Bedroef nie die Heilige Gees nie

(Efésiërs 4: 17-32)

Deur AS Venter

 

INLEIDING

As ons aan die woord “bedroef” of “droefheid” dink, dink ons dadelik aan ’n diepe teleurstelling wat oor ’n persoon gekom het.  Dit kan wees waar ’n lewensmaat ontrou was in die huwelik of dit kan die gevolg wees van die dood van ’n geliefde. Dit kan die gevolg wees van ’n kind wat ouers se verwagting vir hom deur sy optrede geskaad het of dit kan ’n kind wees wat deur ’n ouer se optrede bedroef is.

Wanneer ons die woorde lees:  “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie” spreek dit van ʼn waarskuwing, sodat die mens nie deur sy optrede, ʼn diepe teleurstelling by God die Heilige Gees sal bewerk nie. 

Om hierdie aspek van droefheid by die Heilige Gees na reg te verstaan vereis dat ons sal besef wie die Heilige Gees is.  Daarby moet ons ook bepaal wie dit is wat die Heilige Gees kan bedroef, op hoedanige wyse die mens die Heilige Gees kan bedroef asook die gevolge wat dit vir die mens inhou as die Heilige Gees bedroef is.

DIE HEILIGE GEES AS DIE DERDE PERSOON VAN DIE GODDELIKE DRIE-EENHEID

In die eerste plek moet ons eers vasstel wie die Heilige Gees is, sodat ons die begrip kan snap wanneer God se woord vir ons sê:  En bedroef nie die Heilige Gees van God nie.

Die antwoord op hierdie vraag vind ons opgeteken in 1Joh. 5:7 “Want daar is drie wat getuig in die hemel:  die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;”

Die Heilige Gees is dus volgens hierdie vers ’n Persoon en staan ook as die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid bekend.  Ons sê die derde Persoon, maar daarmee bedoel ons nie derde in rang nie, omdat al drie die Persone van die Goddelike Drie-eenheid gelyk is.

As daar na die Heilige Gees as die derde Persoon in die Goddelike Drie-eenheid verwys word is dit gebaseer op die openbaringsvolgorde van die Goddelike Drie-eenheid.

Die wyse waarop die Heilige Gees in die Ou Testament werksaam was, asook die wyse waarop die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag, het daartoe aanleiding gegee dat die Heilige Gees deur baie mense nie as ’n persoon nie, maar as ’n invloed of krag beskou word.  In die Ou Testament het die Heilige Gees sporadies insidenteel opgetree.  Daarmee word bedoel dat Hy oor ’n persoon vaardig sou word vir ’n spesifieke doel of taak, maar sodra die taak afgehandel is, het die Heilige Gees Hom weer van die persoon onttrek.

In die Nuwe Testament kom die Kerkdispensasie tot stand met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag en is daar in God se woord definitiewe take en eienskappe aan Hom toegeskryf, wat die Heilige Gees sonder twyfel as ’n Persoon onderskei. Ons lees in Joh.16: 7-8 “Maar Ek sê julle die waarheid:  Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;  en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.”

Daarmee saam het die Heilige Gees gekom om sondaars te wederbaar as kinders van God, om dan by hulle woning te maak tot in ewigheid, want ons lees in Joh.14:16 “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.”

Ons teks van oordenking bevestig verder die Persoon van die Heilige Gees, omdat die emosie van droefheid, wat slegs op ’n persoon van toepassing is, aan die Heilige Gees toegeskryf word, want ons lees:  Ef. 4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

Wat vir ons verder uitstaan in die persoon van die Heilige Gees, is die nederige posisie wat Hy inneem, deurdat Hy die mens trek, oortuig en wederbaar.  Tog tree Hy nooit op die voorgrond nie, maar word die fokus gedurig op Jesus gerig.

Dit is hierdie nederige posisie van die Heilige Gees wat dikwels daartoe aanleiding gee dat Sy werk gering geskat word en selfs verag word, wat verskillende reaksies by die mens tot gevolg het.

DIE NOODSAAKLIKHEID OM TE BEPAAL WIE DIE HEILIGE GEES KAN BEDROEF

Om die gedagte om die Heilige Gees te bedroef en wie dit is wat Hom kan bedroef, reg te verstaan, vereis dat ons net eers die begrip “om die Heilige Gees te smaad” sal verduidelik. 

DIT IS DIE ONGEREDDE WAT DIE HEILIGE GEES SMAAD

Ons lees in Heb. 10:29 “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”

Om die Heilige Gees te smaad, kom daarop neer dat die mens doelbewus neerhalend, beledigend en kwetsend optree of reageer teenoor die Heilige Gees.

Hierdie vers volgens Heb.10:29 moet nie verkeerdelik as vervalleer vertolk word nie, maar moet in die lig van 2Pet 2:20-22 verklaar word.  Dit is wanneer die Heilige Gees die oortuiging werk in die hart van die sondaar, die sondaar ’n belangstelling toon in wat hy hoor, maar wanneer hy voor die keuse kom om Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker, doelbewus ’n keuse teen hierdie weg wat aan hom voorgehou is, te maak.

