Die Rede Waarom Jesus Versoek is
(Lukas 4: 1-33 en Matthéus 27: 39-44)
Van AS Venter
INLEIDING
Jesus Christus, die Seun van God het na hierdie aarde gekom om die werke van satan te verbreek, sodat ons as verlore sondaars uit die mag van satan gered kan word, om sodoende kinders van God te kan wees. Dit word vir ons bevestig met die woorde volgens Kol. 1:13 “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,“
Let ons op die lewe van Jesus Christus tot op die gebeure soos opgeteken in ons gelese gedeelte in Matt.27, dan sien ons dat satan selfs nie vir Jesus, terwyl Hy daar aan die kruis gehang het, ontsien het nie. Hy het Jesus selfs in Sy lyding versoek. Die rede hiervoor was dat satan probeer verhinder het dat hy sy mag oor ’n verlore mensdom sou verloor.
Om die gebeure in ons gelese gedeelte, waar satan met sy finale aanslag deur versoekings na Jesus gekom het, reg te verstaan, sal vereis dat ons in die eerste plek sal moet vasstel hoe satan sy mag verkry het.
DIE MAG VAN SATAN
Ons lees in 1Joh 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”
Satan het as Lucifer met ’n derde van die engele, voor die Adamiese skepping, homself probeer gelykstel met God. Hy is saam met sy engele uit die hemel gewerp, want ons lees in Jes.14:12-14 “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!”
Hierdie val van satan het die verwoesting van die pre-Adamiese skepping tot gevolg gehad, daarom dat ons lees in Gen.1:2 “En die aarde was woes en leeg,...” terwyl Jes. 45:18 daarop wys dat dit nie God se doel was dat die aarde woes en leeg moes wees nie, want ons lees: “Want so sê die Here, wat die hemele geskape het – Hy is God – wat die aarde geformeer en dit gemaak het – Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word – Ek is die Here en daar is geen ander nie.”
God herskep hierdie verwoeste skepping en as kroon van Sy skepping, skep Hy die mens, aan wie Hy die hele skepping onderwerp. Ons lees in Gen.1:26 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
Deur die sondeval het Adam as hoof van die mensdom sy mag wat God aan hom gegee het, aan satan oorgedra, daarom dat satan vir Jesus volgens Luk.4:6 kon sê dat hierdie mag aan hom oorgegee is.
Jesus Christus kom na hierdie aarde as die laaste Adam volgens 1Kor. 15:45 om hierdie mag wat die eerste Adam aan satan oorgegee het, op ’n wettige wyse terug te neem. Dit was alleenlik moontlik deurdat Jesus Sy lewe aan die kruis moes aflê om die mag van die dood te verbreek.
Satan is bewus daarvan dat Jesus na hierdie aarde gekom het om hom van sy mag te stroop, daarom dat hy met lis hierdie mag aan Jesus aangebied het, in ’n poging om Jesus in sy mag te kry, want ons lees in Luk. 4:5-7 “Toe bring die duiwel Hom op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.”
Deur die woord van God verwerp Jesus hierdie aanbod van satan, want Hy sê aan satan (Luk. 4: 8) “...Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
Jesus volg God se bepaalde weg, wat Sy kruisdood ingesluit het en sodoende stroop Hy satan van sy mag en kon Jesus met reg volgens Matt. 28:18 verklaar: “...Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”
SATAN SE WERKSWYSE
Om hierdie mag van Adam te kon afneem en in sy poging om Jesus hierdie mag te ontsê, het Satan telkens net een doel voor oë gehad en dit was om te verwoes, daarom dat Petrus aan ons gesê het volgens 1Pet. 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”
Satan se eerste doel was dus om die mag wat God aan Adam gegee het, weg te roof, sodat die ganse mensdom onder sy mag sou wees. Daarin het hy geslaag. (Rom.3: 23)
Hy het verder gepoog om die mag wat hy van Adam geroof het, ten alle koste te behou, sodat Jesus dit nie sou kon oorneem nie. Dank die Here, daarin het hy gefaal.
