Voel jy Daarna om Moed op te Gee?
(Vertaal)
‘n Toenemende aantal predikante het in die afgelope maande aan my geskryf om te vertel van hulle besorgdheid oor diegene in hulle gemeente wat net eenvoudig tou opgooi. Al hoe meer Christene in ons dag het breekpunt bereik. Niks van daardie sprake van opgee het iets met die Here te doen nie. Min Christene sal selfs waag om enige gedagte te koester om hulle liefde vir Jesus te laat vaar. Meeste radelose Christene dink net daaraan om oor hulself moed op te gee. Mens hoor teenswoordig so dikwels, “Ek kan nie meer aangaan nie. Dit is totaal en al hopeloos! Waarom nog probeer?”
Ek hoor teenswoordig hoe sommige predikante slegs positiewe boodskappe verkondig. Luister hoe verkondig hulle: elke Christen ervaar wonderwerke – almal se gebede word onmiddellik verhoor – almal voel goed, leef goed en die hele wêreld is vol gunstige vooruitsigte. Ek wens God se kinders al daardie wonderlike dinge toe, maar dit is net eenvoudig nie hoe dinge vir ‘n groot aantal eerlik en opregte Christene daar uitsien nie. Dit is werklik droewig om te moet aanhoor hoe sulke oppervlakkige teologie hedendaags vanaf kansels aan ons opgedring word. Dit is beledigend vir ‘n nederige Jesus wat arm geword het en wat in die oë van die wêreld as ‘n mislukking gesterf het. Dit is hierdie soort van materialistiese prekery wat ‘n hele geslag Christene so onvoorbereid gemaak het om enige vorm van pyn te verduur. Hulle het nie geleer om genoeë te neem met dít wat hulle het nie – om ootmoedig te wees en nie altyd volop te wil hê nie. Om God te dien word ‘n soort Olimpiese wedloop waarin almal na goue medaljes moet streef.
Geen wonder nie dat ons jongmense in neerlaag moedverloor nie. Hulle is nie in staat om die voorstelling na te leef wat geskep is deur die godsdiens van ‘n onbesorgde, ryk, suksesvolle, altyd positief-denkende Christen nie. Die wêreld waarin hulle leef is eenvoudig nie só idealisties nie. Die jeug kyk in ‘n spieël wat ‘n gesig weerkaats wat met lelike puisies bedek is. Hulle beleef hartseer, krisisse elke uur en aaklige familie probleme. Hulle staar bevrees en bekommerd ‘n onsekere toekoms in die gesig.
Positiewe denke sal nie hulle probleme laat verdwyn nie. Om te getuig dat hierdie probleme nie werklik bestaan nie, verander niks aan die saak nie. Die “verkondigers van die positiewe denke” behoort nie die Getsémané ervaring van die lewe uit te sluit nie. Die beker van smarte, die uur van versaking en die nag van verwarring het alles deel uitgemaak van die Meester se leefwyse. Ons groot prestasies en ons suksesse behoort plaas te vind by Getsémané, nie by ons versterkte vestings nie!
Die stof van die pad het vir menigeen die weg van goudstof geword. Die Bybel het ‘n katalogus geword, met onbeperkte oningevulde oop ruimtes vir die bestelling van snoepgoed. Enigiets wat met Job se soort pyn en lyding verband hou, word as negatief beskou. God is goed en ‘n mens behoort altyd jou gedagtes te rig op die goeie en eerlike tydings. Maar tog is pyn, armoede en lyding deur sommige van die vroomste van God se kinders wedervaar – net soos met die regverdige Job.
DIE HUWELIK
Wat sê mens aan ‘n eggenote wie se huislike lewe besig is om te verbrokkel en dit lyk of sy magteloos is om dit te keer? Sy is deur haar vriende van raad bedien, het berading van haar leraar ontvang en is oor en oor vermaan om te “bly op jou knieë en wag gelowig op ‘n wonderwerk van God.” Derhalwe vas en bid sy. Sy is geheel en al tegemoetkomend in die huwelik, tot selfs waar sy op haar knieë voor haar man kruip.
…wanneer dit lyk of alles begin uitmekaar val, roep ‘n stem van diep hier binne uit, “Loop weg van dit alles…Maak jou los! Ontvlug! Waarom vir lief neem daarmee? Hardloop weg…jy hoef dit nie te verduur nie. Doen iets drasties!”
Sy wend geloof aan na die uiterste beste van haar vermoë. Maar ten spyte van al haar eerlike pogings, neem haar man se hardheid en bitterheid toe en dring hy aan op egskeiding.
Alle huwelike word nie deur gebed of goeie bedoelings geheel nie. Altwee moet hul kant bring om ‘n huwelik te laat slaag en, alhoewel gebed die krag van die Heilig Gees kan laat neerdaal op ‘n maat wat afgedwaal het, is daardie maat in staat om al God se pogings te weerstaan en die oplossing op niks te laat uitloop nie.
Sommige wonder miskien waarom ek in die afgelope tyd soveel tyd bestee het om oor die huwelik, egskeiding en die huislike lewe te praat. Die rede is eenvoudig genoeg. Tydens my kruistogte praat ek met tallose kinders wat op die rand van selfmoord verkeer. Die oorweldigende meerderheid sê aan my dat hulle depressie voortspruit uit probleme by die huis. Hulle ouers ervaar probleme, of hulle het alreeds geskei.
‘n Menigte van eggenote en eggenotes het al die hoop laat vaar aangaande hulle huwelike. ‘n Suksesvolle huweliksberader het my onlangs vir middagete getrakteer en voordat die middelgereg bedien was, het hy bely dat sy eie huwelik wankelend is. “Jy kan net eenvoudig nie meer die sukses van enige huwelik as iets vanselfsprekend aanvaar nie” het hy gesê. “Ek is daarvan oortuig dat Satan vasberade is om my huwelik tot niet te maak – en ook elke goeie Christelike huwelik. Dit is ‘n goed beplande aanval op die beste van huwelike. As Satan daarin kan slaag om die sterkste, bewonderenswaardigste huwelike af te breek, sal die swakkeres in die versoeking gestel word om die stryd gewonne te gee.”
Die geheime worstelinge in die Christen se persoonlike lewe is net so haglik. Die innerlike stryd van die gemiddelde Christen teenswoordig is verpletterend in hewigheid en in afmetinge. ‘n Menigte is betrokke in omstandighede wat heeltemal te moeilik is om te begryp.
Paulus het gesê, “Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard” (11Kor. 5:4). Ek twyfel of ons in staat sal wees om die groot getalle Christene te kan tel wat innerlik sug vanweë die swaar laste wat hulle moet dra. Paulus het ook verwys na “…ons verdrukking wat oor ons…gekom het…dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het” (2Kor. 1:8).
Sou ‘n mens agter die front kon inkyk van elke vermaarde prediker en elke eerbiedwaardige persoonlikheid, sal ons oomblikke van diepgaande beswaardheid daar vind. Ons sal dieselfde swakhede in enige normale Christen vind. Ons belewe almal tye van wanhoop vergesel van gevoelens van mislukking. Ons het al almal by tye gedagtes gekoester van tou opgooi. Ons het almal daaraan gedink om moed op te gee.