Om die Heilige Gees te smaad kom dus daarop neer dat die sondaar doelbewus neerhalend, beledigend en kwetsend optree teenoor die oortuiging wat die Heilige Gees in daardie persoon se hart gewerk het.  Om die Heilige Gees te smaad is dus direk op die sondaar van toepassing.

Hoe dikwels vind ons dat ’n kind van God wat standpunt vir Jesus inneem, belaster en beledig word, of dat daar spottenderwys teenoor, of van so ’n persoon gepraat word.  Ons neem dit as vanselfsprekend dat dit teen so ’n mens gerig is en nie teenoor die Heilige Gees nie, maar let ons op ons teks van oordenking, dan is dit duidelik dat die Heilige Gees elke kind van God verseël wat behels dat Hy by die kind van God woning maak.

Elke aanmerking teen die kind van God, wat daarop gerig is om te beledig en te belaster, is in werklikheid teen die Heilige Gees gerig, waardeur Hy gesmaad word. Sê Paulus nie tereg volgens 2Kor. 5:20  “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan.  Ons bid julle om Christus wil:  Laat julle met God versoen.”

Hoeveel keer is deure nie tydens evangelisasie in ons gesig toegeslaan, of het mense woedend gereageer as daar met hulle oor Jesus gepraat word nie.  Deur hierdie optrede smaad hulle die Heilige Gees omdat kinders van God maar net in opdrag van God volgens Hand.1:8 optree, om getuies te wees, sodat Tit. 2:11 in vervulling kan gaan, want ons lees:  “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.”

Met reg kan ons verontwaardig wees dat die Heilige Gees op so wyse gesmaad word.  Tog vind ons dat die Heilige Gees weekliks, selfs in dienste, gesmaad word.  Tydens boodskappe oortuig die Heilige Gees van sonde, geregtigheid en oordeel, terwyl mense wat nie vrede met God het nie, met ’n ongeërgde houding, na afloop van ’n diens kan uitstap. 

Die Gees van God word gesmaad, want mense regverdig hulself ten spyte van die oortuiging.  ’n Volgehoue smaad teen die Heilige Gees kan gevolglik uitloop op die lastering teen die Heilige Gees.  Let op Jesus se woorde volgens Matt. 12: 31  “...Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mens nie vergewe word nie.”

Hoe verskriklik wanneer die mens volhard om die Gees van God te smaad. 

Die vraag is net, u wat weet dat u nie vrede met God het nie:  Hoe lank sal jy voortgaan om die Gees van God te smaad, voordat ook jou geleentheid vir ewig verby sal wees, met net ’n ewige verdoemenis wat wag?

DIT IS DIE KIND VAN GOD WAT DIE HEILIGE GEES KAN BEDROEF 

Dit bring ons by ons teks van oordenking waarvolgens dit uitlig dat dit die kind van God is wat die Heilige Gees kan bedroef, want ons lees in Ef. 4:30  “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”  Dit is net die kind van God wat deur die Heilige Gees verseël word by sy redding. 

Terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, het ek net besef dat dit wat in werklikheid ’n voortgesette droefheid van die Heilige Gees, deur die kind van God se dade, tot gevolg het, nie die oorsprong van die droefheid is in die verband wat God se woord dit vir ons uitlig nie.  Dit is wel deel van die gevolg wanneer die Heilige Gees bedroef is.

Wat sou dit dan beteken om die Heilige Gees te bedroef?  Om die Heilige Gees te bedroef het sy oorsprong daarin dat die kind van God in werklikheid die teenwoordigheid van die Gees van God in sy lewe misken.  Die Heilige Gees word dus ondergeskik gestel aan die ander Persone van die Goddelike Drie-eenheid. 

Dit beteken dat ons dit buite rekening laat dat God die Heilige Gees as God, te alle tye in ons lewens teenwoordig is en dat ons te alle tye posisioneel volmaak voor God moet wees.   

Dit kan soos volg verduidelik word:

So jammer dat hierdie selfde sondes dan weer opgeneem word, sodra die krisis van gebeure of die impak van ’n boodskap weer vervaag, juis omdat die teenwoordigheid van die Heilige Gees misken word. 

Die Gees van God word deur kinders van God bedroef, juis omdat ons te alle tye so onder die besef van die Heilige Gees se teenwoordigheid en Sy posisie as God, in ons lewens moet wees, sodat dit nie nodig sal wees om kits aanpassings te maak, in ’n poging om God te behaag nie. 

Die Heilige Gees word verder daarin bedroef dat kinders van God die krag van die Heilige Gees deur hulle lewens misken, daarom dat ons so dikwels besluite in eie krag neem.  Sal ons nie opnuut die waarheid van 2Kor. 4:13-14 snap nie, want ons lees:  “En omdat ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskrywe is:  Ek het geglo, daarom het ek gespreek – glo ons ook, daarom spreek ons ook.  Want ons weet dat Hy (Die Heilige Gees) wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel.” 

As dit dieselfde Heilige Gees is wat Jesus uit die dode opgewek het, wat ons wat by die wederkoms van Jesus reeds ontslaap het, sal opwek, waarom sal Hy dan nie instaat wees om nou in krag en waarheid in ons lewens op te tree nie? 

