Deur Lionel Fletcher
Die volgende verhaal is ‘n hoofstuk uit ‘n boek wat in 1931 met die
titel “Mighty Moments” gepubliseer is. Ons was werklik bemoedig deur hierdie
aandoenlike verhaal van ‘n jong man se geloof en sy vasberade liefde vir God.
Dit is ons bede dat dit ook vir u op ‘n magtige wyse sal besiel.
Een van die magtigste oomblikke wat ek al ooit beleef het was gedurende ‘n reeks dienste wat ek baie jare gelede in die noorde van Engeland gelei het. Ek kan nooit daaroor praat – of selfs daaroor skryf – sonder om ‘n diepe emosie te ervaar nie.
Ek was ‘n gas van my broeders in die bediening. Hulle het verlang dat ek God se arbeider sou wees om die oes in te samel op hulle landerye wat ryp was vir die insameling – veral onder die jeug. Ofskoon baie sorgvuldige planne beraam en ernstige en vasberade gebede opgestuur is, was ek niks sensasioneels te wagte nie.
Nietemin, vroeg reeds in die reeks dienste het ek ‘n ouerige man met ‘n baie woeste voorkoms sien sit in een van die voorste kerkbanke. Hy het my aandag getrek omdat sy gesig sulke duidelike tekens getoon het van die vernieling wat sonde aanrig. Ek het ook opgelet dat hy nie gesing het nie en nie gekyk het na die blaadjie met lofsange wat aan hom gegee is nie.
Rondom hom het mense gesit afkomstig uit aangename en gemaklike omstandighede, hoofsaaklik jong mans en vroue uit goeie huise. Alhoewel omring deur ander mense, was hierdie man alleen. Ek kon dit aanvoel en ek was daarvan bewus dat hy dit ook kon aanvoel. Ek was bly dat hy gekom het en het gehoop dat as hy onbekeerd was, hy miskien sy hart sou oopmaak vir die musiek van die Evangelie van Christus.
Toe ek ‘n uitnodiging gerig het aan almal om na vore te kom wat Christus as hul Verlosser wou bely en aanneem, was hy die eerste om my hand vas te klem! Spoedig was hy in die middel van die tou mense wat voor my gestaan het om ‘n toevertrouing aan God te maak. Nou kon ek duideliker sien dat hy armoedig geklee en sy gesig gerimpel was met diep groewe. Ek was bly dat hy gekom het en tog bedroef omdat daar ‘n somberheid oor hom gehang het wat my op ‘n vreemde manier geaffekteer het.
By die afsluiting van die diens het ek diegene wat hulle aan Christus toevertrou het genooi om by my aan te sluit in die sykamer sodat ek hulle kon onderrig aangaande die eerste stappe van ‘n Christelike lewe. Maar toe ons by die deur uitgaan, het een van die leraars my by die arm geneem en terselfdertyd hierdie armoedig geklede man se arm vasgegryp en ons gelei na ‘n ander kamer.
Ek was ietwat ontevrede oor hierdie vertraging want ek wou met die nuwe Christene wees om seker te maak dat hulle die aandag sou ontvang wat hulle benodig het. Maar ek het spoedig ontdek dat die leraar my hierdie ander man se geskiedenis wou meedeel voordat ek hom enige geestelike raad sou gee. En wát ‘n geskiedenis was dit nie! Hierdie man se naam was Jan en dit het daarop uitgeloop dat ek geluister het na ‘n koue relaas van dronkenskap en wreedheid, onder andere. Niks was verbloem nie. Maar wat hierdie arme man se hart gebreek het, was die verhaal wat aan my vertel is oor hoe hy sy seun behandel het – wat ons “Kareltjie” sal noem vir die doeleindes van hierdie verhaal.
‘n Geruime tyd tevore het Kareltjie die Here aangeneem in hierdie leraar se kerk. Hy was slegs 16 jaar oud en klein postuur vir sy ouderdom. Toe hy daardie aand na sy huis terugkeer, het hy moedig aangekondig dat hy voortaan sy lewe vir Christus gaan uitleef. Sy vader, wat dronk was, het hom onmiddellik aan die nek gegryp en hom met sy leer lyfband afgeransel. Sy pa het gesê dit is sy voorneme om hom pak te gee elke keer wat hy sou waag om weer na daardie kerk te gaan.
Kareltjie het die volgende Sondag weer kerk toe gegaan. Met sy tuiskoms is hy weer geslaan – maar hierdie keer só hewig dat sy rug gekneus was en gebloei het want die brons gespe van sy pa se lyfband het ingebyt in sy vlees. Nie afgeskrik nie, het hierdie brawe jong man voortgegaan om Christus te dien en kerk toe te gaan totdat sy vader rasend waansinnig geword het en byna sy dreigement uitgevoer het om hom dood te maak. Op ‘n bitter koue winternag, ná die verskriklikste drag slae, is Kareltjie uit die huis gesmyt. Dit het daarop uitgeloop dat hy in die varkhok saam met die familie se vark beland het waar hy dankbaar was vir ‘n hoop strooi waarop hy kon gaan lê.
Kareltjie se pa het sy vrou gebied om bed toe te gaan. Nadat hy self daar vir ‘n tyd lank in stilte gelê het, wou hy weet, “Waar is Kareltjie?” Sy het geantwoord dat sy nie weet nie, maar hy het gesien hoedat sy uit die huis sluip kort voor sy boontoe gekom het en het geweet dat sy jok. Jan het oor haar gebuk, haar aan die keel gegryp en gesweer hy sou haar doodwurg tensy sy hom vertel waarheen die seun gegaan het. Bewend van vrees het sy hom vertel dat hy in die varkhok was en sy het by hom gesoebat dat die seun in sy bed moes kon slaap. Sy enigste antwoord was om op te staan uit die bed en klere aan te trek. Gewapen met daardie verskriklike lyfband is hy met die trappe af ondertoe en die donkerte in.
Eerlang het Jan die gehawende seuntjie uit die hoop strooi gesleep. Hy het hom in ‘n koue kelder waar die steenkool geberg was gegooi met die woorde, “Probeer om daar ‘n bietjie warmte te kry!” Maar dwarsdeur daardie vermoeiende nag het die jong Christen vir sy Meester gely en vir sy vader se redding gebid.