Gestroop van sy mag poog hy steeds om mense te verhinder om in Jesus vrymaking te verkry en die wat deur wedergeboorte vrymaking verkry het, kragteloos te maak.
Sy werkswyse waardeur hy telkens sy doel wou bereik en steeds bereik, het vanaf die sondeval tot op hierdie dag steeds dieselfde gebly, juis omdat hy soveel sukses daarmee bereik het.
Sy werkswyse behels dat hy die mens deur versoekings sal mislei, sodat die mens die leuen sal glo. Dit doen hy deur ’n direkte aanval op die mens se gedagtewêreld of deur gebruik te maak van mense soos in die geval van ons gelese gedeelte, waar mense deur hul gespot Jesus versoek het.
Dit is dan ook opvallend in satan se werkswyse dat hy vanaf die sondeval, Jesus se versoekings in die woestyn en, Jesus se versoekings aan die kruis, hoofsaaklik van drie tipe versoekings gebruik gemaak het en steeds gebruik maak.
SATAN SE MISLEIDING DEUR DRIE TIPE VERSOEKINGS
DIE VERSOEKING WAT OP JESUS SE POSISIE GERIG WAS (Luk. 4: 3 & Matt 27: 40)
Let ons op die versoeking in die woestyn, dan sien ons dat dit op Jesus se posisie as Seun van God gerig was, want ons lees in Luk. 4:3 “Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word.”
Satan gebruik Jesus se fisiese behoefte van daardie oomblik, naamlik Sy behoefte na voedsel, om Jesus se fokus na Sy posisie as Seun van God te verskuif, sodat Jesus in die krag as Seun van God, sou optree om aan Sy fisiese behoeftes te voldoen. Daardeur sou Hy buite God se wil beweeg.
Let ons op ons tweede gelese gedeelte, dan sien ons dat satan van mense gebruik gemaak het om presies dieselfde doel te bereik, want ons lees in Matt. 27:39-40 “En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!” Weereens ’n versoeking dat Hy buite God se wil sou optree.
Jesus wat na hierdie aarde gekom het ter wille van die mens, word deur die mens oor Sy posisie as Seun van God, gekonfronteer, want het Hy dan nie juis na hierdie aarde gekom dat die mense Hom as die Seun van die mens sou erken nie?
Was dit nie juis in hierdie opsig dat die satan die deurslag in die tuin van Eden behaal het, toe hy aan Eva ’n posisie gelykwaardig aan God, aan haar voorgehou het nie? Ons lees in Gen 3:5 “maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”
Hoeveel mense sal ’n ewigheid tegemoet gaan sonder God, juis omdat die satan daarin geslaag het om die sondaar se fokus na sy posisie en status in die samelewing te verskuif?
Dit is dalk die enkele grootste rede waarom mense nie verlossing kan kry nie, omdat die mens nie kans sien, vanweë sy posisie, stand of status in die samelewing, om hom te verneder, om teenoor ’n medemens restitusie te doen nie. Dit is ook hierdie selfde stand of status waarin die satan geslaag het om die mens op te laat fokus, wat maak dat die mens nie bereid is om voor God te buig nie.
Lees maar die geskiedenis van koning Saul volgens 1Sam.15 toe hy teen God gesondig het toe hy van die bangoed geneem het, met die voorwendsel dat hy en die manskappe dit as offer aan God wou bring. Hy word deur Samuel oor sy sonde aangespreek en hy erken dit ook teenoor Samuel.
Satan slaag egter daarin om Saul op sy posisie as koning te fokus, daarom dat hy aan Sameul volgens 1Sam.15:30 sê: “Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die Here u God kan aanbid.” Saul erken dat hy verkeerd opgetree het, maar hy vra in werklikheid vir Samuel om nie sy posisie as koning, voor die manskappe te skaad nie.