Sal ons nie opnuut erken dat God die Heilige Gees, God is en dat Hy elke oomblik in ons lewens teenwoordig is nie. 

DIE GEVOLGE WANNEER DIE HEILIGE GEES BEDROEF IS 

Watter gevolge hou dit dan vir die kind van God in as die Heilige Gees in sy lewe bedroef is?  Presies dit wat Paulus as probleem in die Galasiër-gemeente ervaar het, want ons lees in Gal. 3:1  “o, Onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig.”  Vers 3 “Is julle so onverstandig?  Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” 

Wanneer die Gees van God bedroef is in die kind van God se lewe, gebeur dit wat Paulus in hierdie gedeelte vir ons uitlig, want kinders van God wat die pad geloop het, bevind hulle skielik op die terrein van vleeslikheid en ’n geestelike onsensitiwiteit tree in so ’n persoon se lewe in. 

Skielik vind ons dat die kind van God meer ingestem is op die alledaagse verpligtinge en laste as wat daar ’n ingesteldheid is op die geestelike toestand van siele wat jou pad kruis. 

Skielik vind ons dat kinders van God mensgerig en nie meer Godgerig optree nie.  Wanneer kinders van God oor sonde begin debatteer en selfs kant kies, dui dit op ’n onsensitiwiteit en ’n geestelike hardheid wat in so ’n kind van God se lewe ingetree het.

Die feit dat daar oor homoseksualisme in kerke gedebatteer word, wil nie sê dat almal wat aanvaarding voorstaan ongered is nie, maar dit is juis ’n bewys dat die mens se regte bo God se standaard gestel word.  ’n Duidelike bewys dat die Heilige Gees bedroef is en dat kinders van God nie meer ingestem is om Sy stem te hoor nie.   

Is dit nie ook presies wat gebeur as ons kant kies vir een van die partye in egskeidings, terwyl God se woord egskeiding sonde noem nie? 

Geestelike onsensitiwiteit weens die feit dat die Gees van God in die kind van God se lewe bedroef is, gaan voort tot ’n geestelike hardheid wat uitloop op ’n geestelike duisternis in so ’n kind van God se lewe.  (Ef. 4:17-18) 

Hoeveel kinders van God bevind hulle as geestelike wrakke op die lewenspad en word deur elke wind van dwaling rondgeslinger, omdat die lig van die Heilige Gees in hulle lewens ontbreek. 

Met geestelike duisternis bedoel ek nie dat so ’n kind van God daardeur verlore sal gaan nie, maar wel dat so ’n persoon ’n gebrek aan geestelike insig openbaar wat op besluite en optredes kan uitloop wat oneer op die naam van God sal bring.  Dan word die woorde van Rom. 2:24 waar, want ons lees: “Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster.” 

SAMEVATTING 

Wanneer die posisie en persoon van die Heilige Gees verstaan word, dan is dit duidelik dat die sondaar deur sy kwetsende optrede, wanneer die Heilige Gees van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig, die Heilige Gees smaad.  

Die kind van God kan daarteenoor die Heilige Gees deur die miskenning van die posisie van die Heilige Gees van God in sy lewe, bedroef, wat ’n geestelike onsensitiwiteit tot gevolg het, wat uitloop op ’n geestelike duisternis. 

GEVOLGTREKKING 

Die feit dat lasterlike uitsprake toenemend in die media en vermaaklikheidswêreld gemaak word en daarby die afwesigheid van sondaars wat nog tot bekering kom in kerke, dui daarop dat die Heilige Gees deur die wêreld gesmaad word, terwyl kinders van God se lewe geen invloed meer uitoefen nie. 

Die kragteloosheid van kinders van God se lewens en die tipe standpunte wat kinders van God inneem, is ’n duidelike bewys dat die Gees van God in die meeste kinders van God se lewens bedroef is.   

Daarom dat mense bely dat hulle gered is en daarom deur die Heilige Gees verseël is, blykbaar geen gewetenswroeging het as hulle sonder rede van die onderlinge byeenkomste wegbly nie. 

TOEPASSING  

SONDAAR

Hoe lank gaan jy die Gees van God nog smaad, deur jouself te wil regverdig en sodoende gevaar te loop om vir ewig verlore te gaan?

KIND VAN GOD

Kind van God, miskien het jy dit nie besef nie, maar die Heilige Gees is al so lank in jou lewe bedroef. Wil jy nie in berou voor God buig sodat Hy jou kan herstel nie?  Kind van God, moet nie uitstel nie, want jy loop gevaar om oneer op Sy Naam te bring.

 

Mag God genade gee dat jy met wie God gepraat het, nie sal uitstel nie, maar positief sal reageer.

 


 

Die Volheid van die Tyd

(Galásiërs 4: 1-7)

Deur AS Venter

 

INLEIDING 

Ons lees in Joh. 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” 

Jesus Christus se koms na hierdie aarde was dus die bewys van die Vader se liefde vir ʼn verlore mensdom, terwyl Jesus se sterwe aan die kruis die bewys van Jesus se liefde vir die mensdom is. 

God maak deur Sy woord ʼn verdere verklaring oor Jesus se koms na hierdie aarde, want ons lees in Gal. 4: 4-5  “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ʼn vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.”    

