatjies op straat sou doen, dan sondig ons nie. Ons kan miskien ‘n duisend keer op ‘n dag deur versoekings verlok word sonder om te sondig. Maar as ons begin dink dat hierdie versoekings werklike sondes is, sal die stryd reeds half verlore wees en sal die sonde beswaarlik in gebreke bly om ‘n volkome oorwinning te behaal.
‘n Oorwinningsverhaal
‘n Liewe dame het eenmaal na my toe gekom in groot benoudheid omdat sy nie die waarheid aangaande versoeking verstaan het nie. Sy was vir geruime tyd ‘n tevrede Christen en so vry van versoekings dat sy byna gemeen het dat sy nooit weer versoek sal word nie. Maar sy was onverwags aangeval deur ‘n baie vreemde vorm van versoeking en dit het haar met afgryse vervul. Sy het ondervind dat die oomblik wat sy begin bid allerhande soort aaklige gedagtes haar verstand instroom. Sy het ‘n baie beskermde en onskuldige lewe gelei. In die lig hiervan – en die feit dat hierdie gedagtes só aaklig was – het sy gevoel dat sy die goddeloosste van sondaars moes wees om selfs net in staat te wees om hulle te hê. Sy het begin dink dat sy seker ook nie regtig wedergebore is nie en sy was in sielsangs. Ek het aan hierdie liewe dame gesê dat hierdie aaklige gedagtes blote versoekings was – dat sy net so min vir hulle te blameer was as wat sy te blameer sou wees as sy ‘n goddelose man in haar teenwoordigheid hoor vloek het. Ek het haar sterk aangeraai om hulle te eien as versoekings, die rug daarop te keer en hulle onmiddellik aan die Here toe te vertrou.
Ek het verduidelik dat die vyand ‘n groot slag geslaan het deur haar te laat dink dat die gedagtes haar eie was en dat deur op hierdie wyse te dink, het hy haar in veroordeling en ontmoediging gedompel. Ek het haar verseker dat sy ‘n spoedige oorwinning sal ervaar as sy haar nie aan hierdie gedagtes sou steur nie – maar in plaas daarvan haar rug daarop sou keer en haar tot die Here wend.
Sy het die waarheid aangegryp en die volgende keer dat hierdie lasterlike gedagtes opgekom het, het sy aan die vyand gesê, “Ek het jou uitgevind. Jý opper hierdie verskriklike gedagtes. Ek haat hulle en ek wil niks met hulle te doen hê nie. Die Here is my helper. Ek neem hierdie gedagtes na Hom en laat hulle in Sy teenwoordigheid tot bedaring kom.” Die verydelde vyand, toe hy gewaar dat hy uitgevind is, het onmiddellik in verwarring gevlug en haar siel was volkome verlos.
As ‘n Christen sou gewaar dat ‘n sondige influistering van die vyand afkomstig is, weet Satan dat die Christen dit dan eerder sal verwerp as wat die geval sou wees as hy gedink het dit kom uit sy eie gemoed. As die duiwel elke versoeking voorafgegaan het met “Ek is die duiwel, jou meedoënlose vyand; ek het gekom om jou te laat sondig,” veronderstel ek dat ons beswaarlik enige begeerte sal voel om aan sy influisteringe toe te gee. Hy moet homself verberg om sy strik aantreklik te maak. Ons oorwinning sal baie makliker behaal word as ons nie onkundig is oor sy liste nie, maar hulle sou herken tydens sy heel eerste nadering.
Om Te Verdra Maak Ons Sterk
Ons begaan nog ‘n fout deur te dink dat al die tyd daaraan bestee om versoeking te bestry verlore tyd is – ure word aan stryd bestee en dit lyk of geen vordering gemaak word nie. Maar dikwels het ons God in meer opregtheid gedien tydens hierdie ure dan in ons tye van betreklike vryheid van versoeking. Want ons voer ons Here se stryd wanneer ons versoeking weerstaan en ure is dikwels dae werd onder hierdie omstandighede. Ons lees, “Salig is die man wat versoeking verdra,” (Jakobus 1:12) en ek is seker dit beteken om die voortdurendheid asook die herhaalde terugkering daarvan te verdra.