Hierdie probleem dat satan die mens op sy posisie en status laat fokus, is selfs die kerk in ons dag ingedra, want seminare word in kerke aangebied oor selfbeeld en positiewe denke.
Hoeveel kinders van God se lewens het kragteloos geword, omdat satan daarin geslaag het om hulle fokus van Jesus af te trek, sodat hulle op hul geestelike prestasies en stand as kinders van God, begin fokus het.
Billy Graham het as jong evangelis baie mense die weg na Jesus aangewys en dit was ook die boodskap wat uitgedra is in boeke wat hy in daardie tyd geskryf het.
Dit is egter hierdie selfde Billy Graham wat in latere jare as beroemde evangelis in die 1980’s sy rug op die vervolgde kerk in Rusland gedraai het, maar dit is ook hierdie selfde Billy Graham wat op Larry King Live van 2 April 2005 gesê het dat hy sekerder van die pous se redding is, as wat hy van sy eie redding is. Dit terwyl dit bekend is dat Pous Johannes Paulus II meer as enige ander mens gedoen het om afgodediens en raadpleging van geeste te bevorder. (Sien gedeeltes in Basuin Junie 2005)
Satan soek om te verwoes, daarom dat hy die kind van God kragteloos wil maak deur versoeking, sodat kinders van God se oë nie meer op Jesus gefokus sal wees nie.
DIE VERSOEKING WAARIN ‘N KORTPAD AAN JESUS VOORGEHOU IS (Luk. 4: 6 – 7 & Matt. 27: 42)
Ons lees in Luk. 4: 6-7 “En die Duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my aanbid, sal alles aan U behoort.”
Satan het geweet dat Jesus gekom het om hom van sy mag te stroop, daarom dat hy aan Jesus ’n kortpad aanbied, om hierdie mag op ’n makliker manier te verkry, as om die lydingsweg te moet volg.
Dit word vir ons verder geïllustreer in Matt. 27:42 “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.”
Deur ongeloof het die skares Jesus verwerp. Skielik bied satan Jesus ’n kortpad wat die kruisdood sou uitsluit, want as Hy op ’n dramatiese wyse van die kruis sou afkom, dan sou die mense in Hom glo. Dit terwyl ware geloof nie op tekens berus nie, maar op God se woord en dit wat daarin vir ons vervat is.
Net so het satan hierdie selfde set gebruik om Eva te beweeg om van die vrug te eet, want ’n kortpad tot daardie kennis, gelykstaande aan God se kennis, word haar voorgehou volgens Gen. 3:5 “maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”
Hierdie set van satan word toenemend deur hom met sukses gebruik, want hoe het satan nie daarin geslaag om kortpaaie na wedergeboorte aan die mensdom voor te hou nie. Dit terwyl die massas nie werklik by God uitkom nie. Geen wonder dat mense bely dat hulle lewens aan Jesus behoort, terwyl hulle nog nooit gebreek het met sonde nie.
Hoeveel eerlik menende kinders van God het al in geestelike verwarring verval, juis omdat satan subtiel ’n kortpad na heiligmaking aangebied het nie. Onthou u nog die vlaag van manifestasies wat die Weste en ook Suid Afrika in die vorige dekade getref het, met die sogenaamde “Toronto Blessing” en “Slain in the spirit” gebeure. Daarvolgens het die mense dan die Heilige Gees ontvang. Dit terwyl hulle nie kan getuig van redding nie en steeds gebind is deur bande van sonde.
’n Godsman het ’n dekade gelede ’n stelling gemaak dat wanneer ’n kind van God nie bereid is om die pad van heiligmaking, gebaseer op ’n God-gewerkte hartsreiniging, wil loop nie, dan is dit nie lank voordat jy hom in een of ander charismatiese beweging sal vind nie.
Nog nooit was daar in so ’n kort tyd ’n uit beweeg van lidmate uit die Evangeliese kerke na die Charismatiese bewegings nie.