God het Sy Seun in die volheid van die tyd na hierdie aarde gestuur.  Die woord “volheid” in hierdie verband dui op ʼn maat wat tot die uiterste toe vol was en geen verdere uitstel was dus moontlik nie.  Die profesieë wat deur die eeue deur die profete uitgespreek is, het sy volle maat bereik, want al die tekens wat op hierdie tyd gedui het, het in vervulling gegaan.   

Die geboorte van die een wat Jesus as die Lam van God sou uitwys, naamlik Johannes die Doper, was reeds aangekondig.  Daarby was Jesus se geboorte ook reeds aangekondig en het Sy geboorte dan volgens die profesieë in vervulling gegaan.  Ons kan dus met reg sê dat die volheid van die tyd God se bepaalde tyd is. 

Wanneer ons egter die gedagte van “die volheid van die tyd” oordink, moet ons erken dat die volheid van God se tyd, menslik gesproke, seker op die mees ongeleë tyd denkbaar was. 

Sou ons egter terugkyk na die gebeure wat in die volheid van die tyd plaasgevind het, word dit vir ons duidelik dat God se raadsplan vanaf Jesus se geboorte tot aan die einde van tyd, hierdeur in aksie gegaan het, sodat die mensdom die volheid van God se liefde deur Jesus Christus deelagtig kan word.

 

DIE VOLHEID VAN TYD WAT MET JESUS SE GEBOORTE IN VERVULLING GEGAAN HET, HET DIE GENADE VAN WEDERGEBOORTE INGELEI

 

Ons lees in Kol.2:9-10 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;”

Dit is deur die volheid van tyd wat in vervulling gegaan het dat die mens die volheid van God se teenwoordigheid deur die wedergeboorte in sy lewe kan ervaar.  In die Ou Testament moes daar jaarliks ʼn offer vir die reiniging van sondes gebring word en het die Heilige Gees oor ʼn persoon vaardig geword en nie inwonend soos na die uitstorting van die Heilige Gees die geval is nie.

Dit is deur die volheid van die tyd wat met Jesus se geboorte en gepaardgaande versoeningswerk in vervulling gegaan het, dat die mens nou die volheid van God kan ontvang.

ʼn Mens mag dalk redeneer dat die volheid van God op sondelose volmaaktheid dui, maar om dit eenvoudig te verduidelik, kom dit daarop neer dat God in elke mens ʼn vakuum geskep het.  Dit is dan ook die rede waarom die mens reeds baie vroeg in sy lewe op ʼn ontdekkings ekspedisie is.  Dink maar aan daardie klein kindjie wat alles ondersoek.  Dit is uitsluitlik daarop gerig om hierdie vakuum wat slegs deur God gevul kan word, te vul.   

Dit word gesê dat die mens die grootste konsentrasie van kennis inneem gedurende die eerste sewe jaar van sy lewe  Dit is dan ook die rede waarom kindertjies so ontvanklik vir die Evangelie is, terwyl ouer mense nie meer so ontvanklik is nie.  Die Rooms Katolieke kerk en die kommunis sê dan ook:  Gee my die kind die eerste sewe jaar van sy lewe, dan kan jy hom terugkry. 

Dit is so jammer dat talle mense in die poging om hierdie vakuum in hulle lewens te vul, hul wend tot dwelms en ander verslawende euwels, terwyl dit geen vervulling kan bied nie.  Tog is dit so, wanneer so ʼn mens die volheid van die Godheid, ten spyte van so ʼn verwoeste toestand, deelagtig word, dat ʼn mens verstom staan om te sien hoe daardie rustelose soeke en ellende  oorgaan in ʼn rus in God. 

Jesus het in die volheid van tyd gekom, juis om die vermoeide sondaar rus te kom bied. Ons lees in Matt.11:28 “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” 

Deur die geboorte van Jesus in die volheid van tyd, is die weg berei, sodat elke mens die volheid van die Godheid, deelagtig kan word en dit spreek van die Goddelike natuur wat die mens by wedergeboorte deelagtig word. Ons lees volgens 2Pet. 1:4 “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” 

Jesus het in die volheid van tyd gekom sodat ʼn siel in nood ook in hierdie dag die volheid van die Godheid in sy lewe kan ervaar.  Hoeveel siele verkeer nie in hierdie tyd in lewensgevaar weens wanhoop, depressie, eensaamheid en ander verwante faktore, wat in baie gevalle selfs op selfmoord uitloop nie?  

As die mensdom in nood tog net wil besef dat God Sy Seun in die volheid van tyd gestuur het, sodat ʼn soekende siel in hierdie oomblik, die volheid van die Godheid deur wedergeboorte, kan ontvang.

DEUR DIE VOLHEID VAN TYD WAT MET JESUS SE GEBOORTE IN VERVULLING GEGAAN HET, HET DIE GENADE VAN GOD OOK NA DIE HEIDENE UITGEGAAN  

In die volheid van die tyd het Jesus na Sy eiendom gekom en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.  Hy is nie net met Sy geboorte verwerp nie, maar ook in Sy lewe, sterwe en opstanding uit die dode is Hy verwerp. 