Niks kweek geduld soos die verdra van versoekings nie en niks dryf die siel tot so ‘n volslae afhanklikheid van die Here Jesus soos wat dit voortduur nie. En laastens, niks bring meer lof en eer en heerlikheid aan ons Here self dan die beproefdheid van ons geloof wat voortspruit uit menigvuldige versoekings nie. Ons lees dat die beproefdheid van ons geloof “baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word.” en dat ons wat geduldig versoekings verdra, sal “die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.” (1 Pet. 1:7; Jak. 1:12). Ons behoort nie té verwonderd te wees oor die inleidende vermaning in die brief van die apostel Jakobus nie, “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
Versoeking is iets wat God kan omsit en gebruik as ‘n instrument om te help om ons volmaaktheid te voltooi. Op dié manier word sonde se eie wapens teen homself gekeer en sien ons hoe alles, selfs versoekings, ten goede kan meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom. 8:28).
Die weg na oorwinning oor versoeking is deur geloof, wat natuurlik die fondament is waarop die hele Christelike lewe berus. Ons een groot tema moet wees: “Ons is niks. Christus is alles!” As ons eers ons volslae hulpeloosheid ontdek het, leer ons dat die enigste manier om met versoeking te handel is om dit aan die Here oor te gee en Hom te vertrou om dit vir ons te oorwin. Maar as ons dit in Sy hande plaas moet ons dit daar laat, en ek is van mening dat dit van alle dinge die moeilikste is. Dit blyk vir ons onmoontlik te wees om te glo dat die Here ons versoekings kan of sal behartig sonder ons hulp – veral as hulle nie onmiddellik verdwyn nie. Om geduldig voort te gaan om ‘n aanhoudende versoeking te “verdra” sonder om daaraan toe te gee of onsself uit die Here se hande los te laat ruk, is ‘n wonderlike oorwinning vir ons ongeduldige geaardhede. Dit is ‘n oorwinning wat ons moet behaal as ons God wil behaag.
Ons moet onsself aan die Here toevertrou vir oorwinning oor ons versoekings net soos ons in die begin onsself toevertrou het vir vergifnis. Ons moet onsself geheel en al in Sy hande laat vir die een sowel as vir die ander. Duisende Christene het dit gedoen en kan getuig van wonderbaarlike oorwinnings oor ontelbare versoekings. Hulle het inderdaad geword “meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”
Dit is my innige begeerte dat
Christene verlos sal word van die gebondenheid waarin hulle verval wanneer hulle
nie die ware aard en aanwending van versoeking verstaan nie. Wanneer versoeking
herken word vir wat dit is, naamlik versoeking – en dit nie verwar word met
sonde nie – kan ons onmiddellik sê, “Gaan weg agter My, Satan!” Ons sal weet dat
“Wanneer die teëstander aanstorm soos ’n rivier, jaag die Gees van die Here hom
op loop.” (Jes. 59:19). Dan kan ons die lewenspad bewandel te midde van die mees
aanvallende bestormings met onbenewelde en seëvierende vrede!
Deur Leonard Ravenhill
Die Evangelie Van Gebed
Niks laat mens so van gedaante verander soos gebed nie. Mense vra dikwels, “Waarom dring jy so sterk aan op gebed?” Die antwoord is baie eenvoudig – want Jesus het. Mens kan die titel “Heilige Evangelie Volgens Lukas” verander na “Die Evangelie Van Gebed.” Dit is die gebedslewe van Jesus. Die ander evangeliste sê Jesus was in die Jordaan en die Gees het soos ‘n duif op Hom neergedaal – Lukas sê dit was terwyl Hy besig was om te bid dat die Heilige Gees op Hom neergedaal het. Die ander evangeliste sê dat Jesus twaalf dissipels gekies het – Lukas sê dit was nadat Hy die nag in die gebed tot God deurgebring het dat Hy die 12 dissipels gekies het. Die ander evangeliste sê dat Jesus aan die kruis gesterf het – Lukas sê dat selfs terwyl hy gesterf het, het Jesus gebid vir hulle wat Hom vervolg het. Die ander evangeliste sê Jesus het op ‘n berg gegaan en het daar van gedaante verander – Lukas sê dit was terwyl Hy gebid het dat Hy van gedaante verander het. Niks laat mens so van gedaante verander soos gebed nie.