Hierdie ongelyke stryd het vir maande lank geduur. Toe, ‘n week voor ek met my dienste begin het, het die leraar wat my die verhaal vertel het, vir Jan van aangesig tot aangesig in die straat ontmoet. Vol van skuldbewustheid het Jan voor die leraar padgegee en geskree, “Hy het my verslaan, hy het my verslaan!” Die leraar het gedink Jan is dronk, maar nou, in hierdie kamer, het hy besef wat Jan bedoel het. Die leraar het na Kareltjie se vader gekyk en gesê, “Jan, het jy bedoel dat Kareltjie die stryd gewen het en dat hy jou na Christus gelei het om vergifnis van jou sondes te vra?”
Die berouvolle man, wat nou soos ‘n kind gesnik het, het net sy kop geknik. Ons het geweet dat ons staan voor ‘n magtige wonderwerk van genade wat die waarheid van die Evangelie bewys het: Christus het gesterf sodat sondige mense God se redding kon vind. Ek het Jan aan die arm gevat en woorde van vertroosting met hom gespreek. Daarna het ons drie na die kamer gegaan waar die ander op ons gewag het. Toe kom die hoogtepunt van daardie wonderlike aand.
Die leraars en almal wat hulle belydenis van Christus gemaak het, het almal voor my gestaan. Ek was op die punt om te bid toe die deur vinnig oopswaai. Skielik het daar voor ons ‘n bleekgesig seun gestaan met blou oë wat onder ‘n dik bos helderrooi hare uitloer. Hy het klompe aan sy voete en ‘n dik serp om sy nek gehad. Hy was uitasem want hy het gehardloop so vinnig as wat sy bene hom kon dra vanweë die koue.
Ek het geweet dit was Kareltjie, alhoewel ek hom nog nooit vantevore gesien het nie. Sy dramatiese verskyning het almal se aandag aangegryp. Alhoewel net ‘n paar van ons die verhaal agter dit geken het, het almal aangevoel dat iets buitengewoon besig was om te gebeur. Om die waarheid te sê, twee van Kareltjie se vriende was in die diens gewees en het tot hul verbasing sy pa daar gesien. Hulle het later gesien hoedat hy na vore gegaan het om sy sonde te bely en Christus as sy Verlosser aan te neem. Hierdie twee seuns het toe die kerk verlaat en by die meul ingebars met die verstommende nuus: “Kareltjie, jou pa het hom bekeer! Jou pa het hom bekeer!” Kareltjie was te verstom om die waarheid te begryp van wat gesê was, daarom het hulle dit herhaal, “Jou pa is bekeerd! Hardloop! Hardloop! Gaan na hom!”
“Maar ek kan nie na hom gaan nie,” het Kareltjie geantwoord. “Ek moet my werk doen en kan nie die meul verlaat nie.” Maar hulle het by hom aangedring met al die geesdrif wat eie is aan die jeug en die blydskap van seuns wat lief is vir hulle vriend. “Hardloop! Hardloop! Ons sal jou werk doen totdat jy terugkeer.” En so het Kareltjie in sy klompe gespring, die serp om sy nek gesit en gehardloop asof sy lewe daarvan afhang – terwyl die twee seuns, met hul beste klere aan, sy werk in die meul behartig het.
In stilte het ek eers na die wit gesig van die seun gekyk, toe na die blosende gesig van die man en ek het lang trane gesien biggel langs die wange van albei gesigte. Geeneen van beide het ‘n woord gesê nie en toe steek die seun sy arms uit asof te vra vir ‘n omhelsing. Dit het voorgekom asof hy heeltemal onbewus was van enigiemand anders in die kamer behalwe sy pa en sy oë het hom verslind. Die man het ‘n effense beweging gemaak en met een sprong was Kareltjie oor die tapytbedekte vloer en het hy sy arms om sy vader se nek geslaan. Hy het hom gesoen en hulle het saam geween. Ek het baie naby hulle gestaan en ek het gesien hoedat Kareltjie se hand opgly na sy vader se gesig en dit begin streel soos wat ‘n man ‘n kind sal streel. Ek het gehoor hoe hy in sy onvervalste dialek sê, “Pa, hoe lief het ek jou… Hoe lief is ek vir jou.”
Toe die bestuurder van die meul van die verhaal verneem, het hy Kareltjie se werksure verander vir die res van daardie dienste. En aand vir aand het daardie tweetjies sy aan sy gesit en dit het gelyk asof die lig van die hemel hulle aangesigte bestryk het. Jan het spoedig die koortjies aangeleer, sodat hulle twee stemme my op die kansel bereik het soos hulle gesing het:
“Wat ‘n Vriend het ons in Jesus,
Hy wat in ons plek wil staan;
Wat ‘n voorreg om gedurig
Tot Gods troon deur Hom te gaan!”
Hulle was die laaste om aan my vaarwel te sê ná die afsluitingsdiens en ek het heengegaan en God gedank dat ek steeds geglo het en die Evangelie verkondig het van Sy verlossende liefde. U
(‘n Vertaling van GOSSIP – Deur Melody Green)
Ek dink die vernaamste rede waarom God my toelaat om ‘n klein bietjie oor die probleem van kwaadspreek (skinder) met u te deel is omdat dit geensins vir myself iets vreemd is nie. Ek het nie net na skinderpraatjies geluister nie. Ek het dit ook versprei en was al self die slagoffer daarvan … en laat ek dit maar sê, vir die Here is dit alles ewe pynlik.
Wanneer ek aan mense dinge oorvertel het wat ek nie moes nie, het ek dit gewoonlik goedgepraat deur by te voeg, “Ons behoort regtig vir so en so te bid wat hierdie vreeslike probleem het…” Maar ons het gewoonlik nie gebid nie, ons het dit net “verder bespreek.” Origens was dit natuurlik groot pret om te luister na die jongste storie aangaande iemand of een of ander evangeliebediening. Weer het ek dit geregverdig deur te dink, “Wel, dit is belangrik om op hoogte te bly met wat gebeur.
Buitendien, dit is nodig dat ek weet hoe om te bid …” wat ek eweneens nooit gedoen het nie. (Om die waarheid te sê, as ek soveel tyd op my knieë deurgebring het in gesprek met God as wat ek op my rusbank gedoen het in gesprek met my vriende, sou ek teen hierdie tyd werklik ‘n vrou honderd gewees het.)
