BASIESE
GELOOFSWAARHEDE
SELF VERRYKENDE KURSUS
INLIGTING
Ons glo dat jy deur die kursus baie gaan leer en dat jou lewe – sowel as dié van andere om jou, baie daardeur verryk gaan word. Soos jy God deur Sy Woord beter leer ken, gaan jou liefde en jou bewondering vir Hom toeneem; jou verhouding met Hom as Vader gaan groei en toeneem; en jy gaan veel meer vreugde uit jou geestelike lewe put as ooit voorheen, terwyl jy al meer na die beeld van Christus begin ontwikkel.
Die sukses van hierdie kursus gaan egter afhang van hoeveel jy persoonlik bereid is om daaraan te werk. As jy dit halfhartig doen en afskeeptyd daaraan bestee, gaan dit nie vir jou veel beteken nie, maar as jy uit die staanspoor doelbewus en met oorgawe begin om gereeld en met mening daagliks die Woord van God te lees, die lesings sistematies deur te werk en die inhoud daarvan jou eie te maak, kan jou hele lewe omskep word! Pasop vir die fout om die materiaal en selfs hierdie brief net vlugtig en bolangs deur te lees sonder om na die pitkos te soek. Die kursus is spesiaal so saamgestel dat dit deeglikheid, getrouheid en selfdissipline, wat sulke noodsaaklike eienskappe vir enige dissipel van Jesus is, kan bevorder.
Onthou, die woord “dissipel” is afgelei van “dissipline” en daarom is dit noodsaaklik dat ons uit die staanspoor daaraan werk om onsself ooreenkomstig die Woord van God in die volle sin van die Woord te dissiplineer. Onthou, ’n ware dissipel is iemand wat alles insit om te word ‘NET SOOS SY MEESTER’.
Pak hierdie kursus biddend en in volle afhanklikheid van die Heilige Gees aan. Jesus het self belowe: “..... Die Heilige Gees... sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh.14:26).
Wees verseker dat elke lesing van hierdie kursus biddend en onder die leiding van die Heilige Gees geskryf is. Jy sal dan ook sien dat die kursus waarlik op die Bybel gegrond is. Ons bou nie op een of ander kerk se leerstelling nie en hou nie ons eie gedagtes en slim stories voor nie, maar net dit wat die Woord sê. Ons bede is dan ook net dit, dat soos wat jy met die kursus vorder, die Bybel werklik vir jou die lewende Woord van God sal word, en selfs meer as dit: ja, dat dit ook jou Woord sal word.
Sterkte met die werk. Ons sien daarna uit om met jou saam te werk en ons bid jou die krag, seën en vrede van ons Here Jesus Christus toe!
Riglyne vir die bestudering van die kursus:
Die Basiese Geloofswaarhede kursus kan oor ’n tydperk van een jaar behoorlik deurgewerk word. Dit is ingedeel in 10 lesings oor tien belangrike onderwerpe. Elke lesing is weer onderverdeel in vier onderafdelings met die gedagte dat een lesing per week deurgewerk moet word. Saam daarmee moet die Bybel daagliks gelees word soos aangedui in die Bybel lees program, wat aanpas by die onderwerp. Daar moet weekliks ten minste een teks deeglik gememoriseer word.
Ons gee graag vir jou ’n paar wenke oor hoe om die beste gebruik te maak van die kursus.
Lees elke lesing ’n paar maal gedurende die week deur. Doen dit biddend en vra die Heilige Gees om dit self aan jou te verduidelik. Soos jy heelwat tyd daaraan bestee, gaan dit werklik in jou hart insink en jou eie word.