Hierdie negatiewe optrede van Sy volk het God in Sy genade tot voordeel van die heidene, waarvan ons deel is, aangewend.  Ons lees in Rom. 11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het.” 

In hierdie woorde is daar ook vir ons ʼn waarskuwing in opgesluit, omdat daar ook ʼn maat vir die heidene bepaal is, want Rom. 11:25  sê “totdat die volheid van die heidene ingegaan het.”  Hierdeur sê God nie dat daar ʼn beperkte getal is wat sal ingaan, terwyl die ander nie die geleentheid sal hê om in te gaan nie.  Ons lees inteendeel in 2Pet. 3:9 “Die Here is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Die probleem kom daarby in dat die volheid van die tyd, waarop Jesus na hierdie aarde gekom het, met die gepaardgaande voorregte vir die ganse mensdom, ook vir die mense van ons dag ʼn ongeleë tyd geword het.  Daarom dat die mens sy rug toenemend op Jesus sal draai.

Die volheid van die tyd om positief in dankbaarheid op Jesus se eerste koms na hierdie aarde, te reageer, sal weldra verby wees.  God het ook in hierdie geval ʼn volheid van tyd bepaal. 

Die vraag is net:  In watter verhouding staan jy in hierdie oomblik teenoor Jesus?  God wil die volheid van die heidene insluit wat jou en my ook insluit.  As ons egter in opstand kom teenoor die begrip “heiden”  kan ons uitgesluit word van hierdie voorreg.  

Die volheid van die tyd vir die heidendom wys verder daarop dat die geleentheid vir die kind van God, om sielewenner te wees, ook weldra verby sal wees.  Engele begeer hierdie voorreg wat grootliks deur kinders van God geminag word.  Engele word nie toegelaat om die evangelie uit te dra nie en net so sal daar ook vir ons as kinders van God ʼn tyd aanbreek waar hierdie voorreg vir ewig verby sal wees.  

Jesus praat self van ʼn afgebakende tyd vir die nasies.  Luk. 21:24  ...en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” 

Die verhaal word vertel dat ʼn Oosterling aan ʼn kind van God gesê het:  “As ek moet glo dat daar ʼn hel is soos wat julle Christene glo, dan sou ek my knieë stukkend gekruip het om te verseker dat mense met Jesus versoen word, maar ek sien nie die dringendheid en erns by Christene nie.” 

Kind van God; God het in die volheid van die tyd Sy Seun na hierdie aarde gestuur, maar God het ook in Sy raadsplan bepaal dat daar ʼn volheid van tyd sal aanbreek vir die ongeredde om in God se koninkryk in te kom.  

U en ek het die voorreg om as medewerkers van God, hierdie volheid in vervulling te laat gaan.  Wat van jou familie en vriende saam met wie jy in hierdie dag sal verkeer;  Is hulle gered? 

GOD HET IN DIE VOLHEID VAN DIE TYD SY SEUN GESTUUR, MAAR GOD HET OOK BEPAAL DAT DIE VOLHEID VAN DIE TYD WEER IN VERVULLING SAL GAAN VIR JESUS SE WEDERKOMS

Ons lees in Ef. 1:7-10 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig.”  

Hierdie teks vat die raadsplan vir ons saam, omdat Jesus na hierdie aarde gekom het as bewys van die liefde van die Vader vir die mensdom.  Jesus het in die volheid van die tyd na hierdie aarde gekom, sodat ons gered kan word, sodat ons in die volheid van tyd onder een Hoof, naamlik Christus, verenig kan word. 

Dit is juis hierin dat God weereens ʼn dag bepaal het, om die volheid van tyd te wees, waarop Jesus weer sal kom. Dit is juis Jesus se eerste koms na hierdie aarde, wat as duidelike bewys dien dat dit wat God deur die profete gespreek het, in vervulling gegaan het. 

Reg deur die woord van God het profete ook van die volheid van die tyd van Jesus se tweede koms gespreek, daarom weet ons dat God Sy woord ook oor hierdie toekomstige gebeurtenis, in vervulling sal laat gaan. 

God het vir ons deur Sy woord tekens uitgewys wat die volheid van hierdie tyd sal aandui, alhoewel niemand die dag en die uur van die volheid van tyd sal kan bepaal nie. 

Paulus noem die tyd wat die volheid van hierdie toekomstige gebeurtenis vooraf sal gaan “Die laaste dae” en dan gee hy vir ons definitiewe tekens waaraan ons hierdie dae sal kan identifiseer, wat daarop dui dat God se bepaalde tyd vir die wederkoms, menslik gesproke op ʼn baie ongeleë tyd vir die meerderheid mense sal wees. 

Ons lees in 2Tim. 3: 1-5 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.  Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.  Keer jou ook van hierdie mense af.”

Paulus sê:  “Keer jou van hierdie mense af”  juis omdat die volheid van die tyd van Jesus se wederkoms ook vir hulle op ʼn baie ongeleë tyd sal kom, maar dat jy met afwagting en blydskap, hierdie bepaalde tyd en gebeurtenis, tegemoet kan gaan.