Dan kom die vraag onwillekeurig in my hart op: Kind van God, oortuig deur die Heilige Gees van ’n onrein hart, maar versoek deur satan om ’n kortpad te volg; het jy nie ook al gaan proe aan die namaaksel wat jou by hierdie bewegings aangebied word nie?
Pasop, Satan wil jou ’n kortpad aanbied sodat jy kragteloos in die hand van die Here sal wees.
VERSOEKING WAARIN DAAR ‘N AANSLAG OP JESUS SE GELOOF IN GOD GEMAAK IS
Ons lees in Luk. 4:9-10 “Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar.”
Ons lees ook in Matt.27:43 “Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God.”
Kan u sien hoe daar subtiel te werk gaan om twyfel in God te bewerk. Presies waarmee satan in Eva se geval geslaag het, toe hy aan haar gesê het volgens Gen. 3:4 “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie.”
Toe die twyfel in Eva se hart pos gevat het oor God se motiewe, kon hy haar geloof in God ’n nekslag toedien.
Ek hoef seker nie veel meer oor hierdie onderwerp te sê nie, want het satan nie daarin geslaag om Teologiese Fakulteite aan ons Universiteite binne te dring nie. Dit is nou die Professore in Teologie wat deur satan gebruik word om jong voornemende predikante se geloof in God en die Bybel af te breek.
Dit was ’n besprekingspunt tydens “Oopgesprek” op Radio sonder Grense op 5 Junie 2005 dat dit aan die lig gekom het dat daar aan die Universiteit van Pretoria Professore is wat die maagdelike geboorte van Christus ontken. Ek glo nie ek hoef verder uit te wei oor die Nuwe Hervorming wat sy beslag onder 'sekere' van Unisa se Professore verkry het nie.
Deur ’n aanslag op die mens se geloof in die Bybel as God se woord en sodoende in God self te maak, het die mense in die algemeen hulself oopgestel vir nuwe denkrigtings. Geen wonder dat satan die mens oënskynlik iets beter as wat die woord van God kan bied, wil aanbied nie.
Dit is dan ook nie meer snaaks dat al hoe meer mense hulle na Oosterse gelowe en gebruike met uiterlike ritusse wend nie.
Kind van God, as satan in felheid hom op Jesus toegespits het, om Hom te versoek, waarom sal hy dan nie ook vir u en my kragteloos wil maak, deur ons deur versoeking te mislei nie? God se woord waarsku in 1Kor. 10:12 “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
SAMEVATTING
Ons het gesien hoe satan op ’n subtiele wyse die mag verkry het, wat God aan Adam as hoof van die mensdom gegee het.
Ons het ook gesien hoe Jesus op ’n wettige wyse, deur die lydingsweg, satan van sy mag gestroop het.
Satan wil deur misleiding voorgee dat hy nie van sy mag gestroop is nie.
Satan se werkswyse is baie eenvoudig, want hy het Jesus telkens met drie versoekings versoek, daarom is hy steeds besig om van hierdie drie versoekings gebruik te maak, om die mensdom te mislei deurdat hy:
Die mens se fokus van God af wil verskuif na die mens se posisie of stand in die samelewing.
Die versoeking deur die mens ’n kortpad te bied. Dit kan ‘n kortpad wees na redding of heiligmaking.
Die versoeking deur die aanslag op die mens se geloof in God en Sy woord.
GEVOLGTREKKING
Satan het die Seun van God versoek, daarom mag geen mens dink dat hy verhewe is bo versoeking, of dat hy in sy eie krag staande sal kan bly nie.
TOEPASSING
My vriend, as satan jou mislei het met ’n kortpad na wedergeboorte, weet dan dat hy jou saam met hom in die hel wil hê.
Kind van God, hoe vas staan jou geloof in God, terwyl ons weet dat baie mislei sal word, soos wat die tyd van Jesus se koms nader kom.