My bewuswording van die probleem het vroeg in ons bediening begin toe ons bediening in die gemeenskap ‘n aanvang geneem het. Ek het besef dat met so baie intieme verhoudings wat ontstaan, ons ‘n teelaarde geword het vir skindery wat sou voortwoeker … en wat almal wat daaraan deelneem sal besmet. Ek het my baie daaroor begin bekommer, heelwat Skrif opgesoek, en ‘n paar baie oortuigende Bybelstudies vir die dames aangebied. Maar God het eers werklik my oë geopen toe ek myself en ons bediening aan die ontvangkant bevind van sekere gerugte en oordrywings wat my diep seergemaak het. Ek was in ‘n worstelstryd! ‘n Verbittering het by my posgevat en ek kon net nie dink hoe mense sulke dinge kon kwytraak nie. Maar ek dink ek was selfs nog meer seergemaak oor diegene wat geluister het en sommer die inligting as voldonge feite aanvaar het.
Ek het by God gepleit om hulle te laat ophou! Nou ja, dit was nie lank nie of Jesus het handelend opgetree; en ou maat, het Hy my sonde laat sien – maar raai wie s’n? Myne! Hy het my herinner aan al die kere wat ek gerugte ontvang en versprei het, nie slegs van mense wat ek geken het nie, maar oor vele wat ek nooit eens ontmoet het nie. Jesus het aan my getoon hoe ek die liggaam van Christus vergiftig het en wesenlike skade berokken het aan baie se goeie naam. Ten tyde daarvan het ek nie gedink dat ek enigeen benadeel nie … maar nou het ek van beter geweet. Jesus het toegelaat dat ek ervaar hoe dit gevoel het, en dit was eenvoudig aaklig. Hy het my laat insien dat Hy meer as enigiemand anders verdriet aangedoen word wanneer Sy kinders so liefdeloos teenoor mekaar is. Om te beweer dat ek hierdie sonde geheel en al oorwin het deur hierdie ondervinding, sal onwaar wees. Ek word steeds byna daagliks op die proef gestel en misluk soms; maar ek kan in alle eerlikheid sê dat daar ‘n verskil soos dag en nag in my lewe is en dat ek weet dat Jesus getrou is en die werk wat Hy in my begin het sal voltooi.
WAT IS KWAADPRAAT?
Wanneer ons Christene word, doen ons afstand van die ou “grotes” soos lieg, steel, drinkery, kullery, dwelms en ontug. Ons begin om tyd deur te bring met ons nuut gevonde vriende en gesels oor die Here, ons lewens en dit wat in die algemeen om ons aangaan. Onskadelike goed … of so dink ons. Maar kom ons bekyk dit van naderby. Menigmaal is hierdie gesprekke gevul met oordele, gerugte en hoorsê … alles netjies weggesteek agter ‘n besorgde Christelike glimlag.
Het jy geweet dat die Bybel heelwat te sê het oor skinder (of kwaadsprekery)? Dit is nie maar net ‘n “sondetjie” soos sommige van ons so graag rasionaliseer nie. Die Here sê, “…’n slegte wandel en ’n huigelagtige mond haat ek.” (Spreuke 8:13) … en Hy beveel ons, “Jy mag nie as ’n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie…” (Lev. 19:16). [Die 1983-vertaling lui, “Jy mag nie loop en skinder nie…”]. God sê ook, “En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie.” (1 Tim. 5:13). In Psalm 101:5 sê die Here, “Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig…” God se houding is ook dat diegene wat skinder (nuusdraers, kwaadsprekers) Hom nie in erkentenis hou nie en oorgegee is aan ‘n slegte gesindheid. Hy klassifiseer nuusdraers saam met diegene wat vervul is met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug, nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid en hulle wat haters van God is. Daarna sê Hy dat mense wat sulke dinge doen, goed weet dat hulle die dood verdien, maar dit weerhou hulle nie daarvan om daaraan deel te neem nie en ook nie om hulle goedkeuring te skenk aan dié wat dit doen nie. (Rom. 1:28-32). Hierdie is nogal ontsettende Skrif, en ek sidder as ek dink aan die gevolge daarvan.
Terloops, iets hoef nie ‘n leuen te wees om dit skinder of kwaadsprekery te maak nie. Baie van ons dink, “Wel, dit is waar … so ek mag dit aan enigeen wat ek wil vertel.” Volstrek nie! Om iets wat waar is oor te vertel vir die verkeerde beweegrede kan selfs meer skade berokken as om ‘n leuen te vertel. Om die waarheid te sê, daar is ‘n omskrywing van skinder wat nogal insiggewend is: Om iets van iemand oor te vertel wanneer die daad van mededeling nie deel uitmaak van die oplossing van daardie persoon se probleem nie.
MATTHÉÜS 18
“En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.” (Matt. 18:15,16). Ek dink die rede waarom God hierdie in die Bybel geplaas het is omdat Hy weet hoe swak ons is en Hy het geweet dat ons vaste riglyne hieroor nodig het.
As ons te na gekom word of iemand sien sondig, behoort ons na daardie persoon te gaan en na niemand anders nie! Kom ek gee ‘n paar voorbeelde: As iemand in sonde lewe, wat word daardeur behaal om dit aan ander te gaan vertel? Wat kan hulle daaraan doen? As ons begin rondloop en praat oor hierdie “aaklige ding” wat ons in iemand se lewe sien en vir ander vra of “hulle dit ook sien”, dan veroorsaak ons dat hulle ‘n oordeel vorm en oplaas struikel. Laat ons eerder daardie broeder of suster terugbring tot gemeenskap met God. Jy kan hom of haar miskien iets uitwys waaroor hulle ‘n werklike gebrek aan insig het wat die Here baie graag mee wil handel. As hy of sy nie wil gehoor gee nie, dan is daar ander stappe wat gedoen moet word. Wees hierop voorbereid, alhoewel dit gewoonlik nie daardie stadium bereik nie. Glo my, ek het my heel beste groei na wasdom ervaar wanneer iemand na my in ware liefde en besorgdheid gekom het oor ‘n teenstrydigheid wat hulle in my lewe kon gewaar. Ek is dankbaar dat hulle my genoeg liefgehad het om my daarmee te konfronteer en sodoende my die geleentheid gebied het om te verander.
“Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” (Gal. 6:1).