SAMEVATTING 

God het Sy Seun in die volheid van tyd gestuur sodat ons:

GEVOLGTREKKING 

God is ʼn waarmaker van Sy woord.  Jesus se koms na hierdie aarde was in die volheid van die tyd.  Daar is egter ʼn volgende volheid van tyd wat enige oomblik in vervulling kan gaan.

TOEPASSING 

Het jy ook al deel gehad aan die volheid van God se tyd:

 

 


 

Voorbeelde uit God se Woord

(1Konings 22: 1-40)

Deur AS Venter

INLEIDING

Koning Josafat vra die vraag:  “Is hier nie nog ʼn profeet van die Here, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?”   Let ons op die omstandighede waarin Josafat hierdie vraag vra, dan dring dit ons om hierdie gedeelte noukeurig te ondersoek. 

Josafat, koning van Juda, was een van die min konings wat God in opregtheid gedien het.  Tog vind ons hom in hierdie verhaal in die teenwoordigheid van Agab, koning van Israel, wat seker een van die goddelooste konings van Israel was. 

Agab dring daarop aan dat Ramot in Gilead, wat deel van Israel se grondgebied was, maar nou onder beheer van die koning van Aram, herower moes word.  Josafat dring egter daarop aan dat die profete God se wil in hierdie voorneme moes uitwys, waarop Sedekia en die 400 profete, in Naam van die Here die oorwinning aangekondig het. 

Josafat voel nie op sy gemak met die profete se uitspraak nie, daarom dat hy die vraag vra volgens vers 7 “Is hier nie nog ʼn profeet van die Here, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?”   Agab sê dat Miga ook ʼn profeet is wat geraadpleeg kon word, maar Agab maak geen geheim van sy afkeur van Miga nie. 

Miga word geroep, maar terselfdertyd poog die boodskapper om Miga voor te berei, om in ooreenstemming met die ander profete se uitspraak, ʼn uitspraak te maak.  Wanneer Miga tog in ooreenstemming met die ander profete ʼn gunstige uitspraak maak, is dit juis die goddelose Agab wat dadelik besef dat Miga nie die waarheid praat nie. Miskien het Miga met sarkasme hierdie uitspraak gemaak, sodat Agab juis die verkeerheid van hierdie uitspraak sou besef.

Wanneer Miga wel God se wil aan hulle bekend maak, waarin ʼn oordeel oor Agab aankondig word, word Agab kwaad.  Ten spyte daarvan dat God se oordele oor hom aangekondig is, trek Agab tog in die geveg op, wat uitloop op sy dood. 

In hierdie verhaal word daar vir ons vier hoofkarakters uitgebeeld, wat deur hulle optrede, verteenwoordigend is van elke mens op aarde en moontlik selfs in hierdie gehoor, naamlik:

Die doel van hierdie boodskap is dan ook daarop gerig om die vier karakters meer breedvoerig aan u voor te hou, sodat elkeen van ons met sy posisie voor God sal identifiseer. 

AGAB WAT ‘N TIPE VAN DIE GODDELOSE EN ONGEREDDE IS

Ons lees in 1Kon. 22:8 “Daar is nog een man om deur hom die Here te raadpleeg; maar ek haat hom, omdat hy oor my niks goeds profeteer nie, maar onheil.” 

Agab, koning van Israel, wat al die geleenthede tot sy beskikking gehad het, want hoe het God nie tot hom deur die profete gespreek nie?  Het hy nie die wonder aanskou toe God vuur gestuur het om Elia se offer te verteer, toe Elia die Baalpriesters uitgedaag het nie?  Daar is God aan hom as die ware God geopenbaar. 

God is nie net aan Agab geopenbaar as die enige ware God nie, maar Agab het ook die genade van God gesmaak toe hy hom voor God, oor Nabot se wingerd, verneder het.  Ons lees in 1Kon. 21:28-29 “Toe kom die woord van die Here tot Elia, die Tisbiet, en sê:  Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het?  Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.” 

Dan sien ons Agab in ons gelese gedeelte.  Hy haat die waarheid, daarom dat hy wil volstaan met die boodskap van die valse profete.  Wanneer Miga egter dieselfde boodskap as die 400 profete bring, merk hy dadelik dat dit nie die waarheid is nie. 

Wat egter opval is sy woorde aan Miga, want ons lees in 1Kon. 22:16 “En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die Here tot my moet spreek nie?”  

Ten spyte van die waarheid van God se woord, wat as waarskuwing aan Agab gebring word, gaan hy voort met sy planne.  Hy besluit om self voorsorgmaatreëls vir sy behoud sal tref, want ons lees in 1Kon. 22:30  “En die koning van Israel het vir Josafat gesê:  Ek sal my onkenbaar maak en in die geveg kom; trek u maar u eie klere aan.  So het die koning van Israel hom dan onkenbaar gemaak en in die geveg gegaan.” 

Ten spyte van hierdie voorsorgmaatreëls het hy in die geveg gesterf.  Agab het soos ʼn dwaas sy eie weg probeer uitwerk, maar aan die einde daarvan sterf hy sonder God en sonder hoop. 

