Die Bybel se Ontstaan

(verkort - deur EP van der Merwe)

INLEIDING

God het in verbinding getree met ons as mense op ‘n wyse wat volkome in ons geestelike behoeftes voorsien en Hy het daardie boodskap in ‘n Boek geplaas. Tensy Hy self vir ons vertel, sal ons nooit met sekerheid kan weet wat die antwoorde is op daardie vrae wat vir ons as mense die meeste saak maak nie. In hierdie verband, soos u in die Byvoegsel aan die einde sal sien, is dit belangrik om daarop te let dat die Bybel self aandui dat dit ‘n boek is wat die geskrewe openbaring van God is. Die strekking van dié Boek se inhoud is onder andere om ons leiding en antwoorde te gee op die belangrikste vrae aangaande ons siele-kwessies – iets wat al die wyshede van die mens se wetenskappe heeltemal onbevoeg is om met enige mate van sukses te kan doen.

‘n Gewone naam vir ‘n  buitengewone  dokument 

Papirus is ‘n watergras met ‘n lang stingel wat in antieke tye veral aan die oewers van die Nylrivier in Egipte gegroei het. [Die wetenskaplike naam is Cyperus Papyrus.] Die kern van die stingels was in dun repies gesny en saamgepers om te dien as ‘n papier waarop geskryf is. Die Grieke van die ou tyd het die papirusplant biblos genoem. Deur ‘n natuurlike proses is hierdie benaming en ander variasies daarvan aangewend vir die skryfmateriaal wat van sulke plante gemaak is. In Latyns is dit biblia wat “boek” [in die enkelvoud] beteken. Derhalwe is die woord “Bybel” wat ons gebruik om die geskrewe openbaring van God te beskryf, heel eenvoudig maar baie betekenisvol, die gewone woord vir “boek”. Die enkelvoudige Latynse biblia vir “boek” wys op só ‘n eenheid van denke en bedoeling dat al 66 boeke van die Bybel werklik één Boek vorm. Ofskoon die Bybel ‘n egte boek is, is dit uniek deurdat dit ‘n openbaring aan die mensdom is afkomstig van die God van die heelal.           

Die wonder van menslike  taal

Iets om aan te dink is die feit dat die mens die vaardigheid besit om deur middel van ‘n taal met mekaar te kan kommunikeer. Hierdie vermoë van die mens het juis deur God se toedoen ontstaan sodat daar tussen Hom en die mens ‘n wisselwerking kon plaasvind, soos blyk uit die feit dat God gesprekke met die heel eerste mense gevoer het – Gen 1.28-29; 2.16-17; ens. In elk geval bly dit iets om ons oor te verwonder dat die God van die heelal ‘n verbindingsweg gebruik wat vir ons só verskriklik alledaags geword het, naamlik mensetaal, om ons te vertel van groot dinge oor Homself en Sy goedheid jeens die mens – dinge wat ons sonder die bestaan van ‘n taal nie van sou geweet het nie.

Profesieë

Wat nóg maak dat hierdie Boek uitstyg bo alle ander boeke? Om maar een ding te noem, God voorspel daarin gebeure voor die tyd en teken later die vervulling daarvan aan. Daar is talle voorbeelde hiervan, maar kyk in die eerste plek na die boek Daniël. Daarin is gebeurtenisse betreffende die Griekse en Romeinse Ryke vooraf ondubbelsinnig en haarfyn voorspel vier honderd jaar voordat dit in elke opsig gebeur het. Ons kan dus seker weet dat ook alles wat die Here in hierdie Boek oor die eindtyd en veroordeling van die ongeredde mense voorspel, beslis nog bewaarheid sal word.

In die tweede plek: Ongeveer 700 jaar voor Jesus na die aarde gekom het, word Sy persoon en werk as Messias vooruit deur Jesaja voorspel – meer uitvoerig as in enige ander O.T. boek. Jesaja voorspel die Messias se maagdelike geboorte as die Kind van God (7:14); hy profeteer oor Jesus as die lydende Messias wat deur Sy plaasvervangende boetedoening (versoening) redding vir die sondaar moontlik maak (hfst. 53); en hy voorspel Jesus as die Ewige Vader wat die Vredevors is (9:5 - 7). Jesaja eindig sy profesieë op ‘n baie ernstige noot: Net soos wat God red, so sal Hy ook die goddeloses oordeel en Goddelike straf uitmeet aan hulle. In hierdie verband spreek Jesaja dié noodlottige profesie uit: “Die Here kom om al wat leef, te straf met vuur en swaard, Hy sal baie laat sterf” (Jes 66.16). Elkeen wat nog nie hulle saak met die Here reggemaak het nie, moet hierdie waarskuwing oor die eindoordeel ter harte neem en hulle bekeer sodat hulle deur die bloed van die Lam van God gered kan word.

Eerste  geskrewe  dokumente

Dit sal sommige miskien verbaas om te weet dat bepaalde vorms van geskrewe dokumente iets is wat al vir baie duisende jare bestaan. Argeologiese opgrawings van erdewerk-tablette met gegraveerde skrif daarop is al gevind wat dateer uit die tydperk voor die sondvloed (aldus Halley’s Bible Handboek – Zondervan Publishing House, Grand Rapids, Michigan, bladsy 44). Gen 4.15 vertel van ‘n “teken” wat die Here aan Kain gegee het. Wát dit ook al was, almal wat hom raakgeloop het kon verstaan wat dit beteken.