TWYFEL
Waarom voel ons soms om moed op te gee? Hoofsaaklik omdat ons optree asof God die wêreld in die steek gelaat het. Ons twyfel nie aan Sy bestaan of aan die werklikheid van God nie. Maar ons gebede blyk onbeantwoord te wees. Ons roep Hom met soveel radeloosheid aan vir hulp, maar dit kom voor asof Hy nie hoor nie. Ons ploeter maar voort en maak gedurig foute. Ons belowe onsself om beter te vaar; ons ondersoek die Bybel; ons huil en bid; en hou nie op om besig te wees om ander te help en om goed te doen nie. Maar so dikwels laat dit ons met ‘n leë, onbevredigde gevoel. Die beloftes van God kwel ons. Ons hou vas aan daardie beloftes – met wat ons glo is eerlike, kinderlike geloof – maar keer op keer ontvang ons nie wat ons vra nie. In die uur van versoeking misluk ons maar weer!
Twyfel sluip in en Satan fluister, “Niks werk nie. Geloof in God bewerkstellig geen uitkoms nie. Ten spyte van jou trane, gebede en vertroue op God se Woord – verander niks eintlik nie. Dae, weke en selfs jare gaan verby en jou gebede asook dit wat jy hoop en droom, bly onbeantwoord en onvervul. Laat vaar dit! Gee op!”
Elke Christen op hierdie planeet bereik een of ander tyd in die lewe daardie kritieke stadium. En in daardie oomblikke, wanneer dit lyk asof die mure intuimel en dit wil voorkom asof die dak inmekaar gaan stort, wanneer alles oënskynlik uitmekaar wil val, roep ‘n stem van diep hier binne uit, “Loop weg van dit alles…Maak jou los! Ontvlug! Waarom vir lief neem daarmee? Hardloop weg…jy hoef dit nie te verduur nie. Doen iets drasties!”
Dawid, oorstelp deur die onheil in sy hart, roep tot God, “Ontwaak! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Verstoot nie vir ewig nie! Waarom verberg U u aangesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking?” (Psalms 44:24-25). Christen, verbaas dit jou dat die beroemde manne van die ou dae dieselfde stryd moes trotseer wat vir jou en my in die gesig staar? Die Bybel sê, “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.” (1Petrus 4:12-13).
Hoe kan ons leer om ons greep op die lewe te behou en een dag op ‘n slag te lewe? Jy kan begin deur te vergeet van alle kortpaaie en towermiddels. Dit is nie vir die Christen nodig dat ‘n veronderstelde demoon van wanhoop uitgedryf hoef te word, so asof die demoon se weggaan die lewe makliker sal maak nie. Nog minder sal God neerdaal en ons lewe vir ons kom behartig. Die versoeker sal nie vernietig word voordat daardie dag aanbreek dat God hom in die verdoemenis werp nie. Intussen sal Satan altyd hier wees met misleiding, beskuldigings en sal hy poog om elke gelowige sy geloof te ontneem.
Hoe langer ek vir Christus lewe, hoe moeiliker vind ek dit persoonlik om maklike wondermiddel-oplossings te aanvaar. Maar in die stryd wat ek voer, het ek wel veel troos en bystand gevind in twee wonderlike absoluuthede.
Die eerste absoluutheid is: God het my waarlik lief. Dit is nie in God se aard om Sy kinders te verdoem nie – al is hulle mislukkings. Hy hunker na ons soos ‘n liefdevolle vader en begeer om ons uit te lig uit ons swakhede.
Ek het onlangs ‘n vlugtige blik van God se liefde gekry terwyl ek in die woud om ons veeplaas gewandel het. Skielik het daar op die grond ‘n endjie voor my ‘n mank voëltjie neergeplof. Ek het gebuk om dit op te tel. Op daardie oomblik het ‘n bekende deel van die Skrif by my opgekom. “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.” (Matt.10:29).
God is met ons, selfs wanneer ons val. Hy laat ons nie in die steek op ons pad ondertoe nie. Onse Here sal nooit enigeen van ons versaak nie!
Het jy ook gestruikel? Het daardie mank voëltjie ook op jou betrekking, hulpeloos spartelend in die stof? Dink jy ooit aan jouself as “Hoe kan God iemand soos ek verduur? Hoe kan Hy my nog liefhê nadat ek hom so skreiend in die steek gelaat het?”
Dikwels kan ons Sy wonderbare liefde eers gewaar wanneer ons die laagste punt bereik het. Moenie in angs verval nie. Uitredding sal kom. God verhoor ons deur Sy liefde te toon. En wanneer ons geleer het hoe swak ons eintlik is en geleer het om Sy liefde en vergifnis te vertrou – sal Hy neerbuig en ons sagkens in die nes terug plaas.
Die tweede absoluutheid is: Dit is my geloof wat Hom die meeste behaag! “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Heb. 11:6). God wil baie graag vertrou word. Daardie vertroue word deur Hom as geregtigheid gereken (Rom. 4:3) “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken”.
Wat doen ek wanneer versoeking soos ‘n vloedgolf oor my spoel? Wanneer my ontoereikendheid my oorweldig en ek die werklikheid van my swakhede insien? Moet ek opgee? Tou opgooi? Nooit!! Ek bring die enigste ding wat daar vir my oor is voor God – my geloof in Hom! Ek sal miskien nie verstaan waarom Hy oënskynlik so ‘n lang tyd neem om in te gryp nie, maar ek weet dat Hy sal. Hy sal Sy woord aan my gestand doen. Ek is daarvan oortuig dat Satan my van net een ding wil beroof – my geloof. Hy wil my nie eintlik van my sedelike gedrag of my verwagtinge ontneem nie. Hy wil my geloof vernietig en my laat glo dat God hierdie wêreld versaak het.
Om te struikel is nooit noodlottig vir diegene wat hulle geloof ongeskonde behou nie. Ten spyte van vertwyfeling en moeilikhede wat die verstand laat vassteek en die kragte ondermyn, behou ek my geloof in God. Ek glo in Hom “wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24). U
Bekering in Breë Trekke
Deur Charles G. Finney
(Vertaal)
Hierdie artikel is vir Christene wat probleme ondervind om die ware vrede te vind wat by bekering beloof word.
Vir diegene wat gefrustreerd is omdat hulle gedurig met swakheid en sonde worstel, kan hierdie waarskynlik presies die hulpmiddel
wees waarvoor hulle gebid het. Charles Finney het duisende der duisende bekerings waargeneem –
en almal voor die bestaan van radio, TV of die massaproduksie van publikasies. Ons dank God vir die voortgesette salwing
en aanwending van sy werke. Baie duisende is al deur hierdie artikel gehelp om na God se kosbare vergifnis deur te breek.
Hou een ding in gedagte terwyl jy hier lees – God het jou baie lief en wag dat jy volkome gereinig word volgens Sy genade deur bekering.
“…braak vir julle ’n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.” (Hosea 10:12).
Die Jode was ‘n volk van landbouers en dit is derhalwe verstaanbaar dat God in die Skrif as toeligting verwys na tonele uit hulle daaglikse lewens. Hosea spreek hulle aan as ‘n nasie van afvalliges, maar gebruik woorde waarmee landbouers en herders vertroud is. Hy berispe hulle oor hul afgodediens en waarsku hulle deurdringend van die naderende oordele van God.