Die Skrif sê dat die dissipels bed toe gegaan het, maar dat Jesus gaan bid het – soos Hy gewoond was. Dit was Sy gewoonte om te bid. Dit is so, Jesus is die Seun van God – Hy was beslis gesalf vir sy bediening. As Jesus dit nodig gevind het om al daardie tyd in gebed deur te bring, het ek en jy nie ook nodig om tyd in gebed deur te bring nie? As Jesus dit in elke krisis nodig gevind het, het ek en jy dit nie ook in elke krisis nodig nie?
Daar word vertel van ‘n groep toeriste wat ‘n skilderagtige dorp besoek het en ‘n ou man by ‘n heining sien sit het. Ietwat uit die hoogte vra een van die besoekers hom, “was enige groot mense [bedoelende ‘van belang’] in hierdie dorp gebore?” Sonder om op te kyk het die ou man geantwoord, “Nee, net babatjies.” Die mense van die grootste belang was almal eers babatjies. Die grootste heiliges was eens kindertjies in die dinge van die Gees.
C. H. Spurgeon het tot bekering gekom op die ouderdom van 16 en het in Londen begin preek op die ouderdom van 19. Toe hy 27 was, het hy vir hom ‘n tabernakel gebou met sitplek vir 6,000 wat hy op Sondae twee keer volgepak het – dit is 12,000 – en een keer op Donderdagaande. Hoe? Hy het op God gewag. Hy het alleen met God verkeer. Hy het gestudeer... en hy het gebid.
Desperate Gebed
God maak al sy beste mense in die eensaamheid. Weet jy wat is die geheim van gebed? Bid in die geheim. “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.” (Mat. 6:6). As die deur toe is en daar niemand anders is nie kan jy nie ‘n vertoon maak nie. Jy kannie jou gawes ten toon stel nie. Jy kan ander beïndruk, maar jy kan God nie beïndruk nie.
In 1 Samuel 1:1-15 is die verhaal van Élkana en sy vrou Hanna wat van jaar tot jaar opgegaan het na Silo om te aanbid en aan die Here te offer. Gedurende hierdie tyd was Hanna baie bedroef omdat sy nie vir haar man ‘n seun kon baar nie. Hierdie deel van die Skrif gee ‘n taamlik beskrywende relaas van die tyd wat sy in gebed deurgebring het aangaande die onvrugbaarheid van haar moederskoot. Daar staan dat Hanna geween het. Meer nog, sy het onbedaarlik gehuil. Sy het haar hart uitgestort voor die Here. Sy was in haar hart bedroef; in haar siel verbitterd; geterg; en droewig van gees.
Wel, dit is nogal ‘n taamlike lys van beproewings – droefheid, ontbering en al die ander dinge wat oor hierdie vrou gekom het. Maar die sleutel tot die hele situasie is dat sy ‘n biddende vrou was. In 1 Sam. 1:20 lees ons dat sy haar beloning ontvang het: “En by die wisseling van die jaar het Hanna, wat swanger was, ’n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die HERE gebid.”
Nou ek sê dit heel dikwels – en mense hou nie daarvan nie – God verhoor nie gebede nie. Hy verhoor desperate gebede! Jou gebedslewe gee te kenne hoeveel jy op jou eie vermoë staat maak en hoeveel jy werklik in jou hart glo wanneer jy sing, “Nakend kom ek kleding vra, hulp’loos smeek ek om gena...” [Hal. 77]. Hoe meer selfvertroue jy het, hoe minder bid jy. Hoe minder selfvertroue jy het, hoe meer is jy verplig om te bid.
Wat sê die Skrif? Dit sê dat God die dinge neem wat gering is, die dinge wat niks is nie. Paulus sê in 1 Korintiërs 1:28, 29 dat God die dinge wat niks is nie, neem om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Ons het ‘n hele klomp “wat niks is nie”s in ons dag nodig.
Die Taal Van Die Behoeftige
Gebed is die taal van die behoeftige. Oor en oor bid Dawid, die Koning van Israel, “Here, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig.” (Psalm 86:1) En onthou jy dat een van die pragtigste psalms wat hy geskryf het lui, “Hierdie ellendige het geroep, en die Here het gehoor...” (Psalm 34:7).
Die apostel Paulus oorweldig my met sy geestelikheid, sy opregtheid, sy kolossale verstandsvermoë. Tog sê hy dat hy baie bewus daarvan is dat as hy swak is, dan is hy sterk. Hy het altyd probeer om aan homself en ander te bewys dat hy niemand besonders is nie.