Die  oorspronklike manuskripte

Meer as 40 afsonderlike persone het oorspronklik as mede-outeurs saam met God gewerk om die 66 boeke van die Bybel voort te bring. Sommige van die menslike skrywers is aan ons bekend en ander weer nie. Net om ‘n idee te kry hiervan: ons weet byvoorbeeld nie wie Rigters, Rut en Samuel geskryf het nie, om maar ‘n paar boeke te noem. Konings was waarskynlik oorspronklik deur verskeie onbekende persone geskrywe, want dit strek vanaf die troonsbestyging van Salomo in 971 v.C. tot by Jojagin se koningskap in 562 v.C. – meer as vier eeue. Die Psalms is saamgestel in die tydperk tussen 1400 en 500 v.C. deur verskeie skrywers. Nege en veertig van die 150 Psalms se skrywers is onbekend. Die afleiding word gemaak dat Genesis deur Moses geskryf is, want as Jesus melding maak van “Moses en (al) die profete” in Luk 16.29 en 24.27, verwys Hy na die eerste twee van die drie Hebreeuse indelings van die Ou Testament. “Moses” beteken derhalwe die Genesis—Deuteronomium gedeelte. Verder besit ons ook nie ‘n enkele manuskrip van die oorspronklike skrywers van enige gedeelte van die Ou- of die Nuwe Testamente nie. Daar is egter duisende gedeeltes van gekopieerde manuskripte. Meeste van die vroegste afskrifte is gemaak tussen ‘n 100 en 200 jaar ná die oorspronklike manuskripte geskryf is.

Bevestiging deur ander bronne

Die hele Bybel was oor ‘n periode van ongeveer 1 500 jaar geskryf. Die eerste vyf boeke word gedateer op omtrent 1400 v.C. en die laaste boek van die N.T. (Openbaring), op ongeveer 90 n.C. Ten spyte daarvan dat die oorspronklike manuskripte nie meer beskikbaar is nie, en dat slegs handgeskrewe kopieë bestaan het totdat die drukpers uitgevind is, is dit ‘n feit dat die toestand van die afskrifte merkwaardig goed behoue gebly het. Die oorspronklike Hebreeuse teks van die Ou Testament word in ‘n aansienlike mate gestaaf deur dit te vergelyk met die LXX (die Septuaginta), oftewel die Griekse vertaling van die Ou Testament. Dan is daar onder andere nog die Dooie-Seerolle wat in 1947 by Qumran ontdek is in grotte 13 kilometers suid van Jerigo. Hulle was geskryf oor die tydperk vanaf die derde eeu v.C., tot die eerste eeu n.C. Hulle sluit in ‘n volledige O.T. boek van Jesaja en duisende fragmente wat gesamentlik elke boek van die O.T., behalwe Ester, uitmaak. Die Ou Testament van ons Bybel word grootliks deur die Qumran-rolle se inhoud bekragtig. Die grootste georganiseerde versameling Hebreeuse Ou Testamentiese manuskripte in die wêreld is die Tweede Firkowitch Versameling in Leningrad. Dit bevat 1 582 items van die Bybel op perkamente, 725 op papier, plus 1 200 fragmente van Hebreeuse manuskripte. ‘n Groot aantal antieke afskrifte van die oorspronklike manuskripte van die Bybel se boeke word teenswoordig op verskeie ander plekke in die wêreld bewaar.

Antieke  geskrifte en afskrifte

[Die studie van antieke geskrifte en metodes van kopiëring, asook die artikels wat so voortgebring is, word paleografie genoem.]

Om die geskrewe karakter van die Bybel beter te verstaan, behoort ons ‘n paar dinge te weet oor hoe iets op skrif gestel en hoe afskrifte gemaak is. Dikwels het groepe kopieerders saamgewerk deur af te skryf wat ander helpers vanaf die meester-kopie voorgelees het. Die mense in die antieke wêreld het tot in die Middeleeue nie by tafels gewerk nie, maar kruisbeen gesit en skryf. Die oorskryfproses is verder bemoeilik deur die feit dat Griekse letters tot in die vierde eeu na Christus net hoofletters was. Daar was ook geen spasies tussen woorde nie. Een van die beroemdste werkplekke wat vir hierdie doel gebruik is (slegs t.o.v. Ou Testamentiese manuskripte), is gevind in die ruïnes van die Esseense gemeenskap te Qumran. Alles was natuurlik met die hand gekopieer, wat die waarskynlikheid van die invoering van afwykings verhoog het. Dit was ‘n uiters moeisame taak, ‘n afskrywer kon byvoorbeeld etlike maande neem om selfs net een van die Evangelies te kopieer. Onthou dat oogglase om te help om beter te kan sien eers in 1375, en drukwerk d.m.v. gegote letters eers in 1456 ontwikkel is. Wanneer ons dus na die moeisame proses kyk om antieke boeke en ander dokumente met die hand te produseer, is dit verbasend dat daar so min foute ontstaan het met die gekopieerde manuskripte waaruit die Bybel saamgestel is. Skrywers het deur die eeue heen die ink  in ’n houer van horing, hout of metaal bewaar. Langs die inkhouer was ’n skede vir die rietpen of griffel. Volgens Oosterse gebruik het ’n skrywer sy skryfkoker in ’n skrywersakkie aan sy gordel gedra (Ese 9.2,3). Die skrywer het ook ’n messie in die sakkie gedra. Daarmee kon hy ’n vel van die rol afsny of letters uitkrap as hy ’n fout gemaak het. Alhoewel die metodiek heel eenvoudig en primitief was vergeleke met huidige metodes van kopiëring, was die penne, ink en skryfoppervlaktes nogal taamlik verfynd en die daaropvolgende produkte heeltemal duursaam en aantreklik. In baie gevalle het selfs die verskeie pragtige kleure ink wat gebruik is, deur die eeue heen leesbaar gebly. So ook die papirus en perkamente van diervelle waarop geskryf is.