‘n Braakland is grond wat tevore gebraak (omgeploeg) was maar wat hard geword het en nou onbewerk lê. Dit benodig om gebraak en weer fyngemaak te word voordat dit gereed sal wees om saad te ontvang. As jy wil hê dat die braakland van jou hart gebraak moet word, moet jy begin deur na jou hart te kyk – ondersoek noukeurig jou gemoedstoestand en kyk waar jy staan. Baie mense dink oënskynlik nooit daaraan om dit te doen nie. Hulle skenk geen aandag aan hulle eie harte nie en weet nooit of hulle goed vaar in hulle wandel met die Here of nie – of hulle vrug dra of heeltemal onvrugbaar is. Jy moet nou jou aandag afneem van alle ander dinge en op die daad hieroor ondersoek instel! Maak hiervan ‘n onderneming, moenie haastig wees nie.
Selfondersoek bestaan daaruit om na jou lewe te kyk, jou beweegredes en handelinge te oordink … jou verlede in oënskou te neem en die ware aard daarvan raak te sien. Kyk terug na die lewensverhaal van jou verlede. Neem jou afsonderlike sondes een vir een ter hand en bekyk hulle. Dit beteken nie dat jy maar net ‘n terloopse blik werp oor jou lewe van die verlede en sien dat dit vol sonde was, net om dan na God te gaan en ‘n soort belydenis so in die algemeen te maak en om vergifnis te vra nie. Algemene belydenisse van sonde is heeltemal onvoldoende. Jou sondes was een vir een gepleeg; en, in soverre dit vir jou moontlik is, behoort hulle een vir een na teruggekyk en oor berou gekry te word. Dit is ‘n goeie gedagte om pen en papier te gebruik en hulle neer te skryf soos wat jy hulle in herinnering roep. Gaan hulle sorgvuldig na soos ‘n sakeman sy boeke nagaan; en skryf hulle neer so dikwels as wat ‘n sonde uit die verlede in jou gedagte opkom! Begin nou en spring sommer weg met wat gewoonlik, maar ten onregte, na verwys word as sondes van versuim (d.i., dinge wat jy behoort te gedoen het maar nagelaat het om te doen!).
Ondankbaarheid. Neem hierdie sonde byvoorbeeld en skryf neer onder hierdie opskrif al die kere waarvan jy kan onthou wat jy baie seëninge en gunste van God ontvang het waarvoor jy nooit jou dank betuig het nie. Hoeveel sulke gevalle kan jy onthou? Een of ander wonderbaarlike bewaring waar jou lewe gespaar was, een of ander wending in gebeure wat jou van ondergang gered het. Skryf neer die voorbeelde van God se goedheid teenoor jou terwyl jy nog in sonde geleef het, voor jou bekering, waarvoor jy nog nooit eens halfpad genoeg dankbaar was nie – en die ontelbare weldade wat jy sedertdien ontvang het. Hoe lank is die lys van die tye waar jou ondankbaarheid so verskriklik was dat jy gedwing word om jou kop in skaamte te laat hang! Gaan op jou knieë en bely hulle een vir een voor God en vra Hom om jou te vergewe.
Terwyl jy hierdie dinge bely, sal hulle jou onmiddellik herinner aan ander … skryf hulle ook neer. Gaan hulle op hierdie wyse drie of vier keer na en word bewus van wat ‘n ongelooflike aantal kere God aan jou genadig was waarvoor jy Hom nog nooit gedank het nie!
Gebrek aan Liefde vir God. Dink net hoe bedroef en ontsteld jý sou wees as jy skielik bewus word van ‘n groot gebrek aan liefde vir jou van die kant van jou eggenote, eggenoot of kinders – as jy gewaar dat iemand anders hulle harte, gedagtes en tyd in beslag neem. Miskien sal jy in so ‘n geval byna wil sterf van ‘n geregverdigde en heilige jaloersheid. Onthou dan, God noem Homself ‘n jaloerse God. Het jy nie jou hart aan ander liefdes oorgegee en Hom oneindig aanstoot gegee nie?
Verwaarlosing van die Bybel. Skryf die gevalle neer waar miskien vir ‘n week of langer God se Woord jou nie behaag het nie. Sommige mense lees inderdaad hele hoofstukke op so ‘n wyse dat hulle agterna jou nie kan vertel wat hulle gelees het nie. As dit met jou die geval is, is dit geen wonder dat jou lewe rigtingloos is en jou verhouding met God in so ‘n beroerde toestand verkeer nie.
Ongeloof. Dink terug aan die kere wat jy die God van waarheid so goed as beskuldig het dat Hy lieg, deur jou ongeloof in Sy uitdruklike beloftes en verklarings. As jy die seëninge wat God so duidelik beloof het nie geglo het of verwag het om dit te ontvang nie, het jy Hom tot leuenaar gemaak.
Karige Gebedslewe. Dink aan al die kere wat jy binnekamer-gebede, huisgodsdiens en gebedsbyeenkomste verwaarloos het; of waar jy op so ‘n wyse gebid het dat jy God meer bedroef en aanstoot gegee het as wat jy sou as jy gladnie gebid het nie.
Verwaarlosing van Kerkbywoning. Tye wat jy jouself toegelaat het om nietige en dwase verskonings te maak oor wat jou verhoed om byeenkomste by te woon. Wanneer jy van die samekomste van die heiliges wegbly en dit met veragting behandel net omdat jy “nie van kerkbywoning hou nie”!
Die Wyse Waarop Jy Geestelike Pligte Uitgevoer Het. Dink aan al die kere wat jy oor God gepraat het met so ‘n gebrek aan innigheid en geloof, in so ‘n gemoedstemming, dat jou woorde niks meer was as loutere gebabbel van ‘n arme drommel wat nie verdien het dat God hoegenaamd na hom sou luister nie. Toe jy op jou knieë neergeval en “jou gebede opgesê het” in so ‘n gevoellose en onverskillige wyse dat, sou jy vyf minute later onder eed geplaas gewees het, jy nie sou kon sê waaroor jou gebede gegaan het nie.
Gebrek aan Liefde vir Siele. Kyk om jou na al jou vriende en familielede en bedink hoe min deernis jy teenoor hulle gevoel het. Jy het bygestaan en gesien dat hulle reguit hel toe gaan en dit wil voorkom asof jy nie eens omgegee het nie! Hoeveel dae het verbygegaan wat jy nagelaat het om hulle ellendige toestand die onderwerp van selfs ‘n enkele innige gebed te maak, of enige ware begeerte vir hulle redding te bewys?
Gebrek aan Versorging van die Armes en Verlorenes in die Buiteland. Miskien het jy nie genoeg vir hulle omgegee om selfs te poog om van hulle toestand te verneem nie. Vermy jy sendingtydskrifte? Hoeveel gee jy regtig om vir, of weet jy aangaande die ongeredde massas van die wêreld? Meet jou begeerte vir hulle redding aan die onselfsugtigheid wat jy beoefen deur te gee van jou vermoë sodat aan hulle die Evangelie gestuur kan word. Ontsê jy jouself selfs die skadelike gruwele van die lewe, soos tabak of alkohol? Verdedig jy jou lewenstandaard? Sal jy nie enige ongerief ly om hulle te red nie? Bid jy daagliks vir hulle in jou binnekamer? Sit jy geld opsy om in die Here se skatkis te plaas wanneer jy opgaan om te aanbid? (Soos in die verhaal van die aalmoes van die arm weduwee in Markus 12:41-44.) As jy in jou siel nie kwel oor die armes en verlorenes van hierdie wêreld nie, waarom dan is jy so ‘n huigelaar om voor te gee dat jy ‘n Christen is? (Kyk Matt. 25:31-46.)