Kind van
God, God se standaard vir Sy kinders is ’n heilige lewenswandel. Moet nie ’n
plaasvervanger vir ’n rein hart soek, wat gebaseer is op ’n sogenaamde
gevoelsgodsdiens nie.
Eienskappe van 'n Ware Bekering
(Jeremia 3: 6 tot 4: 4)
Van AS Venter
INLEIDING
By herhaling het ons in hierdie gelese gedeelte die oproep tot ’n terugkeer gelees. ’n Terugkeer wat ook spreek van ’n omdraai of wegdraai van die weg waarop die volk hom bevind het.
Dat hierdie oproep van God deur die profeet Jeremia na die volk Israel kom, spreek van die verkeerdheid van wandel, terwyl hulle volk van God moes wees, wat tot eer van Sy Naam moes leef.
Wanneer daar na God se woord in die algemeen gekyk word, dan sien ons dat die oproep tot bekering nie net in die Ou Testament tot die volk Israel gekom het nie, maar ook Nuwe Testamenties deur Johannes die Doper volgens Matt. 3:2 “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Jesus het sy aardse bediening volgens Mark.1:14-15 met dieselfde oproep tot bekering begin, want ons lees: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.”
Ontleed ons die woorde van Jesus, is dit duidelik dat dit nie net ’n oproep aan die volk Israel was om terug te keer van hulle afvallige toestand nie, maar strek dit veel wyer. Hier gaan dit om die oproep tot bekering in die lig van die evangelie, daarom dat hierdie oproep as universeel gesien kan word.
Die ganse mensdom is vanweë die sondeval in ’n disposisie met God, want ons lees in Rom.5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het – ” Dit is daarom dat die Evangelieboodskap uitgaan, sodat die mens hom van sy disposisie tot God kan bekeer.
Dit is hierdie herhaalde oproep tot bekering wat ons noodsaak om ons teks van oordenking in die lig van God se woord te oordink, omdat die eienskappe van ’n ware bekering hierin vir ons uitgelig word. Eienskappe wat van toepassing is op die volk Israel om tot God terug te keer, maar ook dieselfde eienskappe wat van toepassing is op die sondaar wat hom van sy disposisie voor God moet bekeer.
BEKERING IS ‘N WILSBESLUIT
Bekering is ’n wilsbesluit, want ons lees in Jer. 4:1 “As jy jou bekeer, Israel, spreek die HERE, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie.”
Hierdie oproep dui daarop dat dit nie noodwendig beteken dat die volk Israel, positief op hierdie oproep sou reageer nie. Inteendeel, kyk ons na die herhaalde oproep tot bekering in ons gelese gedeelte, maar ook reg deur die woord van God, dan is dit juis die teendeel wat van toepassing was, omdat die volk Israel oor die algemeen geweier het om positief op God se oproep te reageer.
Kyk ons na die oproep tot bekering aan ’n gevalle mensdom, sien ons dat hierdie oproep alle mense insluit, want ons lees in Hand 17:30 “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.”
God se wil is dat die mens hom sal bekeer, want ons lees in 2Pet.3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
As dit God se wil is dat die mens hom moet bekeer, dan is dit juis ’n bewys dat bekering ’n wilsbesluit is, daarom is bekering ’n bewustelike gebeurtenis. Dit gebeur nie maar in jou slaap, of iewers toe jy ’n klein babatjie was nie. Geen mens is daarom maar van altyd ’n kindjie van die Here Jesus nie en moet ’n bewuste bekering juis die werk van God, naamlik wedergeboorte, voorafgaan. God se woord bevestig hierdie gedagte volgens 1Kor.15:46 “Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.”
Tog is dit so jammer dat die meerderheid mense deur ’n verkeerde wilsbesluit, hulle nie tot God wil bekeer nie, want ons lees in Matt.7:13-14 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
DIE MENS SE WILSBESLUIT IS BEPERK TOT GOD SE GENADETYD
Die mens mag egter nooit aanvaar dat die wilsbesluit van bekering daarop dui dat die mens beheer oor die tydsomstandighede het nie. Die mens se wilsbesluit is beperk tot God se genadetyd.