Wat  nog?

Ons ken nie die presiese datums vir die voortbrenging van enige van die boeke in die Bybel nie. Ook weet ons nie presies uit hoeveel mondelinge-, uit hoeveel reeds geskrewe- of uit hoeveel ooggetuie-materiaal elke boek saamgestel is nie. Byvoorbeeld: Daniël haal Jeremia aan in Dan 9:2 as “uit die Skrifte” waarmee bedoel word die versameling gewyde geskrifte waarna later verwys is as Die Profete. Nog ‘n voorbeeld: God het die Tien Gebooie op twee plat klippe geskryf en vir Moses gegee (Deu 5:22). Moses het die verbondsboek en God se gebooie en bepalings (Eks 20.1 tot 23.33) op skrif gestel en die volk van God het ingestem om dit te gehoorsaam (Eks 24.3-7). ‘n Ander voorbeeld is die boek Deuteronomium, wat Moses “…tot die laaste woord toe, in ‘n boek opgeteken het” (Deu,31.24). Toe het hy bevel gegee (vers 26), “Vat hierdie wetboek en sit dit langs die verbondsark… Dit moet daar bly om teen julle te getuig.” Hierdie boek is later oorgeplaas na Salomo se tempel waar dit dekades lank heeltemal veronagsaam is. In 625 v.C., is dit weer ontdek tydens die herstel van die tempel. En nadat dit gelees is, het koning Josia hom tot die Here bekeer – 2 Konings, hoofstukke 22-23. Ander gedeeltes het hulle oorsprong gehad in redevoerings en spreekwoorde wat as gesaghebbend geëien is. Daar is  die voorbeeld van die godspraak wat in Miga 3:9-12 vermeld word, wat gemaak het dat koning Hiskia hom aanvanklik tot die Here bekeer het (Jer 26:17-19). Baie van die boeke van die Ou Testament bevat keurversamelings van gesagdraende uitlatings.

Kanon

Die 39 boeke van die Ou Testament is geskryf en versamel oor ‘n tydperk van meer as ‘n duisend jaar. Ons het gesien dat elke oorspronklike gedeelte van die kanonieke boeke was aanvanklik opgeskryf en naderhand met die hand gekopieer. Die woord “kanoniek” of “kanon” is in werklikheid ‘n transliterasie of transkripsie van ‘n Griekse woord wat “standaard” of “maatstaf” beteken. “Kanon” is derhalwe die woord wat algemeen gebruik word om die versamelde boeke wat in die Bybel opgeneem is, aan te dui. Boeke wat op geestelike gebied as gesaghebbend en as egte geïnspireerde Skrif beskou word

 Indeling  van  die  Ou  Testament  

1.  Die Ou Testament is in die Hebreeuse Bybel in drie hoofdele ingedeel, naamlik die Wet, die Profete  en die Geskrifte. Jesus vermeld hierdie indeling in Luk 24.44, want deur na die belangrikste deel, naamlik “die wet van Moses” te verwys, word die hele versameling gewyde boeke van die O.T. bedoel [aldus Strong’s Lexicon en Die Bybel met Verklarende Aantekeninge, 1959 oor Luk 16.16]. Dit word vermoed dat hierdie spesifieke indeling van die Hebreeuse O.T. gemaak is ná die Antiocheense vervolging, omtrent 164 jaar voor Christus se geboorte, deur Judas Makkabeüs en sy medewerkers.

Die eerste vyf boeke van die Ou Testament, Genesis—Deuteronomium (die Wet), is deur die Hebreërs van oudsher die Tora genoem, wat eintlik “onderrig” beteken. [Dit word in Grieks na verwys as die Pentateug wat “vyf volumes” beteken.] Die Tora vertoon God as die enigste Skepper en Onderhouer van die heelal. Dit leer dat die mensdom geskep is om God te aanbid en so met Hom gemeenskap te hê. In besonder word beskryf hoe die Hebreërs uit al die nasies gekies is om God se getuies te wees van Sy bestaan en almag in die wêreld. Paulus sê dan ook in Rom 3.2 dat die een groot voortreflikheid van die Jode is “…dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het.” En hulle is nog nooit van ontrouheid in die bewaring van hierdie pand aan hulle toevertrou beskuldig nie. Hulle lewenswandel moes God se hoë morele en geestelike standaarde weerspieël en hulle was beveel om spesifiek op te tree as ‘n priesterlike koninkryk en ‘n heilige volk. Te midde van ‘n bygelowige heidense wêreld moes hulle toonbeelde wees van gehoorsaamheid en getrouheid aan die Een en Enigste God se geopenbaarde wilsbeskikking. Sodoende moes hulle as voorbeelde dien vir die hele mensdom. As hiervolgens geleef word, sal ryke seëninge volg, maar indien nie, sou straf nie uitbly nie.