Versuim aangaande Familie Verpligtinge. Dink aan hoe jy voor jou gesin opgetree het, hoe jy gebid het, watter voorbeeld jy vir hulle gestel het. Watter regstreekse pogings wend jy gereeld aan vir hulle geestelike welstand?
Gebrek aan Waaksaamheid Oor Jou Getuienis. Hoeveel keer het jy in gebreke gebly om jou woorde en handelinge ernstig op te neem? Hoe dikwels het jy geheel en al versuim om waaksaam te wees oor jou optrede en taalgebruik en, omdat jy nie op jou hoede was nie, jy gesondig het voor die wêreld, die kerk en voor God!
Versuim om Oor Jou Broeders Wag te Hou. Hoe dikwels het jy jou plig versuim om oor hulle die wag te hou in die Here? Hoe min weet jy van, of gee jy om vir, die toestand van hulle siele? En tog is dit jou dure plig om oor hulle wag te hou. Wat het jy gedoen om hulle beter te leer ken? Hoe dikwels het jy gesien dat hulle sonde pleeg en jy het hulle maar laat begaan? En jy gee voor dat jy hulle liefhet? Sal jy toekyk hoe jou vrou of kind in die skande kom, of in die vuur beland – en nog stilbly?
Gebrek aan Selfverloëning. Daar is baie belydende Christene wat gewillig is om amper enigiets godsdienstig te doen so lank dit nie selfverloëning verg nie. Hulle dink dat hulle heelwat vir God doen asook net so veel doen as wat Hy redelikerwys behoort te vra, maar hulle is nie bereid on hulself hoegenaamd enige behaaglikheid of gerief te ontsê ter wille daarvan om die Here te dien nie.
Hulle sal nie gewilliglik verwyte verduur vir die Naam van Christus nie. Nog minder sal hulle hulself die luukshede van die lewe ontsê om die wêreld van die hel te red nie. Hulle is so ver verwyder van ‘n besef dat selfverloëning ‘n voorwaarde vir dissipelskap is, dat hulle nie eens weet wat dit is nie! Hulle het nog nooit werklik hulself so min as ‘n flentertjie ontsê ter wille van Christus en die Evangelie nie. Sommige gee uit hulle oorvloed en gee baie – en sal selfs kla dat ander nie méér gee nie – terwyl hulle in alle waarheid niks gee wat hulle nodig het nie, of enigiets gee wat hulle sal geniet as hulle dit gehou het nie. Hulle gee slegs van hulle oortollige rykdom!
Nou wend ons ons na sondes van ingebruikneming …
Liefde vir Goed en Besittings. Wat is die gesindheid van jou hart aangaande jou aardse besittings? Beskou jy jou besittings as heeltemal jou eie – asof jy die reg het om dit te gebruik of daaroor te beskik as jou eie? As dit so is, skryf dit neer! As jy eiendom liefgehad en dit nagejaag het net ter wille van die besit daarvan of om jou eersug te bevredig, het jy gesondig en moet jy jou bekeer.
Ydelheid. Hoeveel keer het jy meer tyd daaraan bestee om jou liggaam op te smuk om na die kerk te gaan as wat jy gebruik het om jou hart en verstand voor te berei vir die aanbidding van God? Jy het meer omgegee vir hoe jy uiterlik vir mense voorkom dan oor hoe jou siel voor God daar uitsien. Jy het daarna gestreef om die erediens in Gods huis te verdeel, om die aandag van God se kinders af te trek deur na jou pragtige voorkoms te kyk. Dan gee jy nog voor dat jy niks omgee of mense na jou kyk of nie? Wees eerlik daaromtrent! Sou jy al daardie moeite met jou voorkoms gedoen het as al die mense blind was?
Afguns. Kyk na die gevalle waar jy jaloers was op diegene wat ‘n hoër posisie as jy beklee het. Of miskien was jy afgunstig op hulle wat meer talentvol of meer bruikbaar as jy self was. Was jy nie ietwat jaloers en was dit nie vir jou pynlik om te hoor hoe ander geprys word nie? Dit het jou meer behaag om oor ander se gebreke uit te wei dan oor hulle deugde…oor hulle mislukkings eerder as oor hulle suksesse. Wees eerlik met jouself en as jy hierdie gees van die hel gekoester het, moet jy jou inniglik voor God bekeer.
Verbittering. Dink terug aan al die gevalle waar jy ‘n wrok of ‘n gees van verbittering gehad het teenoor iemand, of waar jy jou oor Christene uitgespreek het op ‘n wyse heeltemal ontbloot van welwillendheid en liefde. Die liefde “hoop alles, verdra alles”, maar jy het nie die voordeel van die twyfel gegee nie en net die slegste vermoed.
Laster (skinderpraatjies). Dink aan al die kere wat jy onnodig en sonder oorsaak agter mense se rug gepraat het oor hulle egte of veronderstelde gebreke. Dit is lasterlik. Jy hoef nie te lieg om aan laster skuldig te wees nie – om wat waar is oor te vertel met die oogmerk om te kwets, is om te laster.
Ligsinnigheid (‘n Gesteldheid van oordadige grappigheid). Hoe dikwels het jy voor God gek geskeer op ‘n wyse wat jy nie sou gewaag het in teenwoordigheid van ‘n aardse hoogwaardigheidsbekleder of ‘n belangrike amptenaar nie. Jy was òf ‘n godloënaar en het vergeet dat God bestaan, òf jy het minder eerbied vir Hom en Sy teenwoordigheid gehad as wat jy vir ‘n blote aardse beoordelaar het.
Liegery. Verstaan tog wat dit beteken om te lieg. Enige vorm van opsetlike misleiding is om leuens oor te dra. As jy beoog om ‘n indruk te maak wat van die naakte waarheid afwyk, dan lieg jy. Skryf neer al daardie gevalle wat jy kan onthou. Moenie aan hulle enige soetsappige naampies gee nie. God noem hulle leuens en beskuldig jou van liegery, daarom beter jy jouself reg beoordeel! Dink aan al jou woorde, gelaatsuitdrukkings en optredes wat om selfsugtige redes bedoel was om op ander ‘n indruk te maak en wat in stryd was met die waarheid.
Kullery. Maak ‘n aantekening van al die gevalle waar jy met iemand anders gehandel het op ‘n wyse wat jy self gladnie van sou gehou het nie. Dit is kullery. God het gesê dat ons behoort alle mense te behandel soos wat ons graag behandel wil word (Matt. 7:12).
Dit is die voorskrif. As jy dit nie nagekom het nie, is jy ‘n bedrieër! God het nie gesê dat jy behoort te doen wat jy van ander sou verwag om te doen nie, want as dit die voorskrif was, sou dit allerhande soort goddeloosheid in ons optredes toegelaat het. Maar die voorskrif lui, doen wat jy wil hê dat hulle aan jou moet doen! (Het jy die regering gekul? Was daar enige werkloosheidversekering, belasting, welsynstoelae, beurslening, ens., deur bedrog bekom?)
Skynheiligheid. Aangaande jou gebede en belydenisse teenoor God skryf byvoorbeeld neer al die kere wat jy vir dinge gebid het wat jy nie werklik wou hê nie. Hoeveel kere het jy sondes bely wat jy nooit bedoel het om mee op te hou nie? Ja, jy het sondes bely terwyl jy in jou hart geweet het dat jy net so min verwag het om hulle nie te herhaal nie as wat jy wel verwag het om te bly lewe!