Ware gebed is ‘n wedersydse verbinding. Ek praat met God en God praat met my. Ek weet nie hoe die Gees verbinding maak nie – of waarom God wil hê dat ek moet bid nie – maar dit is hoe God te werk gaan.
“Staan Op En Bid!”
Op ‘n dag was ek by ‘n konferensie met Dr. V. Raymond Edman van Wheaton Kollege, een van die grootste Christelike opvoeders in sy land. Hy het ons vertel van ‘n belewenis wat hy ervaar het terwyl hy in Ecuador as sendeling was. Hy was nog nie baie lank daar nie toe hy siek geword en sterwend was. Hy was al so ná aan die dood dat hulle klaar sy graf gegrawe het. Hy het groot sweetdruppels op sy voorkop gehad en daar was ‘n doodsroggel in sy keel. Maar skielik het hy penorent in die bed gesit en vir sy vrou gesê, “Bring my klere vir my!” Niemand het geweet wat gebeur het nie.
Baie jare later het hy dié verhaal in Boston oorvertel. Agterna het ‘n tenger ou dametjie met ‘n klein, omgekrulde, verslete boekie hom genader en gevra, “Watter dag het jy gesê was jy besig om dood te gaan? Hoe laat was dit in Ecuador? Hoe laat sou dit in Boston gewees het?” Toe hy haar antwoord, het haar verrimpelde gesig verhelder. Sy het na haar boekie gewys en gesê, “Daar is dit, sien jy? Om 2 vm het God gesê ek moet opstaan en bid – die duiwel probeer om vir Raymond Edman in Ecuador dood te maak.” En sy het opgestaan en gebid.
Duncan Campbell het die verhaal vertel van ‘n boer wat hy op sy land hoor bid het. Hy was besig om oor Griekeland te bid. Agterna het hy hom gevra waarom hy gebid het. Die man het geantwoord, “Ek weet nie. My gees was belas en God het gesê, ‘Jy moet bid, daar is iemand in Griekeland wat in ‘n slegte toestand verkeer.’ Ek het gebid totdat ek bevryding verkry het.” Twee of drie jaar later was die boer in ‘n byeenkoms waar hy na ‘n sendeling geluister het. Die man het van ‘n tyd gepraat toe hy in Griekeland gewerk het. Hy was toe in ernstige moeilikheid. Die tyd? Twee of drie jaar gelede. Die mans het bevindinge vergelyk en ontdek dat dit presies dieselfde dag was waarop God die boer ‘n gebedslas opgelê het, op ‘n eilandjie aan die kus van Skotland, vir ‘n man in Griekeland wie se naam hy nie eens geken het nie.
Dit mag vir jou voorkom of die Here vir jou vreemde dinge laat doen. Ek gee nie om nie. As die Here vir jou iets sê, gaan heen en doen wat Hy vir jou sê.
“Wie Mag Klim Op Die Berg Van Die Here?”
Daar is nog ‘n ervaring waarvan Duncan Campbell vertel het toe hy in Skotland gewerk het.
“Ek kon nie preek nie,” het hy gesê. “Ek kon nie tot God deurkom nie. Die hemele was solied. Dit was asof daar ‘n 3 meter dik plafon van staal was.” Ek het dus maar opgegee om te probeer preek. Hy het ‘n jong seun genaamd John Cameron gevra om te bid. Die seun het opgestaan en gesê, “Watter nut is daarin om te bid as ons nie reg is met God nie?” Hy het Psalm 24:3 aangehaal, “Wie mag klim op die berg van die Here?”
Jy kan tot God nie nader nie, tensy jy sonder skuld is, wat beteken dat jou verhoudinge met ander suiwer moet wees en jou hart rein. “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is...” (Psalm 24:3, 4).
Nadat die seun Psalm 24 opgesê het, het hy begin bid. Hy het vir 10, 15, 20 minute gebid. Toe sê hy skielik, “Verskoon my, Here, terwyl ek die duiwel weerstaan.” Hy het omgedraai en die duiwel begin vertel waarheen om te gaan en hoe om daar te kom. Hy het stryd gevoer vir al wat hy werd was. Praat van die volle wapenrusting wat God gee aantrek en die duiwel se aanslae weerstaan! Toe hy klaar was om die duiwel te weerstaan het hy opgehou met bid. Dit was eers ná 45 minute! Toe hy sy gebed geëindig het was dit net asof God ‘n skakelaartjie in die hemel aangeskakel het. Die Gees van God het neergedaal op daardie kerk, die gemeenskap, op die danssaal aan die buitewyke van die stad en op die kroeg aan die duskant van die stad. Herlewing is uit daardie gebed gebore!