Hoe merkwaardig is dit dat die Jode, wat ons bewaarders van die O.T. was, deur God verhinder is om wysigings aan te bring in die heilige geskrifte waarin selfs hulle sondes en volkskandes opgeteken staan. Alhoewel hulle hul profete gehaat en doodgemaak het (Jer 2:30 en Rom 11:3), het hulle nooit die profesieë sélf gewysig of geskend nie. Net koning Jojakim het ‘n boekrol van die profeet Jeremia opgesny en verbrand (Jer 36:23 v.v.). Maar hierdie optrede is opgeteken as ‘n daad van buitengewone boosheid; en dieselfde woorde was onmiddellik daarna weer opgeteken, met bykomstige ellendes wat voorspel is, om so die mens se onmag teen Gods woord aan te toon. “Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is” (Ps 12:7).

Die Ou Testament was die Bybel wat deur Jesus, Paulus en die vroeë kerk gebruik en aangehaal is. Paulus getuig daarvan in Han 24:14 dat hy alles glo wat in die wet en die profete geskrywe is. Die eerste Christene het daaruit hulle godsdienstige leerstellings opgestel; daarvolgens hulle lewens ingerig; en daarin (kyk Joh. 1:45) hulle profetiese verwysings na Jesus Christus as die langverwagte Messias gevind.

2.  Die indeling van die O.T. in die Protestantse Bybel is egter gerangskik in die volgorde:

.         van Histories, Poëties en Profeties:-

Taal en Tema van die O.T.

Die boeke van die O.T. is oorspronklik byna uitsluitlik in Hebreeus opgeteken. Slegs enkele gedeeltetjies van Esra, Jeremia en Daniël is in Aramees geskryf – ‘n taal wat baie met Hebreeus ooreenkom. Daar was natuurlik baie ánder boeke in antieke tye geskryf. Sommige word selfs in die O.T. genoem, soos byvoorbeeld die Boek van die Opregte [Jasher] in Jos 10.13 en 2 Sam 1.18. Daardie boeke het egter nie behoue gebly nie en hulle was in elk geval nie deur Israel as gewyde literatuur beskou nie. Maar deur God se beskikking is die boeke wat Hy geïnspireer het bymekaargemaak, totdat die versameling van geskrifte uiteindelik voltooi is.

Nieteenstaande ‘n redelike mate van uiteenlopendheid van die Ou Testamentiese boeke, is daar tog ook ‘n diepgaande eenstemmigheid teenwoordig. Trouens, wat die Ou Testament op een punt saamtrek, is dat dit ‘n leerstelling weergee van ‘n persoonlike God wat die wêreld geskep het en, in weerwil van die mensdom se sondige afvalligheid van Hom, nogtans hulle nie versaak het nie. Wat verder duidelik blyk, is dat God se Vaderlike besorgdheid geopenbaar word in sy uitkies van ‘n volk om Hom bekend te stel aan die hele mensdom; en dat Hy redding aanbied aan enigeen wat gewillig is om dit te aanvaar. Die vele teologiese onderwerpe wat in die Ou Testament gevind word, vorm almal saam deel van hierdie uitreiking van God as die Skepper, Onderhouer en Verlosser van die wêreld.

Apokriewe  boeke

Die “apokriewe boeke” is ’n aantal boeke waarvan die literatuur gedurende die tyd tussen die afsluiting van die Ou Testament en die begin van die Nuwe Testament ontstaan het. Die Vulgaat, amptelike Latynse vertaling van die Bybel in die Rooms Katolieke tradisie, beskou die boeke as “deutero-kanonies” d.w.s., op gelyke vlak met die ander 66 boeke. Die Rooms Katolieke het in 1546, tydens die Konsilie van Trente, amptelik besluit om die apokriewe boeke in hulle Bybel in te sluit. Dit is egter boeke van heeltemal twyfelagtige herkoms en, alhoewel dit (slegs aanvanklik) in die vroegste uitgawes van die King James Bybel ingesluit was, is hulle nie deur die Jode of Protestante as kanoniek, d.w.s. as egte geïnspireerde Skrif of as gesaghebbend, beskou nie. Wat die Ou Testament betref, is hierdie boeke derhalwe nooit in die Hebreeuse versameling opgeneem nie, maar tog wel in die Griekse vertaling van die Ou Testament, genoem die LXX of die Septuaginta. [Meer oor LXX hierna]. Omdat hulle inhoud legendaries is en nie in die Hebreeuse Bybel verskyn nie, is hulle ook nie in die Protestantse Bybel opgeneem nie.

Tussen  Maleagi  en  Matteus

Die uitdrukking “jare van stilte” word soms gebruik om die tydperk van ± 400 jaar tussen die afsluiting van die Ou- en die aanvang van die Nuwe Testamentiese geskrifte te beskryf. Dit is egter ‘n verkeerde benaming. Hoewel geen geïnspireerde profete in Israel opgetree het gedurende hierdie eeue nie en die Ou Testament tereg as voltooi geag is, het gebeure plaasgevind wat aan die latere Judaïsme sy besonderse ideologie gegee het. Ook het dit deur die Voorsienigheid die weg voorberei vir Christus se koms en die verkondiging van sy Evangelie.