Om God te Beroof. Dink na aan al die gevalle waar jy geheel en al jou tyd verkeerd bestee het, die ure verkwis het wat God jou gegee het om Hom te dien en siele te red. Kosbare tyd verkwis op ydel vermaak of nikswerd gesprekke; met die lees van wêreldlike storieboeke; of selfs deur ledig te wees; gevalle waar jy jou talente en vermoë om te dink misbruik het. Dink aan hoe jy God se geld verkwis het op jou welluste, of bestee het op dinge wat jy nie werklik nodig gehad het nie, wat nie bevorderlik was vir jou gesondheid, geriewe of bruikbaarheid nie. Dink aan ‘n belydende gelowige wat God se geld misbruik om homself te vergiftig met tabak of bedwelmende drank!
Slegte Humeur. Miskien het jy jou vrou mishandel, of jou kinders, of jou familie, of werknemers, of jou bure. Skryf dit alles neer!
Om Ander Te Verhinder Om Bruikbaar Te Wees. Jy het nie net vir God beroof aangaande jou eie talente nie, maar ook iemand anders aan bande gelê. Wat ‘n goddelose dienskneg is hy wat nie net self nutteloos is nie, maar boonop vir ander ‘n belemmering is! Dit word soms bewerkstellig deur hulle tyd onnodig in beslag te neem. Sodoende het jy Satan se planne bevorder en nie jouself maar net as ‘n ledige leeglêer bewys nie, maar jy het ook ander daarvan weerhou om te werk.
Afgode en Ander Godsdienste. (Terwyl ek my sondes gesit en neerskryf het, het ek tot die besef gekom dat daar baie kategorieë van sondes is wat vandag baie algemeen voorkom, wat in Finney se tyd nooit eers in die kerk te berde gebring sou word nie. Party hiervan sluit in ontug en seksuele sondes, die hele gebied van ‘n bedrieglike kalmte wat opgewek word deur dwelms en betrokkenheid by okkultisme – insluitende astrologie, toordery, meditasie, Joga en alle denkbare Oosterse godsdienste en lewensbeskouings, ens.)
Enkele Belangrike Riglyne Om na te Volg
As jy vind dat jy teen iemand gefouteer het en daardie persone is binne bereik, gaan en bely dit onmiddellik en ruim dit uit die weg. As jy té ver weg is om hulle te gaan sien, gaan sit en skryf vir hulle ‘n brief (of nog beter, bel hulle), en bely teenoor hulle die onreg wat jy hulle aangedoen het. As jy enigeen met geld bedrieg het, stuur die geld terug – die volle bedrag, met rente.
Terwyl jy die lys van jou sondes nagaan, maak seker dat jy ‘n besluit neem om onmiddellik en algeheel te hervorm. Oral waar jy enigiets verkeerds vind, verbind jouself dadelik, in die krag wat God gee, om nie meer op daardie wyse te sondig nie. Om jouself te ondersoek sal geen voordeel inhou as jy jou nie voorneem om in elke opsig alles te verander wat jy in jou hart, denkwyse of gedrag verkeerd vind nie.
Gaan hierin deeglik te werk! Doen dit nou! Moenie uitstel nie – dit sal sake net vererger. Bely voor God daardie sondes wat teen God begaan is; en bely aan mense daardie sondes wat teen hulle begaan is. Moenie daaraan dink om maklik daarvan af te kom deur struikelblokke te vermy nie. Pak hulle aan en ruim hulle uit die weg. Om jou braakland te kan braak is dit nodig om elke hinderpaal te verwyder. Daar mag dingetjies agterweë bly wat jy as kleinighede beskou en dan sal jy miskien wonder waarom jy nie God se vrede in jou hart ervaar nie. Die rede daarvoor is dat jy met jou trotse en vleeslike verstand iets probeer verberg het wat God juis wil hê jy moet bely en van ontslae raak.
Tensy jy jou sondes op hierdie wyse in oënskou neem en hulle een vir een tot in die kleinste besonderheid oordink, kan jy geen idee vorm van die hoeveelheid daarvan of hoe gewigtig hulle is nie. Jy behoort die lys so deeglik, so sorgvuldig en so plegtig na te gaan asof jy jouself vir die Oordeel voorberei! (1 Kor. 11:31). U
(Vertaal)
“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God” (1Kor. 10:31).
“En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom…En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol. 3:17,23).
“Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here” (Rom. 14:7-8).
Hierdie teksverse openbaar wat die ware aard van toewyding aan God werklik is. met die bespreking van hierdie onderwerp, is ek voornemens om aan te toon:
Wat ware toewyding aan God nie is nie.
Wat ware toewyding aan God is.
Dat toewyding, en niks minder as toewyding nie, ware Christelikheid is.
Etlike vergissings wat algemeen oor hierdie onderwerp begaan word.
I. Wat Ware Toewyding Aan God Nie Is Nie.
Toewyding bestaan nie uit die lees van die Bybel nie, ook nie om te bid nie, ook nie om byeenkomste by te woon nie. Hierdie dinge kan miskien spesifieke voorbeelde van toewyding wees, maar moet nie as toewyding sigself beskou word nie.
Toewyding bestaan nie uit ‘n toevertrouing van ons lewens aan God in ons binnekamer of in die openbaar nie. Hierdie moet beskou word as besondere handelinge – plegtige beloftes van toewyding – maar nie as toewyding sigself nie.
Toewyding bestaan nie uit afsonderlike handelinge of uit enige soort uitoefening nie. Hierdie kan miskien inderdaad godsdienstige handelinge, dit is, “vroom optredes” wees, maar laat ons net onthou dat geen handeling of uitoefening op sigself geld as toewyding nie.
II. Wat Ware Toewyding Aan God Is
Toewyding is daardie innerlike gesteldheid waarin alles – ons hele bestaan, ons lewe en besittings – voortdurende offergawes aan God is, dit is, hulle is voortdurend aan God oorgegee. Ware toewyding moet die opperste toewyding van die wil wees, wat uitbrei tot alles wat ons is en het – te alle tye, plekke, werke, gedagtes en gevoelens.
Laat jou eie sieninge oor wat ‘n predikant behoort te wees my bedoeling verduidelik. Jy glo heel waarskynlik dat ‘n predikant, in sy verkondiging van die Evangelie, slegs een doel voor oë moet hê – naamlik om God te verheerlik met die verlossing (en later die heiligmaking) van sondaars. Aangesien hy daarop aanspraak maak om ‘n dienskneg van God te wees, voel mens dat hy behoort te studeer, preek en al sy herderlike pligte uit te voer, nie vir homself nie, nie vir sy besoldiging nie, nie om sy gewildheid te laat toeneem nie, maar enkel en alleen om God te verheerlik. Nou kan jy duidelik insien dat as hy nie hierdie een doel voor oë het nie, kan sy dienste nie vir God aanneemlik wees nie. Want dit is nie ‘n offergawe aan God nie, dit is nie ‘n toewyding aan God nie – maar ‘n toewyding aan homself.
Derhalwe is toewyding in ‘n predikant ‘n geestesgesteldheid waarin al sy pastorale pligte uitgevoer moet word tot verheerliking van God en waar sy hele lewe ‘n voortdurende offerande aan God moet wees.
Verder, jy kan aanvoel dat ‘n leraar aan God net so toegewy behoort te wees in elke ander opsig as wat hy in sy gebede of verkondiging van die Woord is – en hierin het jy gelyk! Want nie net behoort dit die geval te wees nie, maar hy is eintlik maar net so toegewy op die preekstoel as wat hy weg daarvan is. As hy gedurende die week deur selfsugtige en wêreldlike motiewe beïnvloed word, dan is hierdie selfde motiewe tog sekerlik op die Sabbat in sy gemoed. As sy gedagtes gedurende die week op sy eie belange gesentreer is, in ‘n strewe om sy eie belange te bevorder, kan jy daarvan seker wees dat dit op die Sabbatdag nie anders sal wees nie.