OM AANSTOOT TE NEEM
Om ons seer en bitterheid te deel en na ander te luister wat hulle s’n met ons deel, is nog ‘n gebied waar dit nodig is om baie versigtig te wees. As iemand met jou beste vriend onbeskof was en jou vriend hul seerheid met jou deel, dan gaan jy waarskynlik ook aanstoot neem. Dit beteken jy word ook seergemaak, straks word jy selfs kwaad vir die persoon wat jou vriend pyn aangedoen het. Miskien maak hulle later op en alles is vergewe en vergeet. Maar daar is net een probleem … jy voel nog bitter! En die volgende keer as jy die persoon sien wat jou vriend seergemaak het, besef jy dat jy hom of haar nie vergewe het nie. Tensy jy onmiddellik gaan en dinge opklaar, kan jy miskien met jou ‘n subtiele bitterheid saamdra wat by jou opkom elke keer as jy hom sien of sy naam hoor. Waarom? Want jy het nie van God dieselfde mate van genade ontvang om te vergewe as wat Hy aan jou vriend gegee het nie. Jy is nie die een aan wie aanstoot gegee is nie.
God gee genade aan die nederiges en beproefdes (Jakobus 4:6) en jy was nie een van die twee nie. Jy het net “toevallig” betrek geraak by iets waarvan jy in die eerste plek nie van vertel moes gewees het nie. Die onenigheid wat ‘n klein voorvalletjie kan veroorsaak kan verreikend en langdurig wees, afhangende van hoeveel mense daarvan hoor. Jy sien dus, dit is geheel en al onverantwoordelik om ander te betrek by wat jou seergemaak het en jou veroordelings. Vir my is dit duidelik, ons het geen reg om na iemand anders as God en die belediger te gaan nie, tensy ons werklik nie weet na watter kant toe nie. En dan is dit eerder nodig om vir berading te gaan, nie na ons “geliefkoosde persoon om mee te praat” nie.
DIE VERSKIL TUSSEN BERADING EN SKINDER
Baie geskinder en kwaadpratery geskied onder die dekmantel van “berading kry”. Daar skort niks daarmee om berading te kry as jy inderdaad met ‘n berader praat nie. ‘n Berader is iemand wat volwassenheid in die Here het; jou tot godvresendheid en versoening aanspoor; jou sonde in die situasie uitwys; nie die aangeleentheid sal oorvertel of daaroor tot struikeling sal kom nie; en die wil van God in die allereerste plaas sal soek – nie joune nie. (So ‘n persoon is gewoonlik in ‘n leierskap posisie in ‘n kerk of kerklike gemeenskap.) Ek is bevrees dit skakel 95 persent van die mense uit na wie ons gewoonlik hardloop met die jongste probleem. As ons werklik berading nodig het, behoort ons dit te kry. Maar meeste van die tyd as ons met iemand ons probleme deel, soek ons nie regtig ‘n oplossing nie. Ons wil maar net ‘n simpatieke oor hê en iemand om met ons standpunt saam te stem. Dit wil voorkom of ons nie omgee hoeveel verdeeldheid ons veroorsaak nie, so lank ons net mense aan “ons kant” kan kry. Ons is té selfsugtig om te bekommer oor die skade wat ons aanrig aan diegene aan wie ons vertel of aan hulle van wie ons oorvertel. “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.” (Spreuke 6:16-19).
OM MAAR NET TE LUISTER
Baie van ons wil graag glo dat om “maar net te luister” na kwaadsprekery, nie regtig so sleg is as om dit te versprei nie. Dit is nie so nie. God sê, “Die kwaaddoener gee ag op ’n bedrieglike lip, ’n leuenaar luister na ’n tong wat onheil stig.” (Spreuke 17:4). In 1 Samuel 24:10 pleit Dawid by Saul, “Waarom luister u na die woorde van mense wat sê: Kyk, Dawid soek u onheil?” Nou ja, waarom luister ons? Waarom glo ons so geredelik die ergste? Die Bybel sê in 1 Kor. 13:7 dat die liefde bedek alles en hoop alles. Waarom sê ons nie liewers sagkens dog beslis nie, “Dit spyt my, maar jy vertel my nou iets wat ek regtig dink dat ek nie na behoort te luister nie. Jy behoort daarmee na die Here te gaan en na die betrokkenes … nie na my nie.” ‘n Paar sulke vermanings sal meeste kwaadsprekers in hul spoor laat vassteek. Dit sal hulle minstens daarvan weerhou om na jou te kom met hulle verraad en hulle miskien iets anders gee om oor te dink as ander mense se sake. Die Bybel vermaan ons om ons nie in te laat met kwaadsprekers nie. “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ’n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.” (Spreuke 20:19).
“’N WAARMERK VAN VOLWASSENHEID”
“Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.” (Matt. 12:36).
Met elke woord wat ons spreek maak ons ‘n keuse. Ons kies òf om God te seën, òf om Hom te bedroef deur teen Sy Woord in opstand te kom. “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (Efe. 4:29).
Nog iets, partymaal neem ons nie God se bevel ernstig genoeg op dat ons ons tong in toom moet hou nie. Hierdie is een van die opregte waarmerke van ‘n volwasse man of vrou van God. Jakobus sê, “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.” (Jakobus 1:26).
Ons weet almal dat die hart is bedrieglik bo alle dinge (Jer. 17:9), derhalwe mag dit maklik lyk om ons gedrag te regverdig … maar let op die verskriklike prys. Ek voel veroordeel net om dit te skryf! Ek wil beslis nie my wandel met die Here waardeloos laat word omdat ek nie volwasse genoeg is om die woorde wat uit my eie mond voortkom in toom te hou nie.
EEN LAASTE GEDAGTE
Skindery en kwaadpratery is Satan se gereedskap. Hy weet dat as hy by mense onderlinge verdeeldheid en struweling kan laat plaasvind, ons heeltemal te besig sal wees om te verenig en hom te beveg! Ons het nodig om eers te stop en te besin voordat ons praat; en in ons harte voor te neem om nooit ons ore vir kwaadpratery uit te leen of om dit oor te vertel nie. Ons kan dit doen deur die genade van God en ‘n vasberadenheid om die regte keuses te maak. Jy moet daaroor bid. Daar is miskien mense teenoor wie jy jou berou moet uitspreek en ‘n verbittering wat bely en genees moet word. Gaan eers na God en kry jou gesindheid in orde. Hy sal jou die krag gee om te doen wat kortkom. “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.” (Openbaring 19:7). Dit mag miskien as ‘n monumentale taak voorkom … maar God roep ‘n heilige bruid byeen en dit noop ons om alles moontlik te doen om onsself “gereed te maak”! U
IN DIE BINNEKAMER
(‘n Vertaling van “Dirty Linen In The Throne Room”- Jack Hayford)
Eerlikheid is inderdaad ‘n voorvereiste om doeltreffend te kan bid. Maar dit kan ook op ‘n slim wyse deur ons aartsvyand op ‘n boemerang-baan geplaas word .