Vir ongeveer ‘n eeu ná Nehemia se leeftyd het die Persiese Ryk Judea beheer. In hierdie tydperk het nie veel van belang gebeur nie, want die Jode was toegelaat om hulle godsdienstige gebruike sonder inmenging na te kom. Judea was deur hoë priesters regeer wat aan die Persiese regering verantwoordelik was. Dit het enersyds aan die Jode ‘n groot mate van selfbestuur verseker, maar andersyds die priesteramp in ‘n politieke taak laat ontaard.

Na die dood van Alexander die Grote in 323 v.C., was Judea ‘n tyd lank onderwerp aan Antigonus, een van Alexander se generaals wat ‘n deel van Klein-Asië beheer het. Daarna het die beheer oorgegaan in die hande van ‘n ander generaal, Ptolemeus I, wat toe reeds Egipte oorheers het. Hy het ook bekend gestaan as Soter, of Bevryder. Hy het beslag gelê op Jerusalem op ‘n Sabbatdag in 320 v.C. Ptolemeus was die Jode goedgesind. Baie Jode het hulle in Alexandrië gevestig, wat ‘n belangrike sentrum geword het van Joodse denke wat vir eeue lank voortgeduur het. Terwyl Ptolemeus II (Filadelfus) regeer het, het die Jode van Alexandrië die Wet, d.w.s. die Pentateug, in Grieks vertaal. Dit was in die tydperk êrens tussen die jare 250 en 150 v.C. Hierdie vertaling het daarna bekend gestaan as die LXX (Romeinse syfers vir 70: L=50, elke X=10) of die Septuaginta. Volgens oorlewering kom die naam Septuaginta van die “sewentig” vertalers (eintlik 72 – ses uit elk van die twaalf stamme van Israel) wat dan, so lui ‘n Joodse legende, bonatuurlik besiel sou gewees het om ‘n onfeilbare vertaling daar te stel.   Soos reeds genoem, is dit in hierdie tydperk, tussen die Testamente, dat meeste van die apokriewe boeke geskryf is – boeke wat nie in die Hebreeuse of Protestantse Bybel opgeneem is nie.

In 40 v.C. het die Romeine vir Herodes die Grote aangestel as die alleenheerser oor Judea. Hy was uit Esau se nageslag, ironies genoeg. Dit was tydens die laaste dae van Herodes se regering dat Jesus gebore is (Mat 2:1). Dit dan is soos die historiese raamwerk gevorm was vir die koms van God se Messias. Soos Gal 4:4 dit stel, “…toe die tyd wat God daarvoor bepaal het aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur…”  

Die  taalgebruik  in  Jesus se  tyd

Jesus en die mense van Sy tyd was meer as een taal magtig. Aramees was gewoonlik die spreektaal in die daaglikse omgang. Hebreeus was die taal in die godsdienstige lewe, veral in aanbidding en Skriflesing (soos by Luk 4:16-21). ‘n Derde taal, dié van die oostelike Romeinse Ryk, was Grieks. Dit het aan die lig gekom dat selfs ortodokse Jode Grieks onderling in hulle daaglikse onderhandelinge met mekaar gebruik het. Dit blyk uit inskrywings op Joodse grafstene en handgeskrewe notas wat die Joodse verdedigers van die Masada-vesting aan mekaar gestuur het. Jesus self het soms Grieks gepraat, soos in Sy gesprek met ‘n Griekssprekende Siro-Fenisiese vrou – Mar 7: 24-30.

Die Nuwe Testament

Die Nuwe Testament is ‘n samestelling van 27 boeke, afkomstig van 9 verskillende skrywers. Dit is boeke wat versamel en mettertyd saam met die Ou Testament gebruik is. Dit was oorspronklik in Grieks geskryf tydens die eerste eeu n.C. en is met verloop van tyd ingedeel in vyf afdelings. Die vier Evangelies kom eerste, want hulle vertel ons van die Here Jesus se bediening in die vlees; Handelinge volg daarop, want dit vertel ons van Jesus se bediening in die Gees – deur middel van Sy eerste volgelinge; dan kom Paulus se briewe, want hy was die vernaamste teologiese spreekbuis van die vroeë kerk [soos blyk uit die tweede brief van Petrus (3:15, 16) waar verwys word na die gesag van “al sy briewe”]; daarna volg die sendbriewe; en laastens, Openbaring, wat die belangrike profetiese boek van die Nuwe Testament is.

Die skrywers van die Nuwe Testament kyk terug na die Ou Testament as ‘n voorafskaduwing, ja inderdaad as ‘n voorspelling van die tyd waarin hulle geleef het. God was besig om die wêreld voor te berei vir ‘n volkome en finale openbaring van Homself in sy Seun, Jesus Christus deur die tipes en sinnebeelde wat Hy vroeër, in die O.T., gebruik het. Soos Heb 1:1-2 dit stel, “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.” Jesus word dus deur die skrywers van die N.T. gesien as die vervulling van alles wat vooraf gegaan het en as die finale opsomming van al God se handelinge met die mensdom. Omdat die Ou Testament derhalwe die aandag uitdruklik op Jesus gevestig het, het die vroeë Christene dit as hul eie Bybel gebruik en hulle lewens ooreenkomstig die geestelike leringe daarvan ingerig. 