Jy sal in alle waarskynlikheid ook voel dat as ‘n leraar se toewyding maar net ‘n uiterlike klugspel is – dat hy preek, bid, besoek aflê en al sy pligte uitvoer hoofsaaklik met die doel om sy huisgesin te onderhou, of om eer te ontvang en aandag op homself te vestig – dat hy ‘n goddelose man is en onafwendbaar aan sy siel skade gaan ly, tensy hy tot bekering kom.
As hierdie jou sienswyses oor die onderwerp is, dan is hulle ongetwyfeld korrek. Dit is hier, waar jy geen persoonlike belang daarby het nie, dat jy ‘n regte oordeel maak en tot die regte gevolgtrekking kom aangaande die karakter en bestemming van so ‘n man. Onthou net, in jóú toewyding geld niks minder as hierdie maatstaf nie! Hou in gedagte dat geen bepaalde handelinge of ywer of vlaag van emosies – of enige voorneme om te verander, of beloftes van in die toekoms gehoorsaam te wees – as toewyding geld nie.
Want toewyding is daardie gesteldheid van die wil waarin die bewussyn in God verswelg is as die voorwerp van die verstand se opperste liefde – waarin ons nie slegs lewe en beweeg in God nie, maar vir God. Met ander woorde, toewyding is daardie geestestoestand waarin die aandag afgelei is van die self en van selfsug en gerig is op God – die gedagtes, bedoelinge, begeertes, liefdes en emosies almal afhanklik van en toegewy aan Hom.
III. Toewyding – En Niks Minder As Toewyding Nie – Is Ware Christelikheid.
Toewyding en ware godsdiens is identies.
Dit is onmoontlik vir ons om nie aan die Voorwerp van ons opperste liefde toegewy te wees nie. As ons God uiters liefhet, sal Hy die rede wees waarvoor ons lewe. As ‘n persoon God uiters liefhet, sal hy van sy liefde vir God net so bewus wees as wat hy is dat hy hoegenaamd lewe!
Vir God kan niks minder as dit aanvaarbaar wees nie. As toewyding nie ‘n gewoonte of ‘n geestestoestand is nie, as die hele wese nie ‘n offerande aan God is nie, beteken dit God moet ‘n mededinger in ons harte hê. Dit sal Hy nie duld nie. En om te poog om Hom tevrede te stel met hier en daar ‘n daad van toewyding (wanneer dit nie die gewoonte en ons geestesgesteldheid is nie), is meer afskuwelik as vir ‘n vrou om te poog om haar man tevrede te stel met ‘n glimlag so af en toe, terwyl sy slegs daarvoor lewe om ‘n ander man tevrede te stel en sý liefde te verkry.
‘n Afwyking van die regte gesindheid is geloofsversaking. Wat ook al ‘n mens se gedrag oënskynlik mag wees, die oomblik dat hy wegdraai van opregte toewyding aan God – van ‘n opperste wyding van sy hele wese vir diens aan God – het hy in sy gemoed van ware Christelikheid afstand gedoen. Hy staan nie meer in diens van God nie, maar lewer diens aan die voorwerp waarop hy sy hart gerig het; en dít is dan die voorwerp van sy toewyding – met ander woorde, dít is sy god.
IV. Etlike Vergissings Wat Gewoonlik Aangaande Hierdie Onderwerp Gemaak Word.
Menigeen dink dat daar ‘n wesenlike verskil tussen “godsdienstige” en ander soort pligte is – asof ‘n mens sy “pligte kan uitvoer” in dit wat nie toewyding aan God is nie. Die pligte van toewyding word oor die algemeen veronderstel om bid en Skriflesing te wees, saam met sang en gebede in die gemeenskap van God se Huis. Op die Sabbatdag meen mense dat hulle godsdienstig is, terwyl op weeksdae (behalwe vir daardie enkele handelinge waarna hulle verwys as hulle “godsdiensoefening”) hulle net hulself dien en uiters toegewy is aan hulle eie belange.
Maar al sulke gedagtes spruit voort uit ‘n algehele afwesigheid van opregte toewyding; en diegene wat sulke sienswyses het, verstaan nog nie wat ware Christelikheid is nie. Niks is “’n plig” as dit vir God uitgevoer word nie. ‘n Man wat waarlik godsdienstig is, is net so toegewyd in sy daaglikse beroep as wat hy op die Sabbatdag is. Die noodsaaklike pligte van die wêreld word deur hom met dieselfde geesdrif en doelgerigtheid uitgevoer as sy gebede, sy lees van die Bybel en die erediens bywoning op die Sabbatdag. As dit nie die geval is nie, is sy godsdiens nie eg nie.
Daar is wel sommige mense wat waarlik vir God lewe en klaarblyklik in ‘n vroom geestesgesteldheid verkeer, wat blykbaar nie besef nie dat elke daad aan God gewy, so aanneemlik vir Hom is as gebed en lofprysing. As hulle deur noodsaaklike verantwoordelikhede daarvan weerhou word om baie tyd te bestee aan gebed of die bywoning van ‘n lot byeenkomste, sal Satan hul onkunde benut en hulle hul vryheid ontneem. Hy sal hulle probeer wysmaak dat hulle hul plig teenoor God versuim deur aan ander dinge aandag te skenk.
Nou moet jy wat aan God toegewy is verstaan dat, sou Sy Voorsienigheid jou beperk tot die huis om die sieke te verpleeg, of jou verhinder om daardie ure van gebed in die binnekamer na te kom soos jou gewoonte is, moet jy nie daardeur in gebondenheid of onder veroordeling kom nie – as jy daarvan bewus is dat hierdie ander pligte vir die Here uitgevoer word.
Andere meen dat toewyding opreg kan wees, maar nietemin beperk is tot sekere pligte. Met ander woorde, dat ‘n mens opreg kan bid en met die regte motiewe, en nog steeds wêreldsgesind in besigheidstransaksies kan optree. Nou as daaroor ‘n bietjie nagedink word sal enige eerlike denker oortuig wees dat dit natuurlik onmoontlik is. Toewyding aan God kannie meer opreg wees as wat dit selfsug uitwis nie. Toewyding en selfsug is ewigdurende teenoorgesteldes.
Menigeen verwar die godsdiens van emosie met dié van die wil. Jy kan dit in hulle lewens sien – hulle ween en dit lyk of hulle verteder en ineenstort. Hulle belowe om te verander en is bereid tot ‘n algehele wyding aan God. Maar probeer net die volgende dag om met hulle besigheid te doen en jy sal vind hulle is uiters selfsugtig – hulle is hoegenaamd nie aan God toegewy nie, maar wel aan hulle eie belange. Hulle staan altyd gereed om van iemand misbruik te maak, selfs van broeders, om hulself te bevoordeel. Nou dit blyk duidelik in hierdie geval dat hulle vertedering en ineenstorting bloot ‘n vlaag van hulle emosies was – nie ‘n wil wat aan God oorgegee en toegewy is nie.