Ons lees 2Kor. 6:1-2 “En as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie. Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.”
Dit is God wat telkens, vanaf die sondeval, eerste na die mens uitgereik het. Dit is God wat bepaal wie op watter oomblik op watter wyse onder die geklank van God se roepstem sal kom, waarna die mens dan ’n vrye keuse het.
Snap ons hierdie groot waarheid? Het u al besef dat hierdie genadegeleentheid wat ’n siel in hierdie oomblikke gebied word om met God vrede te maak, selfs na afloop van hierdie diens vir ewig verby kan wees?
Dit kan vir ewig verby wees deurdat ’n persoon deur die dood weggeruk kan word daarom dat Dawid gesê het in 1Sam.20:3 “Maar so waar as die Here leef en jou siel leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood” of dit kan selfs wees dat ’n persoon na afloop van hierdie diens nooit weer die stem van God sal hoor nie, want ons lees in Joh.6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie:...”
Bekering vereis ’n wilsbesluit binne God se bepaalde genadetyd:
Die mens kan deur ’n vrye wilsbesluit positief op God se roepstem reageer. Of
Die mens kan deur selfregverdiging, deurdat menslike norme as standaard gebruik word, God se roepstem ignoreer.
BEKERING MOET TOT GOD WEES
Nie alle bekerings loop op sekerheid van saligheid uit nie, daarom dat ons lees in Jer.4:1 “As jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My;...”
Dit is so dat die mens homself kan bekeer van sekere gebruike. So dikwels vind ons hierdie bekerings aan die begin van die nuwe jaar onder ’n ander naam, naamlik “Nuwejaarsvoorneme”.
Dit is gewoonlik wanneer die mens hom voorneem om te breek met al daardie verkeerde gebruike soos rook, drink dobbel ens. Ongelukkig is dit so dat hierdie bekerings van korte duur is, maar ongelukkig is dit ook so dat hierdie bekerings nie tot God is nie.
Dit mag ook wees dat ’n persoon met ’n spesifieke probleem sit en deur menslike inspanning daarin kan slaag om te breek met een of ander slegte gewoonte. Dit is soos die verhaal van ‘n persoon wat voor sy redding, as drankverslaafde, sy talle probleme aan drankmisbruik toegeskryf het. Probleme in sy huwelik, finansies en in sy werk, daarom dat hy besluit het om met die drinkgewoonte te breek.
’n Kind van God wat met hom in daardie oomblikke in gesprek getree het, het die gevaar van so ’n besluit gesnap, en vir hom daarop gewys dat bekering die mens se eindbestemming moet verander. Daar is geen verskil in die eindbestemming van ’n nugter sondaar en ’n dronk sondaar nie. Daarom dat bekering tot God moet wees, want slegs as verloste sondaar sal jou eindbestemming in heerlikheid by God wees.
Hoeveel mense skryf ’n bekering in hulle lewens toe aan herstel na ’n siekbed of motorongeluk? Hoeveel voel dat uitkoms uit finansiële of persoonlike krisisse dui op ’n inkeer in hulle lewens, maar na ’n tyd is daar geen gedagte aan hierdie bekering nie, omdat dit ’n bekering of wilsbesluit, sonder God was.
Inteendeel, die feit dat ’n persoon hom deur wilskrag van sekere verkeerde gebruike kan weerhou, kan weer aanleiding gee tot hoogmoed en die uiteinde van so ’n saak kan selfs ’n groter probleem wees as wat dit aanvanklik was.
Ons lees die rede hiervoor in die woord van God volgens Matt.12: 43-45 “En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste...”
Hoe groot is die nood in ons dag dat mense wat getuig van bekering en redding, se lewens sal getuig van ’n Godgewerkte bekering, wat noodwendig ’n veranderde lewe tot gevolg sal hê?