Juistheid van die Nuwe Testament

Die oorspronklike manuskripte van die N.T. is, soos in die geval van die O.T., nie beskikbaar nie. Nogtans is bevestiging van die juistheid van die Nuwe Testament se inhoud oorvloedig. Meeste van die boeke van die N.T. was tussen 50 - 100 n.C. geskryf en gedurende die tydperk tussen die 2de en 3de eeu na Christus (d.w.s. ± 150 n.C.)  gekopieer. Van al die boeke in die N.T. is Openbaring die boek waarvan die minste kopieë bewaar gebly het, naamlik om en by 300 Griekse manuskripte.

In 1964 was daar al 4 969 gekopieerde manuskripte van die N.T. beskikbaar (Metzger, The Text of the New Testament, pp. 31-33). Natuurlik bevat meeste van die manuskripte slegs gedeeltes van die N.T., maar 50 van hulle is tog wel van die volledige Nuwe Testament. Nog geskrifte wat gebruik is om die inhoud van die N.T. mee te kontroleer, is die baie ander weergawes, soos die Ou-Latynse- en die Siriese-vertalings, wat so ver teruggaan as 150 n.C. Verder is daar ook nog die bekende Vulgaat, ‘n Latynse vertaling deur die kerkvader Hieronymus (382 - 405 n.C.). [Oor Hieronymus se Vulgaat word hierna meer gesê.]

Hieronymus se Vulgaat 

In die 1ste eeu na Christus het daar twee vertalings van die O.T. bestaan, naamlik die oorspronklike Hebreeuse en die latere Griekse vertalings. Maar die vroeë Christene het ‘n Latynse vertaling nodig gevind vir beide die O.T. en die groeiende Nuwe Testament. Dit was veral vanweë hulle sendingwerk in Noord-Afrika waar Latyn die oorheersende taal was. Voor die einde van die 2de eeu n.C. was sommige boeke van die Bybel reeds in Latyn vertaal, want skrywers van die 3de eeu toon ‘n uitgebreide kennis van die Latynse weergawes. Hierdie verskeie vertalings het egter met tyd só vermenigvuldig en in só ‘n bonte verskeidenheid ontaard, dat Pous Damasus vir die kerkvader Hieronymus die taak opgelê het om ‘n standaard Latynse teks op te stel wat toe in 405 n.C. voltooi is. Dit het die benaming Vulgaat gekry en was daarna die standaard teks wat alom in gebruik was vir meer as ‘n duisend jaar. Trouens, dit is nog steeds die amptelike teks vir die Rooms-Katolieke Kerk.

Geskiedenis wat vroeë Christene geraak het

Ons lees in Hand.11:26 ... en die dissipels is in Antioch vir die eerste keer Christene genoem.” Daar was baie keerpunte in die geskiedenis van die vroeë Christene. Maar miskien was hulle grootste krisis ervaar met wat aan die gang gesit is deur Keiser Diocletianus op 23 Februarie 303. Hierdie laaste groot vervolging deur die Romeinse Ryk het langsamerhand begin en het met verloop van tyd ontsettend gewelddadig geword. Dit was die Staat se siening dat hul vyand nie soseer die Christene se geboue of die Christene self was nie, maar die boeke wat hulle besit het. As die boeke nie vernietig word nie, sou die inhoud daarvan soos saad maar altyd aanhou voortplant tot ver in die toekoms. Derhalwe is ‘n baie groot hoeveelheid kopieë van die Skrif van verraaiers bekom en vernietig. Maar nie alle Christene was verraaiers nie. Afskrifte van die Skrif was begrawe of weggesteek en later weer te voorskyn gebring.

Die mislukking van hierdie laaste vervolging was die begin van die Kerk se oorwinning. Konstantyn, wat later in die geskiedenis bekend gestaan het as die eerste Christen-Keiser, is in die jaar 306 deur sy troepe as Keiser Augustus uitgeroep te York. In 312 is hy met hierdie selfde titel deur die Senaat in Rome verwelkom. ‘n Jaar later is die Edik van Milaan uitgevaardig wat godsdiensvryheid gewettig het. Konstantyn het in 324 die enigste Keiser geword. Daarmee was die oorwinning vir die Kerk voltooi. Omdat godsdiens nou spesiale erkenning van die Staat ontvang het, het daar ‘n behoefte aan meer kerkgeboue ontstaan; en baie meer Bybels was nodig.

Vyftig Bybels vir die Keiser

Konstantyn het die middelpunt van die Romeinse Ryk ooswaarts verskuif vanaf Rome na Bisantium. Hy het dit as ‘n nuwe Rome herbou. Vir die kerke van die nuwe “Konstantinopel” het die Keiser persoonlik in 332 n.C. vyftig Bybels by Eusebius van Sesarea bestel. [Meer oor Eusebius hierna.] Die opdrag was dat beroepskrywers wat goeie vakkundigheid besit, die Heilige Skrifte in boekdele moes voorsien op velyn (perkamente van skaap- bok- of kalfsleer) vir gebruik in die kerke van die nuwe hoofstad.