‘n Paar Nuttige Opmerkings
‘n Gees van toewyding sal die mees ononderbroke sorge en die dringendste take verander in die grondigste en mees ononderbroke gemeenskap met God. Hoe dringender en vermoeiender ons pligte – as hulle vir God uitgevoer word – hoe grondiger en meer voortdurend ons omgang met Hom. Wat ook al in ‘n gees van toewyding gedoen word is gemeenskap met God.
Hulle wat nie omgang met God in hulle gewone werk hou nie, is nie Christene nie. As jy nie bewustelike gemeenskap met God in jou daaglikse besigheid hou nie, is dit omdat jou besigheid nie uitgevoer word in ‘n gees van toewyding nie. As dit nie in ‘n gees van toewyding uitgevoer word nie, is dit sonde. Want “wat nie uit die geloof is nie, is sonde” (Rom. 14.23).
Diegene wat nie aan die gewone en geoorloofde bedrywighede van die lewe aandag kan skenk sonder om daardeur van God weggetrek te word nie, verkeer beslis nie in ‘n geheiligde toestand nie.
Alles wat nie in ‘n gees van toewyding gedoen kan word nie, is ongeoorloof. As jy die teenstrydigheid voel van die uitoefening daarvan as ‘n daad van toewyding aan God, is dit ongeoorloof. Jy is self die beoordelaar.
Enigiets wat op sigself nie reg of verkeerd is nie kan òf reg òf verkeerd wees, afhangende of dit in ‘n gees van toewyding gedoen, of nie gedoen word nie. Derhalwe…
‘n Selfsugtige mens kan ‘n godvresende persoon veroordeel vir die doen van iets wat sondig sou wees as hyself (die selfsugtige) dit gedoen het – want die bedoelinge van sy hart is heeltemal verkeerd. Die selfsugtige mens neem aan dat die ander persoon se optrede ook met die verkeerde beweegredes plaasgevind het.
Daarenteen kan ‘n vroom persoon miskien die eer gee aan ‘n selfsugtige persoon terwyl dit hom nie toekom nie omdat hy as vanselfsprekend aanvaar dat, “wanneer die daad reg is, is die motief reg.”
Daar is geen vrede in die gemoed nie behalwe in ‘n staat van toewyding. Geen ander gemoedstoestand is verstandig nie. In geen ander toestand sal die verstandelike vermoë harmoniseer nie. In enige ander toestand as dit wat toewyding aan God is, sal daar ‘n innerlike worsteling wees, asook opstand en stryd in die gemoed self. Die gewete bestraf die gemoed oor selfsugtigheid. Derhalwe is daar, “Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!” (Jesaja 48:22).
Hulle sal met ‘n houding van voortdurende toewyding “’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3). Dit is onmoontlik dat hulle nie vrede sal ervaar nie, want toewyding impliseer en behels vrede.
En nou geliefde, het jy die gees van ware toewyding? Moet tog net nie antwoord met “ek hoop so” nie, want niks anders as ‘n bewuste weet dat dit so is behoort jou vir ‘n enkele oomblik te bevredig nie. As jy aan God toegewy is, dan weet jy dit – en as jy nie daarvan bewus is dat jy aan God toegewy is nie, is dit omdat jy nie toegewy is nie.
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” (Gal. 6:7-8). U
‘n Terugkeer na heidendom
(Deur Dr P.Hammond)
In
van die mees onverwagte plekke kom ons te staan voor ‘n oplewing in die ou
heidense stamgebruike van insnydings in die vel, liggaamlike deursteking en
liggaamskending. Neusringe, wenkbrouringe, buikringe, tongknopies, veelvoudige
oorringe, tepelringe, tatoeëring en ander mismaakthede is nie maar net ‘n
herkenbare kultuurgroep nie – dit is alles deel van ‘n aanvallende mode
standpunt waarmee die Christenkerk uitgedaag word.
“Julle mag ook ter wille van
’n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in
julle vel maak nie. Ek is die HERE.” Levítikus 19:28
Dit
is jammer dat meeste van dié wat in die kerk die leiding neem swyg oor hierdie
praktyk, selfs terwyl sommige jeugleiers en Bybel-kollege studente hulleself
oorgee aan hierdie soort verandering van hulle liggame.
“Hulle
mag op hulle hoof geen kaalte maak … en in hulle vlees geen insnyding maak
nie. Heilig moet hulle aan hulle God wees en die Naam van hulle God nie
ontheilig nie … daarom moet hulle heilig wees.” Levítikus
21:5 – 6
As
Christene word ons opgeroep om heilig, afgesonder van, en anders as die wêreld
te wees, asook aan God toegewy. “Almal
doen dit” is beswaarlik ‘n
aanvaarbare rede om enige Christen se betrokkenheid te regverdig. Die blote feit
dat dit heidene is wat liggaamlike deursteking beoefen, behoort al klaar
genoegsame rede vir Christene te wees om nie aan die wêreld gelykvormig te word
nie.
“Maar
julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk,
‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit
die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” 1Petrus 2:9
Die
Skrif toon duidelik aan dat ons ons liggame met die nodige agting moet behandel
-- dit is nie ons eie om maar daarmee te maak net wat ons wil nie. Dit behoort
aan God wat dit geskape en met Sy eie bloed gekoop het. Ons liggame moet tempels
van die Heilige Gees wees. Ons moet immers God in ons liggaam verheerlik.
“Weet
julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? … Of weet julle nie dat
julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van
God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop.
Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
1Korinthiërs
6:15, 19-20
Aan
die ander kant is ook in die Bybel opgeteken hoedat heidene hulle liggame
mishandel het. Die valse profete van Baäl het “hulleself volgens hul gebruik met swaarde en
spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het.” 1Konings
18:28.
Die
besetene van Gádara het homself met klippe stukkend geslaan en sonder klere
geloop (Mar. 5:5, 15). Dit was die gebruik by die Ismaelitiese mans om goue
oorringe te dra. (Rigters 8:24).
‘n
Deursteekte oorlel is volgens die Bybel ‘n openlike aanduiding van
voortdurende slawerny. Toe Moses die Hebreërs uit hulle slawerny onder die
Egiptenaars uitgelei het, het Aäron hulle aangespoor, “Ruk
die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters
is … Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was …
Dit is jou gode, o Israel …” Exodus 32:1-4
Nadat
God met Jakob gepraat het, het hy sy huisgesin en almal wat by hom was aangesê
om die vreemde gode wat in hulle besit was te verwyder en om hulleself te
reinig. Saam met al die vreemde gode het hulle die ringe aan hulle ore ook
begrawe.
“Toe
sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde
gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan; ......Toe
gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan
hulle ore, en Jakob het dit begrawe ,......."
Génesis 35:2,4
Dit
was nog altyd die reaksie by heidense mense nadat hulle die Evangelie van
Christus aangeneem het. Van Papoea Nieu-Guinee tot die Amasone-oerwoud doen
heidense stamme mee aan insnydings in die vel, oorringe, neusringe, tongknopies,
veelvuldige deurstekings en tatoeëring. As hulle egter eenmaal tot bekering in
Christus gekom het, laat vaar hierdie stamme al daardie gebruike om hulle
liggame te verander.