“Hoe kan ek bid terwyl ek weet dat ek God in die steek gelaat het?” kan ek myself afvra. Om bewus te wees van onlangse sonde, of selfs die herinnering aan sonde lank gelede, kan in jou gemoed ronddwaal en alle vrymoedigheid tydens gebed belemmer.
Boonop, elke keer as ek skuldig voel sal Satan, wat deur Gods Woord bestempel word as die aanklaer asook die teenstander, my gemoed aanhits met bykomende bewyse van my onwaardigheid en, derhalwe, van my hopeloosheid as ek wel sou bid.
“Jy het so erg verbrou, jy kan tog nie werklik verwag dat God jou sal verhoor nie. Jy verdien niks nie. Jy weet dit, en Hy weet dit! Jy kan maar daarvan vergeet!”
Sommige van ons sal selfs by daardie leuenagtige aanval verby beur tot by die punt waar ons op een of ander wyse wel iets bid. Maar woorde – wanneer die gemoed bestook word met skuldgevoelens en veroordeling – het ‘n manier om plat te val. Die gewaarwording van die skeppingsmag is afwesig wanneer ons vrymoedig in eenvoudige vertroue tot die God van die heelal nader. In plaas daarvan voel ons soos iemand wat ‘n oudiënsie probeer kry met die staatshoof van ‘n nasie wie se landsvlag ons so pas met die voete vertrap het.
Skrale moontlikheid van ‘n guns!
Min hoop op aanhoring!
Die duiwel het gelyk. Sit dit uit jou gedagte.
Maar wag ‘n bietjie…
Dink nugter daaroor vir ‘n oomblik. Wat het nou skielik Satan se geaardheid verander dat hy God se eer sal beskerm deur by jou aan te dring om jou besoedelde afstand te handhaaf?
Niks.
Hy (Satan) is onveranderlik gekant teen jou en my verbondenheid met die Vader.
Wanneer die duiwel ‘n gelowige bestry op wat oënskynlik as regskape grondbeginsels voorkom, kan jy daarop staat maak dat daar êrens in die stelsel ‘n slagyster is. Die waarheid begin na die oppervlak kom. Die God van alle heerlikheid is ook die God van alle genade.
Dit is noodsaaklik dat ons sal leer hoe om ons grootste struikelblok baas te raak wat in die weg staan van doeltreffende gebede: skuldgevoel – die gevoel dat ek misluk het en daardeur onbevoeg gemaak is vir vrymoedige toenadering.
Hoe moet ek die innerlike stem van my gewete hanteer wanneer ek tot die Almagtige in my binnekamer nader?
Op die oog af is sonde ‘n hinderpaal vir omgang met God. Maar, van naderby beskou, blyk dat net die teenoorgestelde waar is vanweë Christus se offer.
Dink na:
My sonde skep die moontlikheid dat Sy genade nog meer oorvloedig word.
My sonde is ‘n sterk herinnering vir my van my absolute afhanklikheid van Hom.
My sonde, wanneer ek dit bely, gee aanleiding tot nog ‘n vertoning van Sy genade.
My sonde, wanneer daarteen opgetree is, bring my by die fontein van mag: die Kruis, waar weereens gevind word dat Jesus se bloed ewigdurend doeltreffend is om bande te verbreek en van skuldgevoelens te bevry.
My sonde, wanneer vergewe, sal my teenstander verslaan. Hy wat beweer het dat ek van ‘n verhoring uitgesluit sal wees vanweë my mislukking.
Die apostel Paulus was werklik daarvan beskuldig dat hy sonde aangemoedig het. Dit was onwaar en hy het die klag ontken – Rom. 3:8, 6:1,2.
Maar dit is verstaanbaar dat Paulus daarvan beskuldig was. Want enige korrekte lering oor God se oneindige genade het die manier om vir die verwaandes te klink asof vergunning verleen word om te sondig. Maar ons kom nie in God se teenwoordigheid deur ‘n toegangskaartjie te vertoon waarop ons sondeloosheid gesertifiseer word nie. Nog minder sal mens die binnekamer instorm met voete vol modder en ‘n onegte, “Jammer daaroor”.
‘n Betaamlike ewewigtigheid van nederigheid en vrymoedigheid word benodig. Sonde, by watter naam jy dit ook al wil noem, kannie omseil word nie. Allermins behoort sonde geëer te word deur toe te laat dat dit ons gebede inperk.
Hier is hoe om die probleem te hanteer:
Eerstens, verstaan die houding wat God inneem. Hy skaar hom by die sondaars. Jesus se kritici was verbysterd dat Hy so dikwels in die geselskap verkeer het van mense by wie godsdienstige agtergrond en morele aansien ontbreek het. “Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink?” (Mar. 2:16). Die verbasende is dat Hy nie net onder die sondiges beweeg het nie, maar dat Hy húlle beïnvloed het, en nie andersom nie.
God veroordeel nooit sondaars nie; en hy vergoelik nooit sonde nie. “My kinders,” skryf Johannes, “ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie.” (1 Johannes 2:1). Hierdie boodskap veroorsaak of kan ‘n skuldgevoel teweegbring – as dit oppervlakkig gelees word…was dit nie vir die sin wat daarop volg nie: “en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.” (verse 1-2). Met ander woorde, die Woord van God sê: “Moet volstrek nie sondig nie,” dan maak dit ‘n koersverandering en sê, “Maar as jy dit wel doen…”
Ofskoon ons hemelse Vader nie ‘n ongeërgde houding teenoor sonde inneem nie, is Hy nietemin ook nie daaroor geskok nie. Hy het vir sonde voorsiening gemaak, nie as ‘n uitnodiging om te sondig nie, maar om Sy vrymaking van die skuldgevoel daaroor te ontvang.
Tweedens, ons begaan ‘n ernstige fout as ons dink dat God se genade die gevolg is van een of ander “glimlag-en-vergeet-daarvan” neiging in Sy natuur. Humanistiese teologie gee ‘n uitbeelding van die Vader as ‘n ietwat afgeleefde, byna seniele, doodgoeie ou man, wat vergewe omdat Hy in elke geval nie eintlik iets anders kan doen om Hom te verweer nie. Of dit sê dat God vergewe elke keer as Hy gevra word “enkel omdat dit reg is en Hy behoort te vergewe.” Dit is deel van ‘n stilswygende ooreenkoms: Ons sal God daarvoor vergewe dat Hy toegelaat het dat die wêreld verval het in die algemeen verknoeide toestand waarin dit is, mits Hy daaroor regverdig sal wees en ons vergewe vir daardie tye wat ons bygedra het tot die gemors.