Aan die einde van Maleági staan geskrywe, “... dan sal skielik (dis die woord waarvan ek hou, skielik) na sy tempel kom die Here na wie julle soek.” (Maleági 3:1). Onthou wat gesê word van die herders? Hulle het in die nag oor hulle skape wag gehou en meteens het die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn [Luk. 2:9]. Onthou jy die skare van persone wat in die bovertrek bymekaar was? [Han. 1:13, 15] Die Heilige Gees het skielik in daardie vertrek op hulle gekom.
Daar is ‘n datum in die geskiedenis waarvoor ek baie lief is. Dit was Woensdag, 13 Augustus 1737. ‘n Klein groepie mense in Morawië was in ‘n biduur bymekaar. Om 11:00 het die Heilig Gees skielik gekom. Weet jy wat gebeur toe? Die biduur wat 11:00 begin het, het vir 100 jaar aangehou! Dis reg. Vir ‘n eeu lank was daardie gebedskamer nie leeg nie! Dit is die langste gebed onder mans en vroue waarvan ek weet. Selfs kinders van ses en sewe jaar oud het vir eeue in barensnood in gebed verkeer oor name wat hulle beswaarlik kon spel.
Waarom Ons Nie Herlewing Het Nie.
Daar is ‘n ou dorp in Ierland waar hulle jou met eerbied ‘n plek sal wys waar vier jong mans aand vir aand vir aand saamgekom het om vir herlewing te bid. In Wallis is daar ‘n plek in die heuwels waar drie of vier jong manne, slegs 18 of 19 jaar oud, aand vir aand saamgekom het om te bid. Hulle wou God nie laat los nie; hulle wou nie nee as antwoord aanvaar nie. So ver as wat dit menslik moontlik was het hulle herlewing se geboorte afgebid. As jy dink jy kan herlewing in jou kerk sonder enige ongerief kry, vergeet daarvan. Herlewing kos baie.
Ek kan jou een eenvoudige rede gee waarom ons nie in hierdie land herlewing het nie. Omdat ons tevrede is om daarsonder klaar te kom. Ons soek God nie op nie – ons soek wonderwerke, ons soek groot kruistogte, ons soek seëninge. In Númeri 11 het Moses vir God gesê, “Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood...” Is jy vir hierdie land lief genoeg om te kan sê, “God, as u nie herlewing stuur nie, slaan my dan maar liewer dood”? Dink jy die tyd het aangebreek om Patrick Henry se gebed te verander van “Gee my vryheid of gee my die dood,” na “Gee my herlewing of laat my doodgaan”?
In die 30ste hoofstuk van Génesis gaan Ragel na Jakob en werp haarself in wanhoop neer. Toe sê sy, “Gee vir my kinders of anders sterf ek.” Is jy gewillig om jouself voor God neer te werp in ‘n strewe na die geestelike geboorte van geestelike kinders in ons land?
Mense sê, “Ek is vervul met die Heilige Gees.” As die inwoning van die Gees nie ‘n omwenteling in jou gebedslewe teweeggebring het nie, beter jy nagaan of dit so is. Ek is nie so seker dat jy gekry het wat God wou hê jy moes nie.
Ons het gesê dat gebed verander dinge. Nee! Gebed verander nie dinge nie. Gebed verander mense en hulle verander dinge. Ons wil almal hê Gabriël moet die taak verrig. God sê doen dit jouself – met My bekwaamheid en My sterkte.
Ons moet soos hierdie vrou Hanna word. Wat het sy gedoen? Sy het geween, sy was bedroef, sy het gesê sy het ‘n klagte, sy het gevas – en sy het gebid.
Jesus, die Gesalfde van God, het gebed ‘n gewoonte gemaak. Paulus, met sy agtergrond en verstandsvermoë, het op gebed staatgemaak want hy het gesê hy is swak. Dawid, die koning, het homself ‘n ellendige genoem en tot die Here geroep [Ps. 34:7]. Hanna het vir ‘n seun gebid en geboorte geskenk aan ‘n profeet. Die gebede van ‘n handjievol jong mans het herlewing aan die gang gesit.