Agab, wat die goddelose en ongeredde voorstel, maar hoe het hierdie gebeure hom nie deur die eeue in die lewens van die massas herhaal nie.  Hoeveel mense het nie deur die jare heen daardie tere influistering van die Heilige Gees tot hom of haar hoor spreek, maar dit tog doelbewus verag nie? 

Hoeveel mense is daar wat God se genade by herhaling gesmaak het?  Dink maar aan al daardie noue ontkomings in jou lewe, waar God jou bewaar het sodat jy nie in daardie ongeredde toestand sou sterf nie.  Die probleem is net dat ons geneig is om nie hierdie genadegeleenthede raak te sien nie, maar die dag as jy gered is dan besef ʼn mens hoeveel keer God se genade aan jou verskyn het. 

Die probleem kom net daarby in dat die ongeredde hierdie genadegeleenthede wat oor hulle lewens gekom het, verag en eers in die ewigheid sal besef dat dit God se genade aan hulle was om gered te word, maar dan sal dit vir ewig te laat wees.

Die massas ervaar God se genade, tog haat hulle die woord en weg van God, omdat dit indruis met hulle planne en wat hulle graag wil hoor. 

Hiermee saam sien ons die dwaasheid van die mensdom in ons dag, wat dink dat hulle God se beskerming nie nodig het nie en dat hulle hul eie beskerming en saligheid kan verseker.

My vriend, het u gesien wat gebeur in die wêreld as God ʼn natuurramp toelaat?  Dit waarop die mens die toekoms wou bou, het in ʼn oomblik soos kaarthuise inmekaar gestort.  Die vraag is net:  Waaraan hou jy in hierdie oomblik vas om vir jou die ewigheidsbestemming te verseker?

JOSAFAT, ‘N TIPE VAN DIE KIND VAN GOD, WAT KOMPROMIE IN SY LEWE TOEGELAAT HET

Waar Agab die goddelose en ongeredde uitbeeld, beeld Josafat aan die anderkant die geredde in ʼn teruggevalle toestand uit, want ons lees in 1Kon. 22:43 “En Josafat het geheel en al in die weg van sy vader Asa gewandel...”  Vers 45 “En Josafat het vrede gesluit met die koning van Israel.”

Josafat het vrede gesluit met die goddelose Agab en dit is nie lank nie of ons tref hom aan in die teenwoordigheid van Agab.  Hy deel in Agab se planne om Ramot van die koning van Aram af te neem.  Josafat word dus betrek om vir Agab in die stryd te tree.

So tragies;  Josafat bevind hom in kompromie met die koning van Israel, maar in sy hart is hy onrustig met die verloop van sake, daarom dat hy hom beroep op die profete om die wil van God te wete te kom.  Die probleem kom egter daarby in dat Josafat  ʼn valse boodskap ontvang het.

Toe Miga op aandrang van Josafat op die toneel verskyn en God se waarskuwing in waarheid uitgaan, vind ons dat Josafat nog steeds saam met Agab uittrek na die geveg.  Hierdeur het ook sy lewe in gevaar gekom, want hy word deur die vyand verwar met Agab.  Ons lees in 1Kon. 22:32 “En sodra die owerstes van die waens Josafat sien, sê hulle:  Dit is sekerlik die koning van Israel!  En hulle het weggeswaai om teen hom te veg; maar Josafat het geskreeu.”

Hoeveel kinders van God het ʼn pad in afhanklikheid van die Here begin loop, maar iewers langs die pad het hulle in ʼn onbewaakte oomblik nie meer soveel verkeerd gesien in wat eers verkeerd was nie.  Dink maar aan die standpunt wat jy teenoor vuil grappe en verkeerde praatjies ingeneem het, maar geleidelik begin jy daarin deel. 

Kind van God, ons moet daarop let hoe God se woord teen verkeerde gesprekke waarsku, juis omdat dit die weg oopmaak tot verkeerde vriendskappe en verbonde, daarom dat ons lees in 1Kor.15:33 “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”

Dit is hierdie vriendskappe wat jou in die gevaar bring, om in sonde te val en soos in die geval van Josafat wat God se wil wou ken in die saak om met Agab op te trek.  Daar sal altyd daardie valse profete wees wat dit wat verkeerd is, as reg wil voorstel.  Miskien het God jou oortuig van die verkeerdheid van ʼn saak, maar jy het dalk by mense raad gaan vra en dalk verkeerde raad gekry.

Kind van God, het jy nie ook al soos ʼn Josafat van ouds, so verstrengel geraak in jou wêreldse vriendskappe en gesprekke, dat jy as deel van die goddelose gereken word nie?  Daardeur sal daardie kosbare getuienis van kindskap wat net die Heilige Gees aan Sy kinders kan gee, so geskaad word dat jy as deel van die wêreld beskou sal word.

Dit het uiters noodsaaklik geword dat ons as kinders van God ons getuienis sal bewaar, want sê God se woord nie met reg in Rom.2:24 “Want soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster.”