Meeste mense gee nooit uitdrukking aan sulke gedagtes nie of, wat dit betref, doen nooit die moeite om vas te stel wat hulle wel van vergifnis dink nie. Maar, om die volkome vrede te ervaar wat vergifnis gee, is dit nodig dat ons die sleutel tot die krag daarvan sal verstaan.
God se vergifnis is beskikbaar en voldoende omdat dit ‘n oneindige prys gekos het: die bloed van Jesus.
Bloed is die enigste afdoende prys om die betaling vir sonde te dek (Heb. 9:22).
Jesus het geweet en aangekondig dat Sy dood aan die kruis die betaalmiddel is (Matt. 26:28).
Dit was die Vader se plan en die Seun se instemming tot hierdie verlossende gebeurtenis, wat Golgota voortgebring het (Han. 2:23; Matt. 26:39).
Hierdie boodskap was deur die profete van die Ou Testament voorspel en deur die prediking van die apostels van die Nuwe Testament bevestig (Jes. 53:4-6; Jn. 1:29;
1Kor. 15:3; 1Pet. 1:18,19).
Beide regverdigmaking (vryspraak van ons sondes), tans en die ewige seën in die toekoms, word geskenk deur die bloed (Rom. 5:9).
Derhalwe is gemoedsrus en ‘n gereinigde gewete voor God beskikbaar deur die bloed (Efe. 2:13, 14; Heb. 9:14).
Vergifnis is wel oorvloedig, maar dit is nie die groot letters druk wat ‘n supermark ten toon sprei nie. Dit is die oorloop van die horing van oorvloed van Sy liefde wat bedoel is om ons lofprysing en danksegging op te wek…en sodat ons Sy troon met vrymoedigheid kan nader, selfs nadat ons gesondig het.
Dit bring ons by die derde punt:
Die hantering van die innerlike stem van my gewete in die binnekamer word nie tot stand gebring deur iets te probeer wegsteek nie, maar deur dit openlik voor God uit te sprei. Dit is die betekenis van belydenis: om te erken presies wat ons weet dat dit so is.
“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1Johannes. 1:9).
“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Heb. 4:16).
“…op die regte tyd” Dít is die tyd wat ons sterk aangemoedig word om na die troon te gaan. Maar wanneer die behoefte daar is – en vererger word deur ons eie besef van sonde en mislukking – dan is dit juis dié tyd wat ons die minste geneig is met vrymoedigheid te gaan.
Maar dit is juis die tyd wat ons uitgenooi word!
Word jou begeerte om te bid versper deur ‘n skuldgevoel?
Kry klaar met daardie versperring!
Laat toe dat die waarheid aangaande die Vader se genade jou vry maak!
Ek kan kom en deur die wonder van Sy skeppende werking gereinig word deur die bloed:
“Ontsondig my … dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu…Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.” (Ps. 51:9, 12).
Welkom in die troonkamer van die hemel, sondaar.
“God se vergifnis
is beskikbaar en voldoende
omdat dit ‘n oneindige prys gekos het:
die bloed van Jesus
Vergewe of Vergeet dit!
(‘n Vertaling van “Forgiveness, Forgive or Forget it!” deur Keith Green.)
Daar sit ek toe in ry 17, op ‘n vlug van Dallas na Los Angeles. Ek het begin mymer en gedink aan ‘n vriend wat my (soos ek gedink het) onbillik behandel het in ‘n finansiële transaksie wat ons gehad het. Terwyl ek die hele voorval goed oordink het, het ek onthou hoe ek destyds my gevoelens wat seergemaak was vertroos het deur by myself te dink, “Nou ja, dit is in die haak, dit is in elk geval God se geld – God sal self met hom handel.”
Maar op my nagtelike vlug in daardie straler begin ek toe om ‘n innerlike ongemak te ervaar, amper soos wraaksug. Ewe skielik was dit nie voldoende om die hele gebeurde in God se hande te plaas nie. Ek het gevind dat ek by myself dink, “Ek hoop die Here bring die hele gebeurde ter sprake wanneer so-en-so voor Hom in die oordeelsdag staan.”
En toe, onmiddellik, het die Here my gedagtes onderbreek en aan my gesê, “Ek sal dit met graagte te berde bring – mits jy nie omgee dat ek al die dwase dinge opper wat jy aangevang het nie!”
Toe bars ek uit van die lag, sommer daar in ry 17. Ewe skielik het ek tot die besef gekom van die droewige uitgelatenheid van dit alles. Ek het hom nog nooit werklik vergewe nie! Selfs ten spyte van al my vergeesteliking aangaande die Regterstoel – wat ek in werklikheid in my hart gesê het was, “Sy dag sal kom!” Met ‘n enkele sin het die Heilige Gees aan my die verregaande onversoenlikheid in my hart getoon – nie maar net teenoor hierdie broeder nie, maar ook vele ander wat my seergemaak, of te na gekom het.
Oombliklik het ek Jesus se woorde volkome begryp, “Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matt. 6:15).
DIE ONBARMHARTIGE SKULDEISER
In die 18de hoofstuk van Matthéüs (verse 23-35) is daar ‘n merkwaardige verhaal van hierdie ou wat aan die koning ‘n hele klomp geld geskuld het. “En toe hy [die koning] begin afreken, word daar een na hom gebring wat tienduisend talente skuldig was.”(tien miljoen dollar in vandag se geld). “En omdat hy nie kon betaal nie, gee sy heer bevel dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, en dat betaal moet word. Toe val die dienskneg neer en buig voor hom en sê: Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal. En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld.”
Vir my is die heel mooiste deel van hierdie verhaal die feit dat die koning hom die skuld kwytgeskeld het … ter waarde van oor die tien miljoen dollar!! Die vernaamste rede waarom hy dit afgeskryf het was dat, alhoewel die dienskneg beloof het om dit mettertyd te betaal, dit klaarblyklik ‘n onmoontlike hoeveelheid skuld was om ooit in ‘n mens se leeftyd af te betaal. Derhalwe, omdat hy innig jammer vir hom gevoel het, het die Koning hom vir altyd vrygestel … of het hy? Kom ons lees verder … Dit sê onmiddellik in die volgende vers (28), “Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het.”