Ander stede, in wedywering met Konstantinopel, het ook stappe gedoen om die beste kopieë wat geld kon koop te bekom. Of enige van die vyftig Bybels wat Konstantyn vir die kerke van die nuwe hoofstad bestel het vandag nog bestaan, kan nie vasgestel word nie. Wat wel met sekerheid gesê kan word, is dat boeke van dieselfde gehalte en tydperk wel bestaan. En hulle is ons vernaamste gesagdraende bronne vir die teks van die Griekse Bybel.

Die Kodeks

‘n Groot boekdeel, van die soort wat deur Konstantyn by Eusebius bestel is, word ‘n kodeks genoem. Die woord word gebruik om ‘n manuskrip te beskryf  wat die vorm en voorkoms van vandag se boeke het, maar hulle is heelwat groter en van velyn (leer) gemaak. Reeds teen die tweede eeu v.C. is  boekrolle al geleidelik deur kodekse vervang. Boeke soos ons dit vandag ken, het uit die kodeks ontwikkel. Met die opstel van die LXX of Septuaginta (die vertaling van die O.T. in Grieks tussen die jare 250 en 150 v.C.), was die kodeksvorm gebruik.   

In vroeër dae het ‘n kerk wat die Skrifte besit het, dit in verskeie seksies gehad. Die Nuwe Testament sou byvoorbeeld die Evangelies as een gedeelte gehad het en in ‘n tweede deel die briewe van Paulus. ‘n Derde seksie sou uit die sendbriewe bestaan, ensovoorts. Maar mettertyd het dit ‘n saak van kerklike en burgerlike trots geword om ‘n volledige Bybel as ‘n eenheid te besit.

Die bestaan van buite-Bybelse boeke

Die volgorde van die vier Evangelies soos ons dit vandag het, Matteus, Markus, Lukas en Johannes, is in ongeveer 180 n.C. deur een van die vroeë kerkvaders met die naam van Irenaeus vasgestel. Hy was ‘n leerling van Polycarpus, Biskop van Smirna, wat op sy beurt ‘n dissipel van Johannes was (vermoedelik die apostel Johannes).

Aan die begin van die jare 300 n.C. was daar egter nog onsekerheid by sommige of sekere ander boeke en briewe wat toe nog bestaan het in eredienste gebruik moes word. In besonder boeke soos Die Herder van Hermas, Die Apokalips (openbaring) van Petrus, Die Handelinge van Paulus, Die Brief van Barnabas, die Twee Briewe aan die Korintiërs (toegeskryf aan Clemens van Rome) en geskrifte, uit die tweede eeu afkomstig, genaamd Die Leer van die Apostels (ook Didache genoem). Irenaeus en Clemens het gemeen dat Die Herder van Hermas  Skriftuurlike boeke was.

Eusebius

Eusebius van Sesarea by wie Konstantyn, soos vroeër aangedui, die vyftig Bybels bestel het, was ‘n kerkvader van die vierde eeu en ook ‘n geskiedskrywer en ‘n kenner van die Tora. Hy het die hele kwessie van onsekerheid deeglik nagevors. Aan die hand van ‘n lys van kanonieke boeke genaamd “Kanon Muratori”, uit die tweede eeu afkomstig, het Eusebius hom baie sterk uitgespreek teen die gebruik van daardie ander boeke en briewe hierbo genoem. Hy het hulle ná ‘n deeglike ondersoek as oneg bestempel en bevind dat hulle oorsprong nie werklik apostolies was nie.

Ander belangrike boekdele

‘n Paar dekades ná Eusebius het die Kodeks Vatikanus, ‘n Griekse boekdeel met beide die Ou- en die Nuwe Testamente, ‘n volledige Nuwe Testament bevat soos ons dit vandag ken. Maar kort daarna het die Kodeks Sintaïkus nog steeds Die Brief van Barnabas en Die Herder van Hermas ingesluit. Nog later, teen die einde van die vierde eeu, het die Kodeks Aleksandrinus die Herder en Barnabas uitgesluit, maar steeds die twee briewe van Clemens bevat. Die Kodeks Vatikanus word minstens sedert 1481 in die biblioteek van die Vatikaanstad, Rome gehou. Kodeks Sintaïkus is in 1933 van die Sowjet Unie gekoop en word in ‘n Britse museum bewaar. Die Kodeks Aleksandrinus, wat Engeland in 1627 bekom het, word ook in die Britse museum bewaar. Nie een van hierdie kodekse is nou meer volledig nie, byvoorbeeld, van die ongeveer 820 blaaie waaruit die Vatikanus oorspronklik bestaan het, het net 759 oorgebly. Slegs 390 van die 730 blaaie van die Sintaïkus het behoue gebly.

Athanasius

In die jaar 367 het Athanasius, ‘n Biskop van Aleksandrië, gebruik gemaak van die geleentheid van sy jaarlikse Paasfees-brief  (‘n brief aan al die kerke en kloosters onder sy jurisdiksie) om te verduidelik waaruit die Ou- en Nuwe Testamente moet bestaan. In terme van die Nuwe Testament het hy die 27 boeke aangedui wat ons vandag het. Van hulle het hy geskryf: “Hierdie is die ‘Fonteine van Saligheid en Redding’, sodat enigeen wat dors het bevredig kan word met die boodskap wat hulle bevat. Slegs in húlle word die leer van suiwer godsdiens aangekondig as die ‘Evangelie’. Laat niemand by hierdie boeke byvoeg of enigiets van hulle wegneem nie.”