Hou gedurig jou Bybel byderhand terwyl jy die lesings deurwerk. Ons het baie van die tekste volledig uitgeskryf, maar jy moet dit, sowel as die tekste wat ons noem, self in die Bybel gaan opsoek sodat jy dit in die regte verband kan lees. Onderstreep dit netjies sodat jy dit maklik kan raaksien en kan gebruik wanneer jy dit nodig het. Ons het deurgaans van die Ou Vertaling van die Bybel in Afrikaans (1953-vertaling) gebruik gemaak. Die rede hiervoor is die foutiewe en onjuiste vertaling van die "Nuwe Vertaling". (Indien jy meer besonderhede en inligting hieromtrent wil bekom, kan jy gerus die boekie, "AANSLAG OP DIE BYBEL" deur prof. J.S. Malan, vir jouself aanskaf. Dit kan verkry word van Die Basuin, Posbus 1969, Pietersburg, 0700). Waar sommige tekste in ander Bybelvertalings duideliker en in vandag se idioom beter gestel word, sal ons trag om dit vir jou deur te gee en dan sal ons aandui waaruit dit kom.
Lees daagliks die spesifieke hoofstuk wat in die Bybellees program aangegee word. Dit is spesiaal so opgestel dat dit aanpas by die maand se onderwerp, met die doel om jou te help om sistematies deur die Bybel te lees. Merk elke hoofstuk wat jy gelees het op jou Bybellees program af. So gaan jy elke maand ten minste 28 hoofstukke in jou Bybel deurlees.
Lees daagliks die spesifieke tekste wat vir memorisering in die Bybellees program aangegee word, en probeer dit uit jou kop leer. ’n Eenvoudige manier is om die tekste op ’n kaartjie te skryf en dit in jou sak te steek sodat jy dikwels gedurende die dag daarna kan kyk. Hierdie teksverse is gewoonlik die belangrikste tekste oor daardie spesifieke onderwerp, en as jy dit in jou hart en in jou verstand kan bêre, gaan jy dit maklik kan terugroep om dit weer te gebruik in jou stryd teen satan of om iemand anders te bemoedig en effektief teenoor hom te kan getuig. Sodra jy seker is dat jy die teks ken, merk dit op jou program af. Daar word verwag dat jy ten minste een teks per week leer, maar vir die ywerige student word daar ’n tweede teksvers aangegee.
Beantwoord nou die vrae aan die einde van die lesing. Dit is nie moeilik nie, en dit is net daarop gemik om seker te maak dat jy die spesifieke onderwerp goed verstaan. Gaan elke keer terug na die lesing of die teks wat aangegee word, want daaruit sal jy maklik die antwoord vind. Skryf dit dan in op die antwoord blad.
Moenie die kursus wegbêre en net vergeet nadat jy dit deurgewerk het nie. Gaan gedurig weer terug daarna. Vertel vir ander daarvan. Kry ’n groepie vriende bymekaar en doen Bybelstudie saam met hulle oor die lesings. Gebruik dit as basis vir ’n boodskap as jy die geleentheid kry om die Woord te verkondig. Onthou: die Woord is die onverganklike saad wat mense tot wedergeboorte kan bring. (1Pet.1:23).
Kopiereg. Daar bestaan kopiereg op al die lesingsmateriaal wat afgelaai word. Dit is gedoen om te verseker dat die materiaal nie geplagieer of verander word om die beeld en wese van hierdie kursus of die Woord te benadeel nie. Daarom mag jy nie die materiaal op enige wyse dupliseer of aan andere beskikbaar stel om direk daarvan gebruik te maak nie. Dit is vir jóú opleiding alleen bedoel.
Sterkte en seën vorentoe.
Van die Dokumente is in 'n maklike aflaaibare .pdf formaat.
Regs kliek en selekteer "save target as". Jy het dus 'n Acrobat Reader program nodig wat gratis aflaaibaar is.
Lesing Nommer Een: God Se Verlossingsplan
Afdeling A: Sonde
Afdeling B: Die Gevolg van Sonde
Afdeling C: God se Plan met die Sonde
Afdeling D: Vergifnis en Herstel
Lesing Nommer Twee: Geloofsekerheid
Lesing Nommer Drie: Geestelike Groei
Lesing Nommer Vier: Gebed
Lesing Nommer Vyf: Getuies Wees vir Christus
Lesing Nommer Ses: Heiligmaking
Lesing Nommer Sewe: God die Vader
Lesing Nommer Agt: Jesus - Seun van God
Lesing Nommer Nege: God die Heilige Gees
Lesing Nommer Tien: Wie is ek in Christus