SEDEKIA EN DIE VIERHONDERD PROFETE WAT ‘N TIPE VAN DIE MODERNE KERK VAN ONS DAG IS

In die derde voorbeeld sien ons Sedekia en die vierhonderd profete wat die moderne kerk van ons dag voorstel.  Dit is hulle wat met ʼn voorspoedsboodskap, wat gepaardgaan met tekens, wil optree asof hulle in Naam van die Here optree, want ons lees in 1Kon. 22:6 “Toe laat die koning van Israel die profete bymekaarkom, omtrent vierhonderd man, en hy sê aan hulle:  Sal ek teen Ramot in Gilead trek om te veg of dit laat staan?  En hulle antwoord:  Trek op, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.”  (Vers 11) “Sedekia, die seun van Kenaäna, (het) vir hom ysterhorings gemaak en gesê:  So spreek die Here:  Hiermee sal u die Arameërs stoot totdat hulle vernietig is.”

Die valsheid van hierdie profete hou nie hier op nie, maar die boodskapper wat gestuur word om Miga te gaan roep, probeer druk op Miga plaas om soos Sedekia en die vierhonderd profete, ʼn leuen in die Naam van God te verkondig.

As hulle nie daarin slaag nie, dan word Sedekía en sy mede profete, Miga se felste teëstanders, want ons lees in 1Kon. 22:24  “Daarop kom Sedekía, die seun van Kenaäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê:  Hoe dan het die Gees van die Here van my af weggegaan om met jou te spreek?”

 

Sedekía en die vierhonderd profete tipeer die moderne kerk en geestelike leiers van ons dag.  Oor die afgelope dekade of twee was daar ʼn drastiese toename in geestelike leiers wat ʼn boodskap verkondig, wat vreemd is aan die boodskap van die Bybel.

Dit is nie net die moderne geestelike leiers wat in getalle toegeneem het nie, maar lidmate het toenemend hierdie vreemde, permissiewe denkrigting van die moderne kerk begin volg.  Sou die behoudende kind van God dit waag om hierteen te waarsku, gaan daar ʼn koor van stemme op wat diesulkes beskuldig van ongevoeligheid en liefdeloosheid. 

 

God se woord waarsku teen hierdie toedrag van sake, want ons lees in Hos. 4:6 “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;...”  Die rede vir hierdie toestand lê daarin opgesluit dat die mens Jesus uit die kerk uit georganiseer het, want ons lees in Openb. 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop....”  As Jesus uit die kerk uit georganiseer is, sal die ware diensknegte ook nie langer geduld word nie.

 

Die vraag is net:  Watter eise stel u aan die kerk en sy boodskap?  Is dit in ooreenstemming met God se woord of is dit in ooreenstemming met die eis van ons dag?

 

MIGA, ‘N TIPE VAN DIE KIND VAN GOD WAT IN NOUE KONTAK MET GOD IS

 

Miga, die man van God.  Wanneer hy in ooreenstemming met die valse profete praat, merk selfs die goddelose dat daar fout is, want ons lees in 1Kon. 22:15,16 “Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom:  Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ons dit laat staan?  En hy antwoord hom:  Trek op, en u sal voorspoedig wees, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.”  (Vers 16) “En die koning sê vir hom:  Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die Here tot my moet spreek nie?”

 

Wanneer Miga God se woord bekend maak, spreek dit van daardie noue kontak met God en haal hy hom daardeur die gramskap van die valse profete op die hals.  Ons lees in 1Kon. 22:24 “Daarop kom Sedekía, die seun van Kenaäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê:  Hoe dan het die Gees van die Here van my af weggegaan om met jou te spreek?”

 

Wanneer Miga God se woord spreek, word dit ten spyte van die waarskuwing verwerp.  Dit het selfs vervolging tot gevolg, want ons lees in 1Kon. 22:27 “En jy moet sê: So spreek die koning:  Sit hierdie man in die gevangenis en spysig hom met brood van verdrukking en water van verdrukking totdat ek behoue tuiskom.”

 

Kind van God, jy het dalk die keuse in jou lewe gemaak om Jesus in waarheid te volg.  Jesus kom sê vir jou deur hierdie boodskap dat dit nie ʼn maklike pad sal wees nie.  Dit sal stryd, verdrukking en vervolging tot gevolg hê, maar aan die einde daarvan sal selfs die goddelose moet erken dat jou lewe en getuienis van die waarheid getuig het.

 

Luister wat God se woord vir ons sê volgens Eseg. 33:32-33 “En kyk, jy is vir hulle soos ʼn minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel:  hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.  Maar as dit kom – kyk, dit kom! – dan sal hulle weet dat daar ʼn profeet onder hulle gewees het.”

SAMEVATTING 

Ons het in hierdie gedeelte voorbeelde uit God se woord gesien waaraan ons ons lewens kan meet. 

GEVOLGTREKKING

God se woord het nie net aan Agab as waarskuwing uitgegaan nie, maar ook aan Josafat wat in kompromie met Agab was en Sedekia en die vierhonderd profete sodat hulle hul valsheid sou besef. 

TOEPASSING 

Waar staan u geestelik? 

Word u deur God se woord aangespreek? 

Dan wil ek by u pleit om nie teen God se waarskuwings te stry nie. As jou lewe en getuienis van ʼn wandel met God getuig, staan dan vas, vertrou op Hom want Sy einddoel vir jou lewe is ʼn ewige lewe in heerlikheid saam met Jesus.