Uit ‘n brief wat Hieronymus (die opsteller van die Latynse Vulgaat, soos vroeër aangedui) in 414 geskryf het, blyk dat hy die lys van Nuwe Testamentiese boeke aanvaar het soos dit deur Athanasius gerangskik is – ‘n lys wat die buite-Bybelse boeke uitgesluit het en wat ooreenstem met vandag se Nuwe Testament. Met ander woorde, Hieronymus het mettertyd aanvaar dit waaroor toe reeds algemene eenstemmigheid bereik was. En dit bevestig dat vroeg in die jaar 400 die kanon van die Nuwe Testament reeds ‘n soort plegtige, onwankelbare status bereik het – dit kon nie meer gewysig word nie. Sedert daardie tyd het die kanon van die Nuwe Testament deur die geskiedenis, die tradisie en die gebruik in eredienste, onwrikbaar gevestig geraak. Ten spyte van sommige geleerdes se pogings om boeke by te voeg, weg te laat of kanonieke boeke te betwis, het hierdie 27 boeke van die N.T. wêreldwyd die onverhandelbare spilpunt en hartaar van die Christendom gebly –

En hoekom is dit so?

Want nadat al die voorgaande gesê is, moet ons dit baie duidelik verstaan dat die besluit oor watter geskrifte kanoniek is, hoegenaamd nie die blote toestaan van goedkeuring deur ‘n individu of ‘n instelling soos ‘n kerklike liggaam was nie. Dit is inteendeel veelmeer ‘n kwessie van, eerstens, mense wat deur God gelei is om te besef wat Hy alreeds in aansyn geroep het as gesaghebbende onthullings; en tweedens, mense wat deur God gelei is om te weet hoe om vas te stel watter boeke nie hulle oorsprong by God gehad het nie. Anders gestel: die Kerk het nie die Skrif geskep nie; in plaas daarvan het die Woord van God self die absolute voorrang en is dit die fondament waarop die Kerk gebou is. Dit is trouens wat die Skrif self sê: Sien die Byvoegsel aan die einde.  Jesus self het geleer dat die Woord onveranderlik en selfstandig is en dat die Here nie van die mens afhanklik is om hand by te sit sodat God sy doel daarmee kan bereik nie: “Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder verbygaan, as dat een letter of lettergrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is” (Mat 5.18). Dit is duidelik dat Jesus Sy stempel van goedkeuring op die Skrif plaas wanneer Hy so daarna verwys. Vir die Woord om hierdie kwaliteit te besit, móét dit van God afkomstig wees. Daarom kan Paulus uit oortuiging skryf, Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê (Rom 15.4).

Geleidelik  toenemend  van  aard

Ons lees in Efe 3.5 Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie.”  Dit blyk duidelik dat God, deur vir ons die Bybel te gee, met die mens op ‘n progressiewe wyse gehandel het. Soos wat elke boek van die 66 onder leiding van die Heilige Gees neergeskryf is, het dit algaande iets nuut, iets noodsaaklik en iets wat vir die mens bevorderlik is, toegevoeg. Alhoewel sommige boeke groot spronge vir die mens se begrip van God se bedoelinge met ons oplewer, en ander boeke oënskynlik net klein treetjies daarin gee, het elkeen met verdrag al meer tot die dryfkrag van God se openbaring bygevoeg – totdat Hy sy hele onthulling aan die mens voltooi het met die finale hoofstukke van die Openbaringboek.

BYVOEGSEL

(Die Woord is afkomstig van God) 

2 Samuel 23:2  “Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe.

Handelinge 26:16  ...Ek (Jesus) het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.

Galasiërs 1:11-12  Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur ’n mens uitgedink nie. Ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of by ’n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ’n openbaring aan my gegee.

1 Korintiërs 14:37  Iemand wat dink dat hy ’n profeet is of ’n ander gawe van die Gees besit, moet erken dat wat ek aan julle skrywe, ’n bevel van die Here is.

Efesiërs 3:3  Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het,

1 Tessalonisense  2:13  Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.

 2 Timoteus 3:16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 

1 Petrus 1:10-12  In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

2 Petrus 1:20-21  Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,  want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

1 Johannes 5:9  Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. U

 


BRONNE GERAADPLEEG

Paul S. Karleen, The Handbook to Bible Study, (New York: Oxford University Press) 1987. 

The Wycliffe Bible Commentary –  Everett F. Harrison, Moody Press – Chicago. 

How We Got Our Old Testament  by Bruce Waltke. 

Discovering the Oldest New Testaments by H. G. G. Herklots. 

How we got our Bible, Christian History – Mark Galli. 

Reading the Bible Backwards, by Mark Galli. 

A Testament Is Born, by Carsten Peter Thiede. 

Evangelical Commentary on the Bible – Walter A. Elwell. 

Pfeiffer, Charles F., Wycliffe Bible Encyclopedia, (Chicago, IL: Moody Press) 1975. 

Bible Encyclopedia And Dictionary – A. R. Fausset – Zondervan Publishing House Grand Rapids, Michigan.

 


 

BYBEL SKENKING!

Om hierdie wonderlike Boek en Woord van God moontlik te maak aan iemand wat dit opreg benodig en kan gebruik, stuur die persoon se korrekte naam met posbus adres aan webmeester@thesower.org.za(LET WEL: Slegs Afrikaans en Engelse Bybels en net in RSA - Net vir individue, geen organisasies!)