Begryp jou aan! Jy is so pas kwytgeskeld van tien miljoen dollar skuld en pleks van dit te gaan vier, gaan soek jy ‘n arme drommel wat jou maar 18 dollar skuld! Hy het waarskynlik met ‘n riemtelegram gehoor van die geluk wat jy gehad het en gedink jy gaan hom na die partytjie nooi, toe jy heel onverwags die lewe uit hom wil begin wurg. En wanneer hy jou vra om geduldig te wees en hom ‘n paar dae kans te gee om jou terug te betaal, weier jy en gooi hom in die tronk.
Dit mag miskien nie klink na iets wat jy sal doen nie, maar ek wed jy het dit al voorheen gedoen. Jy sien, as jou sondes deur Jesus vergewe is, was ‘n ongelooflike skuldelas vir jou uitgewis. Enige bitterheid of onvergewensgesindheid in jou hart wat oorbly ná die algehele amnestie wat jý ontvang het, maak jou net so sleg as daardie onbarmhartige dienskneg. Sy onvergewensgesindheid was nie maar net dwaas nie, dit het die hele akkoord met die koning verbroddel!
“En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was.”
Daarna het Jesus hierdie seer hou toegedien… “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.”
Jesus kon beslis homself beswaarlik duideliker uitgespreek het oor hoe ontsteld ons hemelse Vader raak wanneer ons, nadat ons vergewe is vir ‘n ewige sondeskuld, ‘n wrok oor ‘n nietigheid kan koester teen iemand anders “vir wie Christus gesterf het”.
Ek dink dit is ook belangrik om daarop te let dat die skuld wat die koning aanvanklik kwytgeskeld het, nou weer verskuldig was – en ten volle! Hierin sit baie teologiese implikasies; maar aangesien ek geen teoloog is nie (en die aangeduide onderwerpe miskien tans van die neteligste is wat die hewigste gedebatteer word in die Kerk), sal ek volstaan deur te sê, “Wie ore het, laat hom hoor.”
In elk geval, al die voorgaande is bedoel om ons te waarsku dat as ons enigiets in ons gemoed koester teen iemand anders, moet ons gou na daardie persoon gaan en die hele saak in die reine bring. Dit is miskien ons ouers, of ‘n werkgewer, ‘n onderwyser, of selfs ‘n eggenoot of eggenote. Maar met die oog op hierdie gelykenis, is dit vir ons duidelik dat afgesien van hoedanig enigeen ons leed aangedoen het, dit gladnie vergelyk kan word met die vrye gawe van God se kwytskelding van ons sondes nie.
Ons moet daardie vergifnis nie in gevaar stel van ‘n nietigverklaring nie deurdat ons ongehoorsaam is aan die opdrag, “gaan en doen jy net so.” Want die Woord van God sê, “as dit moontlik is, …leef in vrede met alle mense…[want] dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het” (Rom. 12:18; 2 Kor. 5:18). U
deur Generaal William Booth
(vertaal van "How to find God")
William Booth, die stigter van die Heilsleër, het in die laat 1800s in Engeland gewoon en gewerk. Hy het etlike derduisende gekrenkte mense gelei tot ‘n skoon en vrugbare verhouding met die Here. Die stappe wat volg is nie die onbeproefde idees van ‘n dweper nie, maar eerder die wysheid van ‘n man wat God innig liefgehad het. William Booth het ander mense lief genoeg gehad om hulle nie slegs van Jesus te vertel nie, maar om uit te gaan en te daal tot in hulle ellende, vuiligheid en donkerheid om in hulle pyn te deel – sodat hulle op hul beurt kan deel in sy blydskap om God te ken. Dit is vir enigiemand wat ‘n opregte begeerte het om God te vind, moontlik om deel te hê aan die blydskap en vrede wat die Here so vryelik gee aan diegene wat Hom liefhet. Dit is ons gebed dat jy hier sal lees met ‘n oop en ondersoekende gemoed – en dat jy ‘n diepsinnige en liefdevolle verhouding met jou Vader in die hemel sal aanknoop.
VOOR JY BEGIN
Hierdie sewe stappe is vir gebruik deur diegene wat ‘n ernstige begeerte koester om die genade van God te ontvang, wat ál is wat hulle kan verlos van hul slegte gewoontes, van die mag van die duisternis en van die toorn wat aan kom is. Aan hulle wat hier lees gee ek die volgende voorskrifte:
Reserveer ‘n spesiale tyd om hierdie dinge te lees en te oordink – en gaan, indien moontlik, na een of ander stil plek waar jy alleen met God kan verkeer.
Bid ernstig en vra God vir die leiding en voorligting van die Heilige Gees wat Hy belowe het aan almal wat Hom soek. God sal aan jou die Heilige Gees gee as jy vra.
Met jou hele hart, op jou knieë voor God, een stap op ‘n slag. Wees versigtig om nie van die eerste stap oor te gaan na die tweede alvorens jy dit nie volkome verstaan nie; as die volle waarheid aanvaar het; en ernstig ten gunste daarvan besluit het nie. Doen dieselfde met die tweede en derde stap, totdat die laaste stap bereik word.
Nadat hier sorgvuldig en peinsend van begin tot einde gelees is, gaan dit weer na terwyl dieselfde voorskrifte gevolg word.
Ek voel heeltemal seker dat as hierdie kursus gevolg word, geen persoon wat dit opreg bedoel in gebreke sal bly om, nie slegs die genadetroon van God te bereik nie, maar ook die liefdevolle omarming van hul Verlosser en die kennis van die vergifnis van hulle sondes te ervaar.
EERSTE STAP
Romeine 14:23, Jakobus 4:17, 1 Johannes 1:8
Sonde is enigiets wat ek doen wat vir God mishaag – en ‘n sondaar is enigiemand wat daardie dinge beoefen. As ek op enige tydstip myself, my ambisies of my gevoelens as belangriker beskou as vir God, of iets doen wat ek weet dat dit verkeerd is, pleeg ek sonde. Ek weet dat ek ‘n sondaar is. Ek het gesondig teen God, teen my naaste en teen my eie siel. Ek het gesondig in my gedagtes, in my gevoelens, in my gesprekke en in my optrede.