Niks laat mens so
van gedaante verander soos gebed nie.
‘OM DEUR DIE VYAND SE BLOKKADES TE BREEK’
Deur Chuck D. Pierce
Nou is die Tyd om te Bou en te Plant!
Toe die Here Jeremia geroep het, het Hy hom getoon dat Hy hom oor koninkryke en nasies aangestel het en dat sy bediening deur stadiums sou gaan.
Hy sou afbreek, uitroei, vernietig en platslaan.
Baie van julle het al lank genoeg uitgeroei en afgebreek. Net soos wat die Here vir Jeremia gesê het dat hy sal bou en plant, het die tyd nou aangebreek vir ons om dieselfde te doen!
Om vir die toekoms te bou en te plant om aanwas voort te bring, kan soms moeiliker wees as uitroei en afbreek.
Ek voel dit is op elkeen van ons persoonlik van toepassing. Dit geld ook vir ons beroepslewens en selfs die gesamentlike beskouing waarmee ons in die bediening ingestel is.
Ek kan aanvoel dat ons ‘n tydperk binnegaan waar die vyand gaan poog om regverdigheid se voortgang in ons lewens, en selfs in hierdie nasie, te blokkeer. Hoe dikwels weet ons dat ons vorentoe moet beweeg, maar ons ervaar werklik ‘n weerstand wat ons weg vorentoe blokkeer.
Toe ek die Here geraadpleeg het oor hoe om te bid, het Hy my twaalf sleutelbeginsels getoon om ons te help om die vyand te ontwyk wanneer ons geblokkeer voel.
Koester ‘n begeerte om God op ‘n nuwe manier te aanbid.
Ons lees in Ex. 14 dat God vir die volk tussenbei kom om aan te beweeg. Hy het aan hulle 400 jaar tevore ‘n verbondsbelofte gegee.
Elkeen van julle het ook ‘n verbondsbelofte. Deur die geroep van God se volk in hulle omstandighede, stuur Hy vir ons ‘n verlosser om ons voort te lei tot in ons beloofde land.
Soms vind daar ‘n oorlog plaas om binne die grense van jou beloofde land te kom. Die Israeliete moes ‘n verlossing van hulle toestand en omstandighede hê sodat hulle op ‘n nuwe wyse kon aanbid.
Nadat hulle deur 10 fases van konfrontasie gegaan het, is die volk van Israel vrygelaat om te gaan aanbid. Verklaar dat jy verlos sal word van enigiets wat jou verhinder om God op ‘n nuwe wyse te aanbid. Breek weg van ou patrone van aanbidding!
Wanneer jy geblokkeer voel, wend aan watter gesag ook al God aan jou gegee het.
Hierdie verhaal is aan jou bekend: Nadat die volk vrygelaat is het hulle by ‘n plek aangekom waar die see voor hulle en die vyand agter hulle was. Alhoewel hulle verward was en nie geweet het hoe om verder te gaan nie, het Moses aan die volk gesê, “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.” (Exo. 14:13).
Daar kom ‘n tyd dat God met die vyande van jou verlede sal wil wegdoen. Die Here het tot Moses gespreek, “Sê aan die kinders van Israel dat hulle MOET WEGTREK.” Ons wil so dikwels stop wanneer ons geblokkeer voel. Toe het die Here vir Moses gesê, “hef jou staf op”, Moses se simbool van gesag. Ook jy het ‘n hoeveelheid gesag wat God aan jou gegee het. Wend daardie mate van gesag aan en jou weg sal vir jou begin oopgaan. Die Here sal dan jou vyand oorval sodat jy kan voortgaan na jou volgende fase van oorwinning. Moenie na jou vyand omkyk nie. Nou is die tyd om jou vyand een stap voor te bly!
Lofprysing bring ‘n einde aan tye van droogte; laat verkwikking kom; en maak jou pad oop.
In Num. 20:18 lees ons dat Edom deurgang aan Moses en die volk van Israel geweier het. Ofskoon Moses twee keer met Edom onderhandel het, kon hy nie toestemming verkry vir die volk om deur te trek na die land van belofte nie. Soms gebeur dit ook met ons. Ons doen alles in ons vermoë in ‘n poging om ‘n teenstander te oorreed om ons veilige deurgang te gee en tog lyk dit nie of ons enige vordering maak nie.