Was dit waarlik ’n bekering tot God, as die mens op grond van hierdie bekering, geen probleem vir sy wêreldse vriende inhou nie, of as die mens steeds met sy wêreldse gebruike en gewoontes volhard?
As jy jou bekeer, Israel, bekeer jou tot My, want ’n bekering tot God het ’n nuwe lewe tot gevolg. Ons lees in 2Kor. 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
BEKERING VEREIS DAT DIE MENS SAL BREEK MET SONDE
Bekering vereis dat die mens sal breek met sonde, want ons lees in Jer.4:1 “As jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My; en as jy die verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie.”
Ons lees ook in Spr.28:13 “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”
God werk nooit oor sonde nie, daarom kan en sal die mens nie vergifnis kan kry sonder om te breek met sy sonde nie. Hoe is ware bekering deur moderne prediking gestroop van ware berou oor sonde, terwyl God se woord vir ons leer in 2Kor.7:10 “Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.”
Ons teks van oordenking wys daarop dat die mens sy verfoeisels van God se aangesig af moet verwyder.
Hierdie verfoeisels dui op daardie wêreldse gebruike en gewoontes wat die mens in sy lewe toegelaat het, maar ook na die verfoeisels wat in die vorm van modes en musiek mense se huise ingekom het. God sê: Verwyder hierdie verfoeisels van My aangesig af.
Hierdie verfoeisels dui ook op daardie gesindhede teenoor ’n medemens, maar dit kan ook verwys na daardie onskuldige gereedskapstuk wat daar in jou motorhuis lê, of daardie kledingstuk of parfuum, mevrou, wat in jou kas gebêre is, of daardie skryfbehoeftes wat jy wederregtelik by die werk of winkel geneem het.
Daardie goed wat God op hierdie oomblik in jou gedagtes in herinnering roep!
RESTITUSIE
Ongelukkig behels die verwydering van verfoeisels van die aangesig van die Here, meer as net die ontslae raak van gesteelde goed in my midde. Dit behels dat daar ook restitusie gedoen sal word teenoor hulle teenoor wie die mens in hierdie verband oortree het.
Restitusie is daardie aksie waarin die mens hom met ’n medemens gaan versoen op grond van ’n oortreding teenoor daardie persoon.
Restitusie is ook sekerlik die grootste aktiveerder van die mens se wil, juis omdat die mens se wil onmiddellik hierteen rebelleer.
Restitusie is sekerlik die enkel grootste faktor dat talle bekerings nie blywend van aard is nie, want hoe kan die Here verwag dat ek my so sal verneder.
WARE BEKERING HOU ‘N BELOFTE IN
Ons lees in Jer.4:1 “As jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie.”
Ware bekering tot God het vir Israel bestendigheid in hulle land verseker terwyl die weiering om hulle tot God te bekeer, onderdrukking deur omliggende volke en selfs ballingskap tot gevolg gehad het.
As die mens sou volhard om te weier om hom tot God te bekeer - dit mag wees deur selfregverdiging of weiering om restitusie te doen - sal die uiteinde afgryslik wees, want ons lees in 2Thess.1:9 “Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.” Terwyl ware bekering tot God die belofte inhou dat so ’n mens as nuwe skepsel in Christus ’n ewigheidsbestemming in die teenwoordigheid van Jesus tegemoet sal gaan.
Ons lees in 1Joh. 3:2-3 “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”
SAMEVATTING
Ware bekering is ’n wilsbesluit waarin die mens hom tot God op God se tyd bekeer.
Ware bekering vereis dat die mens sy verfoeisels van die aangesig van die Here sal verwyder, wat dikwels restitusie vereis.
GEVOLGTREKKING
Daar is ’n nood aan God-gewerkte bekerings in ons dag wat veranderde lewens tot gevolg sal hê.
TOEPASSING
God bied ook in hierdie dag die geleentheid vir ’n soekende siel om met God te ontmoet.
Wat gaan
jou weerhou om voor Jesus te buig in hierdie dag?