“Jy
moet die here jou God vrees en Hom dien … Julle mag nie agter ander gode aan
loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie – want die here jou
God is ‘n jaloerse God by jou – sodat die toorn van die here
jou God nie teen jou ontvlam…nie. … Julle mag die here julle God nie
versoek…nie. … Julle moet die gebooie van die here julle God en sy
getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou. En jy moet
doen wat reg en goed is in die oë van die here, dat dit met jou goed kan gaan
… As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die
insettinge en die verordeninge wat die here
onse God julle beveel het? dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe
van Farao in Egipte; maar die here het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte
uitgelei…” Deuteronómium
6:13 – 21
Dit
is heeltemal onvanpas vir ‘n Christen man om ‘n oorring – wat die
merkteken van slawerny is – te dra. Wat dalk vir ‘n vrou gepas mag wees is
nie noodwendig vir ‘n man passend nie. Dit wat deur die wêreld beoefen word
is selde vir ‘n Christen geskik.
“Want
julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n
aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.” Galásiërs 5:13
Lewe
“as vrymense en
nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie…”
1 Petrus 2:16
“Staan
dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie
weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”
Galásiërs 5:1
As
iets vir die wêreld aanvaarbaar is en dit kom baie algemeen voor, behoort dit
al klaar ‘n dwingende rede vir ons as Christene te wees om nie met hulle modes
en grille saam te gaan nie. Ons word opgeroep om anders te wees. Ons moet met
ons liggame aan God eer bewys.
“Ek
vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame
stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle
redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word
verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die
goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Romeine 12: 1-2
Ons liggame is van belang. Dit moet aan God as heilige offers aangebied word – op ‘n wyse wat vir God welgevallig is. Ons behoort nie die heidene se voorbeeld na te volg nie. Om ons liggame te deurpriem is beswaarlik ‘n manier om dit as tempels van die Heilige Gees te eerbiedig. Blywende skending van ons liggame is ‘n skreiende rebellie teen ons Skepper en Verlosser.
“Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel.” 1Petrus 2:11
‘n Deel van die Bybelse beskrywing van ‘n
hoer is dat sy: “haar met
haar neusring en haar halssierade versier … maar My het sy vergeet,
spreek die here.” (Hoséa 2:12)
“Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld.” Psalm 36:3
“Laat ons
ons weë naspeur en deursoek en ons tot die here bekeer.”
Klaagliedere
3:40
"Om met hierdie oordadige mode standpunte op onsself aandag te trek is nie juis in ooreenstemming met die opdragte in die Bybel om beskeie en ingetoë te wees nie" Spreuke 21:4; 1 Timótheüs 2:9-10.
“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie … maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees …” 1Petrus 3:3- 4
Die huidige obsessie met liggaamsverandering by baie
is ‘n herlewing van die stam-stelsel. Dit behels ‘n pynlike
ontgroeningsritueel wat ‘n identifisering met ‘n sekere stam, familiegroep
of kultuurgroep bewerkstellig. Die Kacipo-mense in die Soedan rek hulle onderlip
sodat ‘n pieringgrootte erdewerk daarin pas; en hulle rek hul oorlelle om ‘n
groot gat daarin te skep en lang oorlelle te vorm. Onder die Nuba-stamme in die
Soedan is veelvoudige oorringe, neusringe, insnydings in die vel en
liggaamsbeskildering baie algemeen. Die Dinka- en Nuer-stamme in die Soedan is
maklik uit te ken aan die littekenpatrone op hulle voorkoppe. Onder die Hindoes
is neusknopies, buikringe, toonringe, tongknopies en wenkbrouringe baie
algemeen. Tatoeëermerke aan die Amasone-stamme dien om die onderskeie lede van
‘n bepaalde stam uit te ken. In Papoea Nieu-Guinee word die verskillende stamme
uitgeken aan ‘n verskeidenheid van insnydings in die vel, tatoeëermerke en
liggaamskendings. Insgelyks onderskei wenkbrouringe, neusringe, veelvoudige
oorringe, tepelringe, buikringe en tongknopies uitkenbare kultuurgroepe in New
York, Londen, Parys en ander hoofstede van wat veronderstel is om die beskawing
te wees.
“Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!” Jesaja 3:9
Dit is interessant dat, terwyl so baie Westerlinge na nuwe-tydperk (“new
age”) godsdienste, liggaamlike deursteking en okkultisme hardloop, etlike
miljoene in die genoemde stamme in Afrika, Suid-Amerika, Asië en die Pasifiese
eilande, na Christus bekeer word en die liggaamlike deursteking-gebruike van
hulle heidense verlede laat vaar. In hierdie sendingvelde is dit baie duidelik
wie Christene en wie heidene is. Die heidene dra min of geen klere nie en hulle
beoefen ‘n verskeidenheid van insnydings in die vel, liggaamlike deurstekings
en/of tatoeëring. Hierteenoor is die Christene maklik uit te ken – hulle is
gekleed en hulle beoefen nie veranderinge aan hulle liggame nie.
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie
meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek
deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my
oorgegee het.” Galásiërs
2:20
Sommige ouer mense sal natuurlik nog
die littekens en gate behou – as ‘n getuienis van hulle heidense verlede
voor hul bekering – maar alle oorringe, wenkbrouringe, neusringe en sulke
dinge sal hulle dan van ontslae geraak het. En hulle kinders sal van hierdie
heidense mismaakthede vry wees. In hierdie gebiede is dit ongehoord dat
Christene uit vrye wil hul liggame sal laat deurpriem of tatoeëer. Trouens,
hulle is geskok wanneer Westerse mans met poniesterte of oorringe by hulle
besoek aflê.
“Julle is kinders van die here julle God; julle
mag julle terwille van ‘n dooie nie stukkend kerwe of ‘n kaalte tussen julle
oë maak nie. Want jy is ‘n volk heilig aan die here jou God…” Deuteronómium 14: 1-2
Hoe verklaar ons dan die vry
algemene verdraagsaamheid van, en selfs die meedoen aan, liggaamlike deursteking
in hoegenaamd te veel Christelike Kerke asmede Bybel-kolleges en bedieninge in
die Weste?
“Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is
en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal
God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle. Laat niemand
homself mislei nie…” 1Korinthiërs 3: 16-18
Oor die algemeen neem dit ‘n
aanvang met die aanvaarding dat as oorringe vir vroue gepas is, dan is dit ook
vir mans geskik. Sommige vroue redeneer dan dat as mans oorringe gaan dra, dan
sal hulle veelvoudige oorringe dra. En aangesien soveel in die wêreld
neusringe, wenkbrouringe, buikringe, tongknopies, ens. dra, waarom sal ons dan
nie?
“Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die
vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van
die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Jakobus 4:4
Aangesien so baie Christene
hulleself verdiep het in heidense musiek, onsedelike video’s en wêreldse
vermaak, behoort dit ons nie te verbaas dat so baie van ons jong mense nie van
hulle nie-Christen vriende te onderskei is nie. Die verstands-verrottende,
brein-verdowende, sieldodende gemors wat die ore, oë en gemoedere van ons jeug
vul, behoort voldoende verklaring te wees vir die teruggevalle, onsedelike en
onchristelike gedrag wat nou selfs belydende Christene insluit wat hulle liggame
skend met heidense deurstekings.
“Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” Romeine 3:18
Dit is tyd dat Jeugleiers en Leraars
bestudeer wat die Skrif oor hierdie onderwerp leer en om dan moedig, en sonder
kompromis, oor hierdie teksverse te preek en op daardie mense wat hulle liggame
besoedel ‘n beroep te doen om hulle te bekeer. Ons het nodig om God se Woord
met erns te bejeën.
“…laat ons ons van alle besoedeling van die
vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God
volbring.”
2Korinthiërs 7:1
“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome
heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik
bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”
1Thessalonicense 5:23