Ons vind in Num. 21 dat die volk by ‘n ander plek aankom waar dit lyk of hulle nie kan voort beweeg nie en baie dors raak sonder water.
Jy sal ook droë tye ervaar wat oppad na die land van belofte oor jou pad kom. God het die volk beveel om een ding te doen: OM BYMEKAAR TE KOM EN TE SING! Terwyl hulle gesing het “Spring op, op put”, het die put met water opgevul sodat hulle kon drink en verkwik word. [vers 17].
‘n Persoon wat sal stop en lofprys sal altyd vooruitgaan. Gesamentlike aanbidding is noodsaaklik vir ons oorwinnings in die dae vorentoe.
Vind jou plek van gesamentlike aanbidding. Selfs al voel jy nie lus vir aanbidding nie, bid. God sal jou verkwik, jou krag gee en jy sal in staat wees om vooruit te gaan.
Moenie bang wees om ou kwessies aan te spreek wat nog nooit ten volle aandag in jou lewe geniet het nie.
In 2 Sam. 5 vind ons dat Dawid as koning gesalf word – iets wat baie jare tevore aan hom beloof is. Sy eerste opdrag was om in Jerusalem die Jebusiete te verslaan. Dawid het geweet dat hy ‘n plek vir God se teenwoordigheid moes vestig. Die Jebusiete moes al verslaan gewees het toe Josua 400 jaar tevore die Beloofde Land binnegegaan het. As volk was hulle die nakomelinge van Kanaän (wat deur Noag vervloek is).
Vir Dawid om leërowerste en heerser te word en besit te neem van dit waarvoor hy gesalf was om te doen, moes hy die Jebusiete verslaan. Dikwels is daar in ons lewens of op ons weg ‘n ou sondige patroon wat van tyd tot tyd opduik. Ons kan nooit besit neem van al die voordele van God se verslossingsplan vir ons lewens alvorens hierdie sondigheid nie verslaan is nie. NOU is die tyd vir oorwinning!
Laat die Here toe om aan jou natuurlike maniere te wys hoe om jou vyande te oorval.
In werklikheid het die Here gesê dat hierdie tydperk soos ‘n “rioolmaand” sal wees. In 2 Sam. 5 het Dawid teruggestaan en ‘n ingang na Jerusalem gesien. Dit was egter deur die rioolkanaal! Moenie terugdeins om deur ‘n “gemors” te gaan om ‘n oorwinning te behaal nie. As jy goed oplet sal God jou die ingang tot jou oorwinning wys. Haal diep asem en gaan deur jou rioolfase en staan in ‘n nuwe plek van oorwinning vir jou toekoms. Jerusalem was die plek waar Dawid die teenwoordigheid van God moes vestig. Dit was die plek waar die Ark mettertyd sou rus. As jy gewillig is om deur jou riool te gaan, sal jy net vir ‘n kort tydjie “stink”. Dan sal God se teenwoordigheid in jou gevestig word en Sy guns sal jou omgewe.
Waak teen die vyand se teenreaksie
Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is het hulle gekom om sy opmars te keer. Die vyand kan dit nie verdra dat ons vorentoe beweeg nie en verafsku die blote gedagte dat die salwing van God in ons toeneem. Die Filistyne het Dawid aangeval. God het aan Dawid die oorwinning gegee. Maar, nadat hy die oorwinning behaal het, het die vyand eintlik hergroepeer om Dawid weer aan te val. Wees op jou hoede tydens die volgende paar maande.
Wees gewillig om kreatief te wees in jou konfrontasie met die vyand.
Moet nooit van God probeer misbruik maak deur te dink dat jy die vyand op dieselfde wyse kan konfronteer as by die vorige oorwinningsgeleentheid nie. Toe die Filistyne teen Dawid hergroepeer, het hy weer die Here geraadpleeg. Die Here het egter vir hom gesê hy moet nie weer op dieselfde manier optrek nie [2 Sam. 5:23].
Wees op jou hoede vir wettiese strategieë wat jou in ‘n strik kan laat beland tydens die volgende paar weke. Wettiesheid veroorsaak vrees en verhoed dat God se kreatiwiteit in ons werksaam is. Wettiesheid lei ons ook in ‘n roetine. Die Here het vir Dawid gesê om te luister vir “’n geritsel in die toppe van die melkbosse”.