Ek het sonde gedoen in die wêreld, in my besigheid en in my vermaak. Ek het baie dinge gedoen wat ek nie moes nie en ek het nagelaat om baie dinge te doen wat ek moes gedoen het. Ek erken dit vryelik. Ek sal nie my sondes verberg, of daarvoor verskonings voorhou nie. My sondes is meer as wat ek kan tel en hulle het vir God en mens pyn veroorsaak ver bo wat moontlik bepaal kan word. Hulle het my Hemelse Vader oneer aangedoen, die soenoffer van Jesus my Verlosser behandel asof dit waardeloos is en het ‘n slegte invloed gehad nie maar net op my eie familielede nie, maar ook op my vriende en kennisse. Ek besef nou dat ek die ewige misnoeë van God ten volle verdien en ek sien in dat as ek in my sondes sou sterf ek vir ewig van God afgeskei sal wees, gestort in die verdoemenis van die hel. O Here wees my genadig!!!
TWEEDE STAP
Nie net kan ek insien dat ek teen God gesondig en Hom baie leed aangedoen het nie – maar ek het ook werklik berou dat ek dits gedoen het. Ek haat my onheilige weë en ek haat myself daarvoor dat ek daarop gewandel het. Ek is bedroef oor my sondes – nie net omdat hulle my aan straf blootgestel het nie, maar omdat hulle teen my Hemelse Vader gepleeg is wat my voortdurend liefgehad en versorg het. As ek die verlede ongedaan kon maak sou ek dit met graagte wou doen, maar ek kannie! Die sondes wat ek gepleeg het, is teenoor my naam in God se boek opgeteken en Hy ken en onthou hulle almal. Geen gebede wat ek kan aanbied – geen trane wat ek kan stort – geen uiting van droefheid of berou wat ek kan maak – geen goeie werke wat ek kan verrig – sal daardie verskriklike inskrywing wegneem nie. My enigste hoop is geleë in die vergewende genade van Jesus Christus, Hy wat gesê het, “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37).
DERDE STAP
Spreuke 28:13, Jakobus 5:16, 1 Johannes 1:8-9
Ek is nie net spyt oor die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie, maar ook erken en bely ek onvoorwaardelik my sondes voor God. Ek het geen verskoning wat ek vir hulle kan aanbied nie. Dit kan waar wees dat baie van die euwels waaraan ek skuldig is in onkunde gepleeg was. Ek het God nie geken nie, nog minder my verpligting teenoor Hom, of die grootheid van die liefde geleë in my Verlosser se sterwe vir my nie. Ek was onkundig omtrent die sondige uitwerking wat my optrede en voorbeeld dikwels op ander gehad het. Maar hierdie onkunde is geen geldige verskoning nie, want ek moes van beter geweet het. Ek moes my Bybel gelees en geluister het na diegene wat daar was om my te onderrig. Ek moes oor my siel nagedink en God aangeroep het om hulp. Maar ek hét nie – en nou is my mond voor Hom gesnoer. Derhalwe erken ek nou, op hierdie oomblik, en bely ek voor God, dat ek ‘n skuldige sondaar is, sonder verskoning, wat Sy toorn nou en tot in alle ewigheid verdien.
Ek maak hierdie belydenis nie slegs in my binnekamer nie, maar aangesien ek gesondig het in die teenwoordigheid van my familie en in die teenwoordigheid van die mense rondom my, is ek volkome gewillig om openlik my sondigheid – en my droefheid as gevolg daarvan – te erken. Vir sover as ek die geleentheid gegun word, sal ek my skuldigheid voor Christene, voor my eie familie en aan die wêreld erken. Omdat ek nie te beskaamd was om in die teenwoordigheid van ander te sondig nie, is ek nou gewillig om ook in hulle teenwoordigheid my sonde te erken.
VIERDE STAP
Nie net sien ek myself as ‘n sondaar, haat ek my sondes en bely ek hulle voor God en die mens nie, maar nou, met God se hulp, doen ek afstand daarvan en gee ek elkeen van hulle op. Watter genot hulle ook al in die verlede aan my verskaf het en watter aardse voordeel hulle miskien in die toekoms mag inhou, doen ek nou weg met hulle op hierdie oomblik, met die krag wat van God kom, en beloof ek om hulle nooit weer terug te neem nie.
VYFDE STAP
Omdat ek skaam is dat ek van my Hemelse Vader afvallig geword het deur Sy liefde te verag en te verwerp, asook dat ek Sy gebooie verbreek het en ander beïnvloed het om dieselfde te doen, onderwerp ek my op hierdie oomblik in alle nederigheid aan Hom. Ek bid dat Hy my, ellendige sondaar wat ek is, barmhartig sal wees. Ek smeek Hom om ter wille van Christus al my sondes te vergewe, my genadiglik aan te neem en om my, onwaardig soos wat ek is, ‘n lid van Sy familie te maak.
SESDE STAP
Ek belowe God, hier en nou, met die krag van Bo en met my hele hart, dat as Hy my sal vergewe en my genadiglik sal aanneem, ek vanaf hierdie dag en verder sy getroue dienskneg sal wees. Ook belowe ek om vir die res van my tyd op aarde alles in my vermoë te doen om Hom te verheerlik; om Sy Koninkryk te bevordering; en om die liefde van Jesus uit te dra na hulle wat Hom nie ken nie.
SEWENDE STAP
Ek glo dat Jesus Christus, die Seun van God, uit Sy grote genade en liefde, vir my plaasvervangend gesterf het en my sondes in Sy eie liggaam aan die kruis gedra het. En in hierdie geloof verwelkom ek Hom hier en nou in my hart as my Verlosser van sonde, van selfsugtigheid, van die mag van die duiwel en van die hel sigself. Jesus Christus het in die Bybel gesê dat as ek na Hom toe kom, Hy my nooit sal verwerp nie (Johannes 6:37).
En nou kom ek op hierdie oomblik na Hom met my hele hart, as ‘n behoeftige, hulpelose, skuldige sondaar, soekend na redding. Ek weet dat Hy my nie sal verwerp nie. So goed as ek kan glo ek dat Hy my op hierdie oomblik as sy kind aanneem. Hy vergewe my nou. Sy bloed wat aan die kruis gestort is reinig my nou van al my sondes. Hy is ter wille van my oortredinge deurboor; ter wille van my ongeregtighede teenoor Hom en andere gepleeg, is Hy verbrysel; die straf wat ek eintlik moes verduur, was op Hom, en deur Sy lyding het daar vir my genesing gekom en is ek in ‘n regte verhouding met die een ware lewende God gebring. Uiteindelik het ek vergifnis. Loof God – Jesus red my nou! U