Laat die Heilige Gees toe om jou bonatuurlik te vul. Luister om die stem van die Heilige Gees te kan hoor. Daar is ‘n geluid van die hemel wat vir jou as gids sal dien. Die Gees van God in jou sal maak dat jy daardie geluid kan hoor. Luister om die nuwe geluid te kan hoor! Wees kreatief in jou opmars.
Wanneer dit voel of jy geblokkeer is, vas dan, soek die Here se aangesig en wag vir Sy openbaring.
In 2 Kron. 20 vind ons ‘n bondgenootskap van vyandelike magte wat teen Josafat optrek. Alhoewel Josafat bang was het hy ‘n vasdag uitgeroep en by die Here hulp gesoek. Dit het gemaak dat die Gees van die Here oor die profeet Jagasiël gekom het. Hy het toe God se strategie vir ‘n oorwinning geprofeteer. Luister vir die profetiese woord. Die profetiese woord sal jou na sukses en oorwinning lei. Ons voer oorlog met ons profetiese woord.
Skryf die vyand se dreigemente neer en stel dan jou saak aan die Here.
So dikwels as die vyand teen ons optrek probeer ons na almal rondom ons gaan wat na ons probleme sal luister. Ons behoort egter ons saak aan die Here voor te lê. In 2 Konings 18 en 19 vind ons dat Sánherib, ‘n sinnebeeld van God se verbondsvyand, besig was om almal op sy pad te oorval. Hierdie heerser het toe gedreig om Hiskía te oormeester. Menigmaal sal die vyand jou aandag vestig op wat hy doen en sal jou dan oortuig dat jy volgende aan die beurt is. Sánherib het ‘n brief aan Hiskía gestuur. Ons sien hoe Hiskía hierdie brief as ‘n profetiese daad aan die Here voorlê.
Skryf die vyand se dreigement teen jou neer en hou dit aan die Here voor. Dit sal orde skep in jou manier van dink, jou van ‘n strategie voorsien en die Here self sal vir jou hulp stuur om jou vyand te oorval.
Moenie dat ‘n atmosfeer van ongeloof jou beïnvloed en jou daarvan weerhou om van geloof te spreek nie.
In Lukas 4 was Jesus in die woestyn gelei en het Hy die oorwinning oor die vyand behaal. Hy het toe in die krag van die Gees die woestyn verlaat. Toe Hy egter na Násaret gegaan en verklaar het wie Hy was en dat Hy gesalf was om God se plan in die aardse koninkryk te vestig, het die atmosfeer van ongeloof gepoog om Hom te weerhou om met Sy Vader se doelstelling voort te gaan. Te midde van ‘n atmosfeer van ongeloof, spreek van geloof.
Jesus het baie keer die vyand ontwyk.
Leer wanneer om ‘n ander rigting in te slaan. Heel dikwels het die godsdienstige vyand van daardie tyd na vore getree om te verhoed dat Jesus vorentoe beweeg. In Joh. 8:59 en 10:39 vind ons dat Jesus van die vyand af padgee. Hy het Homself versteek en uit die hande van die vyand ontkom wat gepoog het om Hom gevange te neem. As Jesus Sy bestemming, die kruis, kon behaal, kan Jesus in jou maak dat jy jou bestemming bereik. Laat toe dat Jesus in jou vir jou die pad aanwys deur die geblokkeerde omstandighede wat jou omring.
Verwag van GOD om namens jou te beweeg!
In Handeling 12 het Herodes vir Petrus in die gevangenis gesit. Daar het baie vervolging rondom die leiers in die Kerk plaasgevind. Die Kerk het vir Petrus begin bid. ‘n Aardbewing het plaasgevind. Let op vir omstandighede in die natuur wat tot jou voordeel strek. Maar nietemin, ons merk ook op dat toe Petrus by ‘n huiskerk opdaag, hulle nie kon glo dat dit Petrus was nie.
Wanneer jy bid, verwag dat God in beweging sal kom.
Selfs al sou die vyand poog om jou
daarvan te blokkeer om vorentoe te beweeg na alles wat God vir jou het, moenie
jou aan ‘n geblokkeerde weg onderwerp nie. Onderwerp jou aan God en weerstaan
die duiwel. Hy sal van jou af wegvlug en jy sal vooruit gaan.